PRAAG het ‘n klag teen mnr. Julius Sello Malema vir direkte en openbare aanhitsing tot volksmoord gelê by die internasionale strafhof in Den Haag. Dit volg nadat ‘n skrywe aan dr. Dan Roodt van PRAAG gerig is waarin die nasionale vervolgingsgesag bekendmaak dat hy nie vir Malema in terme van die volkereg gaan vervolg nie. Die klag word deur die bekende sanger, mnr. Steve Hofmeyr, ondersteun.
Julius Malema het sowel die Konvensie oor die bestraffing en voorkoming van volksmoord as die Roomse statuut oortree deur sy liedere “Skiet die Boer” en “Maak die Boer dood” te sing. Albei verdrae, wat deur die Suid-Afrikaanse regering onderteken en bekragtig is, maak “openbare en direkte aanhitsing” tot volksmoord ‘n internasionaal strafbare misdryf.
Indien die internasionale strafhof met die saak voortgaan, kan dit beteken dat Malema uitgelewer kan word om in die Nederlandse hoofstad tereg te staan. Roodt het in ‘n onderhoud met Radio sonder grense gesê dat die Rwandese popsanger Simon Bikindi enkele maande gelede tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis is weens die sing van liedjies waarin hy in 1994 Hutu’s aangemoedig het om Tutsi’s dood te maak.
Roodt meen dat die huidige hofsake teen Malema waarin hy van “haatspraak” aangekla word nie genoegsaam ernstig is nie. “Haatspraak” is ‘n begrip wat ná die tweede wêreldoorlog in Europa onstaan het,” het Roodt gesê. “Dit plaas beperkings op spraakvryheid omdat die uitdrukking van gevoelens tussen etniese groepe daardeur belemmer word. Ook is dit in die Suid-Afrikaanse gelykheidswet opgeneem, hoofsaaklik om as basis vir aanklagte van rassisme jeens blankes te dien. In die Amerikaanse wetgewing bestaan die begrip glad nie. In die geval van Malema het hy egter nie net haatspraak nie, maar ook aanhitsing tot volksmoord, ‘n veel ernstiger oortreding begaan. Dit is waarvoor ons wil hê hy moet aangekla word. Regter Halgryn se uitspraak dat Malema aanhitsing tot moord pleeg, ondersteun dié siening en die getuienis wat in die haatspraakverhore gelewer is, kan ook in die internasionale strafhof gebruik word.”
PRAAG voer sedert verlede jaar ‘n veldtog om die internasionale gemeenskap oor die gevare van ‘n etniese konflik in Suid-Afrika in te lig, asook die diskriminasie wat blankes en Afrikaners onder Suid-Afrikaanse wetgewing moet verduur. In ‘n onderhoud met Radio Jacaranda gister het Roodt gesê dat die aanhitsing waaraan Malema hom skuldig maak, meer universeel erken word as dat apartheid ‘n sogenaamde “misdaad teen die mensdom” was. “Die konvensie teen apartheid van die sewentigerjare is nie deur die Westerse lande onderteken nie. Maar buiten Amerika, Israel en enkele ander lande, het die meeste state die konvensie teen volksmoord, asook die Roomse statuut, onderteken. Die afkeer van aanhitsing tot volksmoord is dus veel wyer as dié van apartheid in die sewentigerjare,” het hy gesê.
Roodt het die publiek aangemoedig om by PRAAG aan te sluit. “PRAAG is die enigste organisasie wat die Afrikaner se vryheidstryd werklik internasionaliseer. As ons sien watter sukses die ANC met dié strategie gehad het, is dit van wesentlike belang.”
Enigeen wat by PRAAG wil aansluit kan op hierdie skakel klik.
