Die Afrika-unie het Woensdag ‘n oproep om ‘n politieke oplossing vir Libië se uitgerekte konflik gedoen. Voorstelle deur dié liggaam is tot dusver egter grootliks geïgnoreer.
Die pan-Afrikaanse blok het ‘n skietstilstand gevra en dat ‘n hoë-vlak bemiddelingspan die geskil probeer bylê, maar sy pogings het min effek op die grond met Westerse magte wat voortgaan met lugaanvalle teen Gaddafi se regime.
“Ek is daarvan oortuig dat slegs ‘n politieke oplossing tot blywende vrede kan lei asook voldoen aan die legitieme aspirasies van die Libiese mense,” sê Jean Ping, die hoof van die AU-Kommissie, die pan-Afrikaanse blok se uitvoerende liggaam.
“Die situasie in Libië bly ‘n ernstige kommer vir ons, vir die toekoms van Libië sowel as vir plaaslike lande,” het Ping op ‘n spesiale beraad Woensdag in Addis Abeba verklaar.
“Ongelukkig is die huidige situasie op die grond en die gebrek aan koördinering van internasionale pogings nie gunstig in die soektog na ‘n oplossing nie.”
Die AU is gekant teen die internasionale militêre optrede teen die Libiese regime en het verlede maand ‘n wapenstilstand voorgestel, wat deur die Libiese rebelle verwerp is. Gaddafi self het egter die plan aanvaar.
Die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, het ook sy oproep vir ‘n wapenstilstand hernu.
