Die broosheid van die samewerking tussen die DA en die OD was vandag duidelik deurdat die Kaapstad-metroraad nie die begroting vir 2011/12 kon goedkeur nie. Die begroting is nie goedgekeur nie omdat alle aanduidings daar was dat ontevrede OD-raadslede daarteen sou stem.
Wat die gebeure meer sensitief maak is die feit dat die DA tans regdeur Suid-Afrika hulself hoog opgee oor hoe die DA Kaapstad gewen het en daar regeer. Dit maak dit moeilik om te verduidelik waarom daar nie vandag ‘n meerderheid was om die begroting goed te keur nie.
Die DA betaal vandag die prys vir hulle leier, me. Zille, se vroeëre voortvarendheid deurdat sy die veelparty-groep, bestaande uit die VF Plus, ACDP, UDM en andere eenkant gestoot het. Die implikasie is dat die DA vandag uitgelewer is deur die onbetroubaarheid van sy nuwe vennoot – die OD.
Die VF Plus was vandag gereed en bereid om sy stem aan die begroting te gee as die stemming sou plaasvind.
