Dit is dalk waarom Bin Laden skielik op Werkersdag – ‘n vakansiedag wat wêreldwyd gevier word, terloops – volgens nuusberigte aan sy einde gekom het en waarom die VSA oor nuwe aanvalle ná die mees gehate terroris se dood bekommer. Die wyse waarop Bin Laden deur spesmagte van die Amerikaanse vloot gedood is, asook die feit dat sy lyk in die see gestort word wat alle tasbare getuienis gaan vernietig, laat talle vrae ontstaan. Is Bin Laden nie reeds vroeër tereggestel en word die aankondiging bloot nou op Werkersdag vir propaganda-doeleindes gemaak nie? Aan die ander kant: hoe het Bin Laden daarin geslaag om vir tien jaar vir die Amerikaners weg te kruip? Die geheimsinnige dood en seebegrafnis van Bin Laden gaan sekerlik die vele samesweringsteorieë rondom 11 September 2001 weereens laat opvlam.
Wat eintlik aangaan, op ‘n meer strategiese vlak, is dat die Verenigde State besig is om sy gedagte oor die Amerikaanse onttrekking te verander. ‘n Uiters onstabiele situasie heers in die streek, en die Verenigde State is bang dat die voltooiing van die onttrekking die onstabiliteit sal laat toeneem.
Die Amerikaanse kommer, natuurlik, het te doen met Iran wat regstaan om die magsvakuum wat ‘n Amerikaanse onttrekking in Irak beteken, te vul. Maar ook met Saoedi-Arabië. Die enigste land wat moontlik Iran se invloed in Irak kan kelder, is Saoedi-Arabië.
Dié land se nasionale strategie was altyd om ongemaklik staat te maak op die Verenigde State. Die openbare mening is fel gekant teen die VSA en Bin Laden was immers self ‘n Saoediër wat groot gewildheid in sy geboorteland geniet het. Maar die leiers weet waar hulle beskerming vandaan kom. As die Verenigde State gesien word as onbetroubaar, het die koningshuis net twee opsies. Een daarvan is om hul posisie te behou en te hoop vir die beste. En dit kan beteken om massa-opstande te trotseer. Die ander is om uit te reik na ‘n immer sterkerwordende Iran.
Die druk van Iran is besig om tasbaar te groei. Al die Arabiese lande voel dit aan, en ongeag hul gevoelens oor die Perse, is die werklikhede van mag nie weg te redeneer nie. Dit is nie duidelik of die Verenigde State ‘n vreedsame oplossing het nie, want die koste van vrede – of beter gestel, hul militêre betrokkenheid – is astronomies. Selfs al bly hulle in Irak aan, sal dit op ‘n klein skaal wees. Daar word gepraat van 20 000 troepe. Die koste van die 170 000 soldate wat daar was, is kennelik nie meer binne die Pentagon se begroting nie.
Bin Laden se dood is ‘n waarskuwing aan die Moslemwêreld dat die VSA ernstig oor sy olietoevoer is. Die vraag is egter of Amerika dit steeds kan bekostig om ernstig te wees. Bin Laden se dood dra dus insgelyks oor dat die VSA nie langer VN-resolusies en formele militêre besettings gaan gebruik nie, maar regstreeks teen verdagte Moslem- of Arabiese leiers sal optree. Ook hul onlangse handeling teen Moeammar Ghaddafi van die insgelyks olieryke Libië waardeur die VSA en Brittanje gepoog het om hom vanuit die lug met bomme om te bring, getuig van die nuwe strategie om “die koppe” van Arabiese lande of terreurbewegings “af te sny”.
