Kunstenaars, skrywers en rubriekskrywers word óf stilgemaak óf belaster, dikwels deur smerige stories oor hul privaat lewens of ongegronde beskuldigings dat hulle “rassiste” is. “Dit wissel van die rubriekskrywer David Bullard tot die sanger Steve Hofmeyr wat deur groot dele van die media verguis is omdat hulle nie deel uitmaak van die kabaal wat ‘die groot saamstem’ in ons land fabriseer nie,” het Roodt gesê. “Die totalitêre gees is springlewendig in Suid-Afrika en word bestendig deur sowel die onbeskaamde kommuniste in die heersende ANC/SAKP as die voormalige sikofante van apartheid, soos Naspers. Paradoksaal genoeg, is dit vandag veel moeiliker om gepubliseer of gehoor te word as wat dit onder die voormalige Nasionale Party-regering was. Indien dit nie vir die internet was nie. sou ons beswaarlik enige media-diversiteit in Suid-Afrika gehad het.”
Roodt het ‘n beroep op “skrywers, sangers, joernaliste en meningsvormers gedoen om sterk standpunt ten gunste van spraakvryheid in te neem. Ons behoort die Suid-Afrikaanse grondwet en alle wettige middele te gebruik om die kruipende eenpartystaat te beveg, asook die monopolistiese, uitsluitende taktiek van die privaatsektor. Regslui behoort ook ‘n bydrae te lewer om persvryheid in die Grondwethof te verdedig en om klagtes teen die mediamonopolie by die Mededingingsraad aanhangig te maak.”
Die leier van PRAAG het hulde gebring aan die digter en filosoof N.P. van Wyk Louw wat in vele opsigte die vader van die “oop gesprek” in Suid-Afrika was. “Reeds tydens die veertigerjare het Van Wyk Louw begryp hoe broos spraakvryheid in dié land is, gegewe ons etniese en rasse-diversiteit. Sy opvatting van die ‘oop gesprek’ het die grondslag vir verdraagsaamheid en intellektuele ondersoek in Suid-Afrika gelê. Dis ‘n verskriklike skande dat die jaarlikse Van Wyk Louw-gedenklesing ook deur regeringsideoloë aan die universiteit van Johannesburg gekaap is. Dit verteenwoordig ‘n bespotting van sy erfenis.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.