Gekwalifiseerdes verlaat Afrika

Minder as 10% van geneeshere wat sedert onafhanklikheid in 1964 in Zambië opgelei is, is nog in daardie land werksaam. Die orige 90% het geëmigreer, hoofsaaklik na Europa en die VSA. In Chicago is daar tans meer dokters wat in Sierra Leone gestudeer het, as in daardie Afrikaland. Daar is ook meer dokters van Benin in Frankryk werksaam as in die hele gesondheidstelsel van Benin.

Hierdie mediese voorbeelde dui maar op een faset van die vaardighede wat die Afrika-vasteland verloor. Daar word gereken dat ’n derde van Afrika se universiteitshulpbronne bestee word aan die opleiding van mense wat daarna na die Weste uitwyk. Hierdie probleme is verlede week in Tripoli bespreek tydens die byeenkoms van die Afrika-universiteitevereniging. Sowat 150 afgevaardigdes van regoor die vasteland het die vergadering bygewoon. Die tema van die byeenkoms was “Die Afrika-brein-kwyn: hoe om dit te bestuur – samewerking met die diaspora.”

Die konferensiegangers moes na skokkende statistiek luister, soos dat meer as 30% van Afrika se gegradueerdes nie meer in Afrika woon nie. Nuhu Yaqub, rektor van die Universiteit van Abuja in Nigerië, meen dat “ontwikkelende lande onwetend ontwikkelde lande gesubsidieer het” deur mense op te lei wat die Weste dan “op ’n goue skinkbord sonder enige koste” ontvang. Gilbert Mdende van die Universiteit van Burundi het ’n ander probleem uitgelig toe hy verduidelik het dat die universiteit oor die afgelope tien jaar 63% van sy dosente verloor het as gevolg van sosio-politieke krisisse. Johnson Ishengoma van die Universiteit van Dar es Salaam het weer aangetoon dat lae salarisse en moeilike werksomstandighede vele van sy akademici ander weivelde laat opsoek het, onder andere die land se kabinet.

Sowat 235 000 professionele mense het Suid-Afrika tussen 1987 en 1997 verlaat. Sedert 1997 het die brein-kwyn die land ongeveer $7,8 miljard gekos. Die Arabiese lande in Afrika verloor op hulle beurt weer 50% van hulle dokters, 23% van ingenieurs en 15% van wetenskaplikes wat in hulle lande opgelei is. Net sowat 4,5% van Arabiese studente wat oorsee studeer, keer uiteindelik na Afrika terug. In Ghana se geval verlaat sowat 80% van dokters die land binne vyf jaar nadat hulle hul kwalifikasie verwerf het.

Andrew Othieno, wat verbonde is aan die Vereniging van die Gemenebes se Afrika-universiteite, het ook die beraad bygewoon. Sy werk behels die skep van vennootskappe tussen die universiteite in Afrika en dié in die Verenigde Koninkryk. Hy was maar bra pessimisties oor die situasie: “ Wat ek tot dusver hoor, is presies waaroor akademici in die Verenigde Koninkryk kla: Afrika-akademici praat oor die probleem, net soos hulle al sedert die sestigerjare maak, sonder om ’n oplossing aan te bied. Dit is soos om steeds oor kolonialisme te kla. Die Britte word moeg om dit te hoor.”

’n Senior Suid-Afrikaanse akademikus, wat verkies het om anoniem te bly, het by hierdie kritiek aangesluit. “Al wat ons gehoor het, is ’n herhaling deur rektore van dieselfde probleem. En tog is dit hulle werk om omstandighede te skep waarbinne akademici kan werk en so behoue bly; hulle kan nie net die probleem stel nie. Hulle kla almal dat politici hulle nie ernstig opneem nie, maar dít is hoekom.”

Othieno het verder uitgebrei deur te vertel dat wanneer Britse universiteite Afrika-universiteite nader oor samewerking op gebiede soos inligtingstegnologie, landbou en gesondheidsake, hulle dikwels geen antwoord ontvang nie. “Ons bied finansiering aan vir watter geriewe hulle ook wil bou, akademiese materiaal, rekenaars ensovoorts. Daar is duidelik ’n gebrek aan behoorlike kommunikasie tussen die Verenigde Koninkryk en Afrika.”

Sibusiso Vil-Nkomo, verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het konferensiegangers vertel dat Nepad se erkenning van tegnologiese kennis en vaardighede “’n onmisbare stimulus vir ontwikkeling is.” Joseph Okpaku het egter gewys op die onmin tussen Afrikalande in hierdie verband. “Die probleem met Nepad is dat jy nie kan saamwerk met diegene met wie jy in kompetisie is nie, anders vind afpersing plaas – en dit is wat gebeur het.” ’n Ontevrede kongresganger het daarop gewys dat Afrika-leiers gefouteer het deur die Nepad-konsep vir goedkeuring aan die G8 voor te lê in plaas van om dit eers aan Afrikane te verduidelik. Die gevolg hiervan is dat Nepad nie werklik aan Afrika behoort nie.

Geen konkrete stappe is in Tripoli aangekondig om die brein-kwyn te besweer nie.

’n Deelnemer uit die gehoor het ’n bydrae gelewer wat die beraad waarskynlik goed opgesom het: “Ek sien steeds geen Afrika-plan vir wat gaan gebeur as die ontwikkelde wêreld ons in die steek laat wat Nepad betref nie – geen plan vir wat ons op ons eie gaan doen nie. Met wie gaan ons dan praat? Bono?”

set jewellerytopcargo кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae