“Een van die plaaswerkers het teen 06:00 op die bakkie afgekom, sowat 1km van die plaas af,” het lt. kol. Hendrik Swart, polisiewoordvoerder, gesê.
Die man het die boer agter die stuurwiel sien sit en ondersoek ingestel toe hy nie reageer nie.
Volgens Swart is die boer (58), sy vrou (39) en twee dogters, onderskeidelik ses en agt jaar oud, doodgeskiet. Die slagoffers is intussen uitgeken as David, Cornel, Mikayla en Cara Theron.
“Die plaaswerker het hulp ontbied en die boer se broer op die aangrensende plaas gaan roep,” het Swart gesê.
Die slagoffer se broer het polisie ontbied.
Met die polisie se aankoms op die toneel is die twee dogters onder ‘n hoop baadjies op die passasiersitplek gevind.
‘n .357-rewolwer is op die boer se skoot gevind.
Die lyk van die boer se vrou is onder ‘n hoop klere agter op die bakkie gevind.
“Dit word vermoed dat al vier die slagoffers met die rewolwer doodgeskiet is,” het Swart gesê.
Op hierdie stadium word geen gemene spel vermoed nie.
Die nadoodse ondersoeke sal in Kimberley plaasvind.
