Soggens as ek my kinders in die strawwe Johannesburgse verkeer skool toe neem, is daar een besondere verkiesingsplakkaat wat my sommer dwars in die krop steek: dié van mevv. Zille, De Lille en ‘n onbekende swart vrou wat kennelik ook ‘n DA-kandidaat is.
In ‘n land waar kwotas op alle gebiede – vanaf sport tot sake of klassieke musiek – geld, kan ‘n mens nie anders as om op te merk dat die DA se hoofverkiesingsplakkaat met sy “godinne drieënig” geen blanke man bevat nie. Nie so lank gelede nie het ‘n Pretoriase feminis teenoor my genoem dat mans een of ander tyd in die toekoms deur spermbanke vervang gaan word. Of liewer, vermoedelik vroulike wetenskaplikes gaan ‘n paar selle van ‘n ander vrou se binnewang af oes, die helfte van die chromosome verwyder en sodoende ‘n manlike spermsel fabriseer wat dit vir vroue moontlik sal maak om voort te plant sonder die lastige tussenkoms van wesens wat nie die toiletsitplek afslaan nie.
Die skryfster Jackie Nagtegaal en haar eggenote Vera het reeds die spermbank besoek vir so ‘n kind met twee ma’s en geen pa. Eers het Vera aan ‘n seun geboorte geskenk en toe het Jackie volgens ‘n berig in Rapport verlede jaar insgelyks swanger geraak.
Hierdie “dapper nuwe wêreld” à la Aldous Huxley wat op ons wag, lê net om die draai. Maar die veelrassige – of is dit nou “nie-rassige” – Amasones van die DA het dit op ‘n manier reeds verwesenlik. Die spreekwoordelike antropoloog vanaf Mars sal by aanskoue van die DA-plakkaat seker wonder presies wat die verhouding tussen die blanke, kleurling- en swart vroue is? Is hulle susters vanuit die nie-rassige toekoms wat geslagloos soos in die romans van die aweregse Franse romanskrywer Michel Houellebecq gekloon is? Of stel hulle ‘n soort poligame gay huwelik van die toekoms voor?
Terwyl die reg op lewe in Suid-Afrika elke dag vertrap word, is ons samelewing besonder attent op allerhande ander regte. Daar is presies tien lande ter wêreld waar huwelike tussen mense van dieselfde geslag wettig is en natuurlik is Suid-Afrika een van hulle. Die res is, in alfabetiese volgorde: Argentinië, België, Kanada, Nederland, Noorweë, Portugal, Spanje, Swede en Ysland. Soos ons kan sien, is die Skandinawiese lande oorverteenwoordig op dié lys.
Terwyl feministe gewoonlik allermins huiwer om die sondes en foute uit te wys van die heteroseksuele man, daardie paleolitiese oorblyfsel uit die patriargale tykdvak wat gelukkig saam met apartheid en kolonialisme heengegaan het, moet ek nog enige kritiek op die poligame leefwyse van ons president, mnr. Jacob Zuma, lees. Op die ANC se verkiesingsplakkate en reusereklameborde langs die snelweë pryk Zuma trouens man-alleen – as so ‘n seksistiese uitdrukking nog in hierdie verligte en bevryde tye geoorloof is – as leier van sy party. Dus geen drievrouskap vir die ANC nie. Vergeleke met die DA, is dit amper Westers, individualisties.
Bygesê: persoonlik het ek niks teen gay huwelike nie. Dié verskynsel is myns insiens vir die Afrikanervolk minder skadelik as rugby of alkohol. En soos die Joods-Amerikaans rubriekskrywer Charles Krauthammer ‘n paar jaar gelede geskryf het, kan poligamie selfs in Westerse samelewings kwalik uitbly as gay huwelike eers gewettig is. Soos Krauthammer dit stel: “Posit a union of, say, three gay women all deeply devoted to each other. On what grounds would gay activists dismiss their union as mere activity rather than authentic love and self-expression? On what grounds do they insist upon the traditional, arbitrary and exclusionary number of two?”
Soos Krauthammer dan ook aantoon, was daar nog nooit in die geskiedenis en nêrens op aarde iets soos huwelike tussen mense van dieselfde geslag nie. Dit is nou tot onlangs in genoemde Westerse lande, asook Suid-Afrika. Daarteenoor bestaan daar veel groter vooroordeel by Westerlinge teenoor poligamie wat histories in die meeste opgetekende kulture meer algemeen as monogamie was. Die Israelse rubriekskrywer, Greer Fay Cashman, het in kommentaar op Krauthammer gemeen dat Israel gerus ook poligamie onder jode kan instel, in weerwil van die 1000 jaar oue verbod daarop onder die Europese of Asjkenazi-jode.
Nie dat Suid-Afrika meer as ‘n Westerse land gereken kan word nie. Daarvoor het ons te veel slaggate in die paaie en voorbeelde van argitektuur wat nie aan bouregulasies voldoen nie. Ook het ons genoegsaam Afrosentries geraak om Jacob Zuma se poligame tradisionele huwelik sonder veel kommentaar te laat verbygaan.
Mev. Zille maak op my ‘n veel meer rare indruk as die goedige Zoeloe-president. Wie en wat is sy? ‘n Liberale sangoma wat in ‘n blou rok toitoi om haar kiesers te beheks? Die simboliek van die drievrouskap spook by ‘n mens, selfs al staan die verkeer nie.
Myns insiens is dit uiters ironies dat die DA, wat amptelik etnisiteit (en dalk geslag?) in sy beleidstukke ontken, so ‘n berekende kwota-agtige verkiesingsplakkaat moet gebruik. Dit spreek allermins van liberale individualisme wat etniese afkoms, taal, kultuur, geslag, seksuele oriëntasie en dies meer as ewekansige toevallighede beskou. Of gebruik die DA ras en geslag op dieselfde manier as wat motorvervaardigers by hul skoue meisies in skrapse kleding aanwend? As die DA se liberale beginsels nie vir sy kiesers aantreklik genoeg is nie, dan stel hulle dalk belang in ‘n regverdige soort kwotastelsel – teenoor die ANC se onregverdige.
Of redeneer ek nou soos – die hemel help ons, om oorlede Koos Prinsloo aan te haal – ‘n blanke man? Verwag ek ‘n logiese konsekwentheid van die DA en ander politieke partye waar emosie en politieke korrektheid veel meer deurslaggewend is?
Enkele jare gelede het mnr. Koos Bekker, besturende direkteur van die magtige Naspers, sy toespraak deur ‘n jong swart vrou laat voorlees, asof hy besef het dat ‘n middeljarige blanke man soos hy aanstoot gee en liewer uit die openbare oog moet bly.
Elke keer as ek oorsee gaan, poog ek om aan Westerlinge oor te dra dat die krisis wat hulle samelewings beleef op ‘n veel ingrypender wyse in die Suid-Afrikaanse samelewing en veral onder ons blankes manifesteer. Die “Westerse masochisme” en selfhaat waarvan die skerpsinnige Fransman, Pascal Bruckner, praat, is by ons al veel verder gevorder as in die meeste lande. Op 18 Mei gaan die meeste Afrikanermans waarskynlik met hul Bloubulhempies, as’t ware bier in die hand, vir die drie liberale sangomas stem.
Oor die afgelope jaar of wat het ek die mees bisarre ervarings beleef. Onlangs het iemand op boerevryheid.co.za geskryf: “Dan Roodt is ‘n slang.” Max du Preez het my op KykNET ‘n “pavement special” genoem, vermoedelik omdat my oupagrootjie aan moederskant, benewens ‘n Boereheld van die Tweede Vryheidsoorlog, ook ‘n Boerejood was. Dus is ek vir Max du Preez, rasonsuiwer. Aan die ander kant het Leopold Scholtz my in Die Burger as ‘n “rassis” getipeer.
Dat daar wel een of ander psigose oor ras en geslag in hierdie land woed, ly geen twyfel nie. ‘n Mens gewaar dit in die TV-advertensies en op die verkiesingsplakkate.
Terloops, die Amerikaanse TV-reeks oor poligamie, Big Love, waarop Charles Krauthammer oorspronklik in Pandora and Polygamy kommentaar gelewer het, het blykbaar verlede maand ná vyf jaar geëindig. Die held van die reeks, Bill Henrickson, wat as fundamentalistiese Mormoon oor drie vroue beskik, sterf in die laaste episode en laat sy drie weduwees as ‘n “gelukkige gesin” agter. En, reg geraai, die skrywers van die reeks oor ‘n fundamentalistiese Mormoonse gesin was twee gay mans.
Amusante vraag: waarom het die ontknoping soveel met die DA-verkiesingsplakkaat in gemeen?
