Die hoofaanklaer van die internasionale strafhof, Luis Moreno-Ocampo, gaan glo ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van die Libiese leier Muammar Gaddafi, sy seuns en persoonlike assistente, versoek het RSG berig.
Die hof sê Libië het beplan om die betogings te beëindig deur burgerlikes te vermoor. Dié planne is beraam nog voordat die opstande in Libië uitgebreek het.
Moreno-Ocampo sê die plan was om aanvanklik traangas te gebruik en as die nie gewerk het nie, sou hulle begin skiet het.
Khaled Kaim, Libië se adjunkminister van buitelandse sake, beskuldig Brittanje intussen daarvan dat hulle die land se grootste olieveld, in Al-Sarir in die suidooste van Libië, Woensdag gebombardeer het.
“Britse vegvliegtuie het op die Al-Sarir olieveld toegesak. Die wagte is op die toneel dood en ander mense wat op die veld gewerk het, is beseer,” het Kaim gesê.
Die aanval het die pyplyn wat Al-Sarir aan die hawe van Tobruk verbind beskadig. Tobruk is onder die beheer van rebelle.
Volgens Mussa Ibrahim, ‘n Libiese regeringswoordvoerder, is dié olieveld onder beheer van magte lojaal teenoor Muammar Gaddafi.
Rebelle het egter Dinsdag die Gaddafi-magte daarvan beskuldig dat hulle die olieveld gemyn het.
