Die Streekleier van die Vryheidsfront Plus in Pretoria, mnr Philip van Staden, het op die uitspraak vroeër die week in die Appélhof gereageer deur te sê dat die Tshwane-metroraad hiervan kennis moet neem en die saak eerder teen Magda Stroebel moet laat vaar. Die Appélhof het beslis dat die Johannesburg-metroraad se besluit om inwoners op straat te laat sit onbuigsaam en irrasioneel is. Van Staden het die Tshwane-metroraad gewaarsku dat die saak teen die Wesmoot Wendyhuise inwoners dieselfde pad kan loop aangesien die grondwet dit baie duidelik stel dat die metroraad verplig is om aan hierdie inwoners alternatiewe behuising te verskaf. Van Staden het ook gesê dat die Tshwane-metroraad veronderstel is om ‘n noodbehuisingsplan in werking te hê om huislose inwoners te kan akkommodeer.
Van Staden het gewaarsku dat die dae dat die metroraad op arm inwoners getrap het, verby is en dat daar eerder gekyk moet word hoe om inwoners te help as om hulle hof toe te sleep en kosbare belastinggeld te vermors.
Die Wendyhuise-saak van die Wesmoot kom weer voor op 7 Junie 2011.
