Mnr. FW de Klerk, die voormalige president van Suid-Afrika, het erken dat hy “’n groot fout begaan het deur summier aan die ANC oor te gee. Ek en Roelf Meyer het onlangs met mekaar gepraat en hy was ook van mening dat ons aanvaarding van die Pretoria-minuut destyds ‘n ramp was.”
Volgens De Klerk het Meyer tydens hul gesprek in trane uitgebars. “Hy was baie emosioneel, want hy voel verantwoordelik vir alles wat vandag in die land verkeerd loop. Veral die tienduisende moorde op Afrikaners en die grootskaalse verkragtings sedert 1994 teister sy gewete. Ons het egter ook gepraat oor wat ons kan doen om die skade te beperk en hoe ons ten minste die oorlewingskanse van die blanke minderheid in die land kan verbeter.”
Die FW de Klerk-stigting ondersoek tans die moontlikheid om die skikking van 1994 te repudieer, ten einde die verskillende groepe in die land weer na die onderhandelingstafel te dwing. “Ons het dié keer regtig wigte en teenwigte nodig,” het De Klerk gesê. “Ons kan nie bloot ‘n ‘tirannie van die meerderheid’ in die land toelaat nie. Dan is dit nie meer demokrasie nie. Ek was ook in verbinding met die Britse eerste minister, mnr. David Cameron, en hy het my aangemoedig om die grondwetlike balans in Suid-Afrika te herstel. Eintlik het ons geen ander keuse nie: Ons moet vandag erken dat 1994 ‘n groteske fout was.”
De Klerk het ook verwys na die tweede referendum wat hy in 1992 belowe het om enige grondwetlike voorstelle eers by die blanke kiesers te toets alvorens daar ‘n magsoordrag sou plaasvind. “Ek weet ek het so ‘n tweede referendum belowe, maar in die geharwar van destyds het dit skoon by my uitgewaai. Maar ons kan nog steeds so ‘n tweede referendum hou. Trouens, ek en Roelf het ‘n afspraak met die Onafhanklike Verkiesingskommissie gemaak en ons beplan om ‘n jaar van vandag af, op 1 April 2012 oplaas die tweede referendum te hou. Die vraag sal eenvoudig wees: ‘Stem u saam dat alle Weermag- en polisietoerusting aan Umkhonto we Sizwe oorhandig word en dat korrupte ANC-politici die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings tot Jesus weer kom moet regeer?’ Ons dink dit gaan ‘n naby uitslag wees, maar waarskynlik gaan die ‘nee’-stem dié keer seëvier.”
Volgens mnr. FW de Klerk kan so ‘n “nee”-stem aanstaande jaar verreikende internasionale gevolge hê en selfs ‘n bewindsverandering in Suid-Afrika veroorsaak. “Ons het onlangs gesien hoe sowel Amerika as Frankryk lugaanvalle op Libië geloods het die oomblik toe daar gevoel is dat die Ghadaffi-bewind nie meer legitiem is nie. Vanweë die grootskaalse korrupsie en geweld in Suid-Afrika is die ANC-bewind ook lank nie meer legitiem nie. Dis nou vir ons om die Amerikaners, die Britte en die Franse te oorreed om ook lugaanvalle op Luthuli-huis en ander setels van ANC-mag te loods.”
Op ‘n vraag of hy dus militêre optrede teen die ANC steun, het mnr. De Klerk ontwykend geantwoord. “Kyk, dis nie vir ons om te besluit of daar militêre optrede moet wees nie. Al wat ons gaan doen, is om referendum te hou. Agterna sal die internasionale gemeenskap moet besluit hoe hy bewindsverandering (“regime change”) in ons land gaan bewerkstellig. Ek is egter vol vetrroue dat die VSA en enkele Europese lande ons nie in die steek sal laat nie.”
Die ANC het by monde van sy woordvoerder, mnr. Jimmy Manyi, gereageer deur te beweer: “De Klerk is besig om seniel te raak. Eers het die Boere die plaas weggegee en nou wil hulle hom terughê? Dis absurd! Die meeste Afrikaners en blankes in die land is baie tevrede, behalwe die regses en meeste van hulle het lankal geëmigreer. Ons gee nie om as ‘n tweede referendum gehou word nie, want die ‘ja’-stem sal weereens wen. Mev. Zille sal ook die ‘ja’-stem ondersteun. Sy is een van ons en het jare lank in die Black Sash teen apartheid en wit oorheersing geveg. De Klerk het nie ‘n kat se kans nie.”
Dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus was nie seker hoe sy party op die tweede referendum sou reageer nie. “Ons sal ons seker vir die ‘nee’-stem beywer, maar ek sal dit met die nasionale dagbestuur van die Vryheidsfront Plus moet uitklaar. Die kalkoene het egter al een keer in die geskiedenis vir Kersfees gestem. Is hulle slim genoeg om ‘n tweede keer teen die ANC-krismis te stem? Dit kan dié kant toe of daai kant toe gaan.”
Op ‘n vraag hoe dit sy adjunkministerspos in die ANC-kabinet kan beïnvloed, het Mulder geantwoord: “Dis nou bietjie voortydig om te reageer. Die Amerikaanse lugmag het nog nie ‘n aanval geloods nie. ‘n Mens moet maar versigtig tusen die klippers deur.”
