Die VF Plus het ook gesê dat die party se slagspreuk vir die munisipale verkiesing, “geen dienste, geen belastings”, fokus op die basiese beginsel dat mense verwag om iets in ruil vir hulle belastinggeld te ontvang, eerder as om mense aan te moedig om belasting te weerhou.
Dit volg op navrae deur die publiek wat die party se plakkate met die slagspreuk raakgesien het.
Volgens die VF Plus se woordvoerder oor finansies, dr. Conrad Beyers, skep die ANC ‘n “magtige minderheid” wat die meerderheid subsidieer met hulle belastinggeld.
‘n Krimpende groep belastingbetalers, tans ongeveer 5 miljoen mense, moet meer as 15 miljoen mense uit ‘n bevolking van 50 miljoen finansieel dra in die vorm van maatskaplike toelaes. Dieselfde situasie geld in munisipaliteite, waar munisipale inkomste deur ‘n relatief klein persentasie inwoners gedek word om die munisipaliteite finansieel te dra.
“Belastingbetalers is bereid daartoe dat ‘n deel van belastinggeld gaan vir armoedeverligting, ontwikkeling van agtergeblewe gemeenskappe en werkskepping, maar hulle eis ook behoorlike dienste in ruil vir hulle geld. Daar begin ernstige ongemaklikheid ontstaan oor hoe die regering die belastinggelde spandeer. Suid-Afrika kan tot stilstand kom indien hierdie magtige minderheid besluit om die hand waaruit die ANC so lustig eet, toe te maak,” het Beyers gesê.
Die VF Plus wil met hierdie veldtog ‘n boodskap aan die regering stuur dat behoorlike dienste aan belastingbetalers sulke toekomstige scenario’s kan verhoed.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.