Sedert Shell sy belangstelling in ‘n skaliegas eksplorasieprogram in die Karoo bekendgemaak het, neem die omvang en venyn van die anti-skaliegas veldtog daagliks toe.Belangrike instansies neem onwrikbare posissies teen skaliegas in deur bloot die populêre groen pers na te praat. Die voorgestelde ontginningspraktyke word as onvermydelik gevaarlik en onaanvaarbaar bestempel.
Aangesien ‘n spanningslyn altyd tussen omgewingsbewaring en ekonomiese ontwikkeling sal bestaan, is die uitdaging dus om omgewingskade met ekonomiese voordele te balanseer sodat aanvaarbare kompromieë gevind kan word.
Dikwels word standpunt ingeneem sonder dat al die tegnologiese opsies ondersoek was. Sommige tegnologieë is dikwels meer aanvaarbaar, maar gewoonlik dan ook duurder om te gebruik. As voorbeeld, word die indruk gewek dat skaliegasontwikkeling noodwendig die ondergrondse waterbronne sal besoedel, a.g.v. die chemikalië wat saam met water in die diep gate gepomp word om die skaliegas vrygestel te kry. Daardie stelling is nie noodwendig die geval nie, en sonder die tegniese insig kan die ontwikkeling van ‘n waardevolle energiebron verwaarloos word.
Dit is bekend dat die oliereus, Haliburton ‘n gevestigde belang het by ondergrondse hidrokraking in die soektog na skaliegas. Hidrokraking is die proses waardeur krake deur ‘n watermengsel in die skalielaminasies gemaak word sodat die gas in die skalie makliker vrygestel kan word. Haliburton produseer groot hoeveelhede chemikalië en hanteer die logistiek daarvan vir hidrokraking. Hulle sien dus uit na die grootskaalse gebruik van hul chemikalië. Dit is presies daardie chemikalië wat die potensiaal het om ondergrondse waterbronne te besoedel en sodoende die kontrei ongeskik te maak vir mens en dier.
Maar daar bestaan ook ander nie-besoedelende tegnologië wat inderdaad die potensiaal bevat om die omgewing te help beskerm, terwyl die ondergrondse energiebronne getap kan word. Een so ‘n tegnologie is om vloeibare Koolstofdioksied (CO2) in plaas van water te gebruik. Die proses staan in Engels bekend as CO2 EGR (enhanced gas recovery) wat ons na CO2 VG (verhoogde gasherwinning) kan vertaal.
CO2 is ‘n ‘n antropogeniese gas wat ondermeer vir aardverwarming verantwoordelik is. Byna 85% van die nuwe CO2 wat jaarliks in die atmosfeer vrygestel word kom van energieprosesse, soos ESKOM se kragstasies en SASOL se GTL aanlegte. Die aangewese weg is dus om van daardie CO2 te tap, te vervloei en vir skaliegas ontginning ondergronds aan te wend.
CO2 is ‘n baie interessante gas. By kamertemperatuur en verhoogde druk vervloei dit maklik na ‘n deurskynende vloeistof, ietwat digter as water en met baie dieselfde viskositeit. Sou die temperatuur verminder word na minus 56.6°C, dan verander die vloeistof in droë ys.
Die Noorweegse maatskappy, Yara International se aanleg by Porsgrunn, vervaardig 300,000 ton vloeibare CO2 per jaar. Spesiale treine, tenkwaens en selfs skepe vervoer die vervloeide gas orals oor Europa, hoofsaaklik vir die koelkdrank – en voedsel bedryf, maar toenemend ook vir CO2 VG in die Noordsee.
In die VSA is reeds baie navorsing gedoen oor die ekonomiese haalbaarheid van ondergrondse berging van CO2. Die sinergie wat bestaan tussen CO2 onttrekking uit die besoedelende uitlaatgasse van steenkoolkragstasies en skaliegas eksplorasie is reeds uitgewys. Boonop sal miljoene rande se koolstofkrediete sodoende verkry kan word.
Natuurlik sal daar logistieke uitdagings wees om die vervloeide gas vanaf die produksieaanlegte by kragstasies na die gastorings te vervoer, en ‘n kombinasie van spoortenkwaens, padtenkwaens en pypleidings kan daarvoor ingespan word.
‘n Verdere aspek is dat die Karoo se skalieformasies waarskynlik relatief homogeen is oor duisende vierkante kilometer. Ontwikkelingskoridors kan dus beplan word sodat die veld nie deur allerhande pypleidings, paaie en spoorlyne oortrek word nie, en dat daardie aktiwiteite tot die bestemde korridors beperk sal word. Horisontale boorgate soos visgrate van tot ses kilometer lank en 500 meter uitmekaar kan dan weerskante van die korridor die skaliegas in ‘n hoofpyplyding versamel en na die kragstasies of brandstofaanlegte neem.
In plaas van om water met chemikalieë en sand te gebruik, kan vervloeide CO2 en sand vir die krakingsproses gebruik word. Dit is glo reeds suksesvol gedoen. So ‘n navorsingsprogram kan deur ‘n Suid-Afrikaanse Universiteit in samewerking met ‘n oliemaatskappy gedemonstreer word. ‘n Geïntegreerde ontwikkelingsprogram kan daarna opgestel word wat holisties na skaliegas ontginning en omgewingsbewaring sal kyk.
Gepaste aansporingsmaatreëls kan ingestel word om CO2 onttrekkingsaanlegte by bestaande kragstasies as aantreklike investerings te bevorder en om CO2 tenke langs die logiese spoorlyne in te rig. Vanaf hierdie tenkplase kan die CO2 per pyplyn of per tenkwaens na die produksietorings geneem word om ondergronds geberg te word en om skaliegas sonder waterbesoedeling te produseer.
Die staat se beleidsraamwerk is ‘n belangrike meganisme om die rigting en volhoubaarheid van ekonomiese ontwikkelings van hierdie aard te bepaal. Energiegroepe soos Sasol of Shell sal dus minder gesteld moet wees op die onttrekking van skaliegas op die kort termyn, en liewer ‘n holistiese benadering te volg wat op die lang termyn volhoubaar sal wees. Om so ‘n program uit te voer sal waarskynlik langer as ‘n dekade neem, maar die gas sal nie skielik verdwyn nie, en waarom die haas?
‘n Vryemark benadering beteken nie noodwendig ‘n laissez faire vestiging van besoedelende produksiestelsels nie. Inteendeel, die vrye mark moet gereguleer word om in harmonie met die plaaslike gemeenskap ‘n gesamentlike doel na te jaag, naamlik om die balans tussen ekonomiese ontwikkeling en omgewingsbewaring te vind en te handhaaf.
Sodoende sal die huidige besoedelende praktyke soos vergiftigde mynwater en omgewingsbesoedeling van steenkoolmyne wat tans elders ervaar word, vermy kan word.
Dit sal waarskynlik meer as vyftig jaar neem voordat voldoende alternatiewe hernubare energiebronne op ekonomiese skaal vir die mensdom beskikbaar sal wees. Tot dan is aardgas die aangewese energiebron, omdat dit baie minder CO2 vir dieselfde energie uitset produseer as steenkool, sonder die potensiaal van kernkragkatasttrofes soos tans in Japan ervaar word.
Laastens, wanneer die skaliegasproduksie gestaak word, kan vervloeide CO2 ondergronds gepomp en vir ewig geberg word om die omgewing verder te beskerm.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.