“Die regering het ‘n verantwoordelikheid om die skerp prysstygings wat die verbruiker te wagte kan wees te versag en moet daarom weer na die belastingheffing op brandstof kyk. Die regering kan nie eens aandui wat hulle met daardie inkomste doen nie. In ‘n parlementêre vraag van adv. Anton Alberts aan die minister van finansies, het die minister aangedui dat die inkomste wat verkry word uit belastingheffings op brandstof bloot in die algemene fiskus gestort word. Dit beteken dat die fondse nie geoormerk word vir vervoer-verwante uitgawes nie. Mens kan dus met geen sekerheid sê of die inkomste gemors word nie. Padverbruikers het ‘n reg op deursigtigheid en sekerheid en daarom is die heffings ongeoorloof,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie gesê.
“Die brandstofprysverhogings is slegs een van vele verhogings van belastings wat gehef word, soos tolhektariewe, die komende verhoging in elektrisiteitstariewe en die moontlike verhoging van rentekoerse later vanjaar. Indien die staat nie ingryp om die algemene belastinglas te verlig nie, gaan die middelklas begin kwyn en daarmee saam sosiale kohesie,” het Alberts bygevoeg.
