‘n Lasbrief is Woensdag uitgereik vir Mdluli se inhegtenisname.
“Ja, daar is ‘n lasbrief uitgereik en die polisie sal daarop reageer,” het kol. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, gesê.
“Ek kan egter nie bevestig waarvoor hy in hegtenis geneem sal word nie.”
Die Mail & Guardian het verlede week berig dat Mdluli en genl. maj. Joey Mabasa, omstrede hoof van die Gautengse polisie se misdaadintelligensie-eenheid, albei ondersoek word nadat hulle glo ingemeng het in die Valke-ondersoek tydens die Krejcir-saak.
“Die ondersoek fokus na bewering op gerugte dat misdaadintellingensie telefoonoproepe van die Valke se lede onderskep het wat betrokke was in die Krejcir-ondersoek,” het die Mail & Guardian geskryf.
Dit word beweer dat hierdie opnames glo later in die hande van Krejcir en sommige van sy vennote beland het.
Mabasa is voorheen daarvan beskuldig dat hy vergaderings met Krejcir by die Michaelangelo-hotel in Sandton gehou het. Beide mans het hierdie bewerings ontken.
Na bewering het Mabasa se vrou en Krejcir se vrou ook saam ‘n besigheid op die been gebring.
Mabasa het beweer dat hy en sy vrou reeds die afgelope 15 jaar geskei is, ten spyte van die feit dat beide dieselfde huisadres gebruik vir die afgelope vier jaar.
Vroeër Woensdagaand het Eyewitness News berig dat Mdlulu gesoek word in verband met ‘n moord wat in 1999 plaasgevind het.
