Die VF Plus het met skok verneem dat die Departement van Kommunikasiewetenskappe aan UNISA van plan is om ‘n voorstel by die universiteit se Senaat in te dien om alle kursusse van hierdie departement vanaf 2012 in slegs Engels aan te bied. Na wat verneem word gaan hierdie aangeleentheid tydens ‘n vergadering van die taalkomitee van die Senaat op 4 April 2011 bespreek word. UNISA se taalbeleid maak tans voorsiening vir Afrikaans en Engels as onderrigmedium.
“Indien die betrokke departement daarmee slaag om Afrikaans as onderrigmedium uit sy departement te verwyder, baan dit die weg vir totale verwydering van Afrikaans aan UNISA. Dit is onaanvaarbaar dat daar teen Afrikaanse studente gediskrimineer word. Hierdie studente onderneem hul kursusse weens bepaalde redes deur korrespondensie-onderrig aan UNISA en het geen alternatiewe universiteit nie,” het Wouter Wessels, VF Plus-jeugwoordvoerder gesê.
Die VF Plus sal dringende gesprekke met UNISA se bestuur rakende hierdie kwessie belê en sal nie skroom om die minister vir Hoër Onderwys te nader vir ingryping nie.
Die departement van Hoër Onderwys behoort die staatsfinansieringsmodel van universiteite aan te pas sodat ‘n tekort aan fondse nie tot die afskeep van meertaligheid aan tersiêre instellings lei nie.
“Die Afrikaanse studente aan die Departement van Kommunikasiewetenskappe is ‘n minderheidsgroep en het in gevolge artikel 29(2) van die Grondwet die reg om onderrig in Afrikaans te ontvang aangesien dit redelikerwys doenlik is. Afrikaans se hoër funksies moet beskerm word. Daar mag nie toegelaat word dat slegs Engels se status aandag geniet en dit ten koste van die ander amptelike tale van Suid-Afrika nie,” het Wessels gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.