Die Vryheidsfront Plus in Pretoria het gesê dat geen enkele opposisieparty die ANC alleen kan wen in die komende munisipale verkiesing nie, maar dat dit wel moontlik is vir ‘n koalisie van partye om die verkiesing te wen.
Die VF Plus het gereageer op aansprake deur die DA in die Tshwane-metroraad dat hulle die verkiesing alleen gaan wen en het gesê dat sodanige valse propaganda tot nadeel van die opposisiepolitiek strek.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid en voorsitter van die party se koukus in die raad, is die DA oneerlik deur voor te gee dat hulle nie ander opposisieparty in Pretoria nodig het om te wen nie.
“In die 2006-munisipale verkiesing het die DA slegs 30% van die stemme gekry en in die 2009 verkiesing het die DA slegs 25% van die stemme in die Tshwane-metrogebied ontvang. Die DA gaan koalisievennote soos die VF Plus en Cope nodig hê om die stad uit die ANC se hande te neem,” het Beyers gesê.
Volgens die VF Plus kan die DA se valse bemarking daartoe lei dat ondersteuners van ander opposisiepartye van die stembus wegbly, wat beteken dat die ANC die verkiesing weer kan wen.
“In ‘n stadsraad waarin slegs die DA en die ANC verteenwoordiging het, sal radikale eksperimente met regstellende aksie versnel en hoogty vier as na besluite in die Pretoria-stadsraad die afgelope vyf jaar gekyk word. Binne 5 jaar sal daar geen Afrikaans of ander minderheidstale, buiten Engels, meer oor wees nie en sal die stad se naam sonder weerstand permanent verander. Belastings sal veelvuldig toeneem net soos in Kaapstad. Kiesers moet vir ‘n party stem wat hulle waardes in die raad sal indra – die DA speel ‘n gevaarlike spel deur kiesers te bedrieg op hierdie manier vir korttermyngewin”, het Beyers bygevoeg.
