Die Suid-Afrikaanse regering het 10 uitruilstudente vanaf Sendai na Tokio geskuif as voorsorgmaatreël vir die kernramp wat in Fukushima dreig, het die departement van buitelandse sake Dinsdag gesê.
“Die studente is veilig, maar word nou na Tokio geskuif as ‘n voorsorgmaatreël ná die ontploffing Dinsdagoggend by die kernkragaanleg,” het Clayson Monyela, departementele woordvoerder, gesê.
Die studente is deel van ‘n uitruilprogram in die noordooste van Japan.
Volgens Monyela is daar sowat 200 tot 500 Suid-Afrikaanse studente in Japan. Geen studente is beseer, vermis of dood in die aardbewing of tsoenami nie.
