Mnr. van Rooyen en sy vrou Marie-Louise is op 3 Maart 2011 by hul plaasopstal deur twee mans aangeval. Mev. Van Rooyen is vasgebind. Mnr. Van Rooyen het in ‘n struweling betrokke geraak met die booswigte waarna hy met sy eie vuurwapen noodlottig gewond is. Die twee verdagtes is kort daarna deur die Randfonteinse polisie vasgetrek.
Volgens Jean Kriek, VF Plus-jeugleier in Gauteng, moet die regering daadwerklike aksie neem om plaasmoorde hok te slaan. “Boere is ons land se lewensbloed – sonder hulle sal Suid-Afrika se landboubedryf en ekonomie ten gronde gaan. Die Malema-generasie moet besef dat boere nie net werk skep nie, maar ook sorg vir kos op die tafel,” het Kriek gesê.
“Die tyd van praat is verby. Die VF Plus-jeug in Gauteng doen dus ‘n beroep op elkeen wat plaasmoorde en plaasaanvalle as ‘n prioriteit sien om saam met ons op Woensdag 16 Maart 2011 om 10:00 by die Randfontein se Streekhof te vergader om ons afsku met hierdie voorval te bewys,” het Kriek bygevoeg.
