“Dit het duidelik na vore gekom dat die Polisie, ten spyte van twaalf kontrole maatstawwe wat onder andere Die Wet op die Beheer van Vuurwapens insluit, min en powere beheer oor hulle wapens het. Die aantal verlore wapens getuig daarvan en dit is ‘n ope vraag of die syfer korrek is en nie dalk baie meer is nie. Die verlies getuig ook van swak dissipline en ‘n argeloosheid in die Polisie betreffende vuurwapens. Daar word van wetsgehoorsame vuurwapeneienaars verwag om absolute beheer en bewaring oor hulle vuurwapens uit te voer, anders word hulle strafregtelik aangekla en vervolg. Die Polisie beskou hulleself blykbaar verhewe bo die reg want lede wat hulle wapens verloor word nie strafregtelik aangekla nie, maar word net weer van ‘n nuwe wapen voorsien. Dit is onaanvaarbaar en lede moet strafregtelik aangekla word en indien skuldig bevind word, ontslaan word. Wapenbeheer in die Polisie is chaoties en daardeur word misdaad bevorder,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder oor Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
