Sasco-optogte

Die Vryheidsfront Plus beskou die feit dat SASCO en die ANC Jeugliga al hoe meer druk op gratis tersiêre onderrig en die nasionalisering van myne plaas, as ‘n bedreiging vir ‘n vrye ekonomie en is van oordeel dat hul eise buitelandse beleggers sal afskrik om in die Suid-Afrikaanse ekonomie te belê.

“Dit is onverantwoordelik van SASCO om gratis tersiêre onderrig as ‘n onmiddellike prioriteit in die huidige ekonomiese klimaat te beskou. Die verbetering van die standaard van basiese onderwys ter voorbereiding van verdere studie, is volgens die VF Plus die belangrikste en ‘n noodsaaklikheid,” het Jan van Niekerk, VF Plus-jeugleier, in reaksie op SASCO se voorneme op landswye betogings vir gratis tersiêre onderwys, wat vir vandag en Vrydag beplan word, gesê.

Die Vryheidsfront Plus is van oordeel dat, indien die standaard van skoolopleiding nie drasties verbeter nie, tersiêre onderrig sinloos sal word. Die swak deurvloei-syfers van instellings soos universiteite sal nie verbeter voordat die algemene geletterdheid van skoliere nie verbeter nie.

Die VF Plus eis dat SASCO nie soos in die verlede deur hul optogte klasse aan akademiese instellings sal ontwrig nie en dat kampusbesture en owerhede pro-aktief sal optree om dit te voorkom. Veral die feit dat SASCO se optogte nie ‘n goeie geskiedenis as vreedsame optogte het nie, behoort aan owerhede ‘n duidelike boodskap van pro-aktiewe optrede te stuur.

Van Niekerk het bygevoeg dat Mbulelo Mandlana, president van SASCO, se stelling “Ons glo nie dat die befondsing vir gratis onderwys van die Heilige Gees gaan kom nie”, onvanpas en onbehoorlik is. Die ANC en sy jeugliga-organisasies gebruik heel te dikwels aanstootlike stellings rakende die Christendom, wat daarop dui dat die sensitiwiteit van die verskeidenheid van die SA-samelewing nie deur die ANC begryp word nie.

осушитель адсорбционныйтопкарго отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae