“Dit is baie goed dat daar nou duidelikheid rondom die datum vir die verkiesing bestaan. Sodoende kan politieke partye, die kieserspubliek en die OVK voldoende voorbereidings tref vir die belangrike komende verkiesing,” het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus gesê.
Die VF Plus doen ‘n beroep op alle stemgeregtigdes om hierdie naweek seker te maak dat hul geregistreer is om in die wyk waar hul woon te mag stem. Indien ‘n kieser onseker is of hy op die regte plek geregistreer is, kan hy sy ID-nommer na 34139 sms.
“Die plaaslike regeringsverkiesing is juis belangrik omdat dit die vlak van regering is wat elke Suid-Afrikaner daagliks direk raak. Kiesers moet gaan stem om sodoende inspraak in dienslewering in hul gemeenskap te kry. As jy nie gaan stem nie – mag jy nie na die verkiesing oor swak dienslewering kla nie,” het dr. Mulder gesê.
Indien opposisiekiesers in groot getalle gaan stem en opposisiepartye werk verstandig saam, kan die ANC weens die proporsionele kiesstelsel sekere gebiede verloor.
