“Die meer as honderd splinternuwe ongebruikte polisievoertuie by Bainsvlei-polisiekantoor (Bloemfontein) wat stof opgaar en nie versprei word aan polisiestasies wat ‘n tekort aan voertuie het nie, bevorder misdaad. Om te beweer die administrasie vir die verspreiding is omvattend en vertraag die proses is onaanvaarbaar en getuig eerder van laksheid en onbevoegdheid. Die feit dat Bloemspruit-polisiestasie nie genoeg voertuie gehad het om na ‘n misdaadtoneel te gaan nie en dat mnr. Hennie Viljoen met klippe doodgeslaan is, bewys dat hierdie vertraging van uitreiking van die voertuie misdaad bevorder,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
“Die Vryheidsfront Plus sal hierdie aangeleentheid direk met die minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, in die parlement opneem en verwag onmiddellike optrede,” het Groenewald gesê.
