“Die VF Plus dring daarop aan dat die regering uitvoering aan die Grondwet moet gee met praktiese en daadwerklike maatreëls om die status van alle amptelike tale te verhoog. Engels word deur slegs 8% van die Suid-Afrikaanse bevolking as hul moedertaal gepraat, maar tog domineer hierdie taal as die medium vir onderwys, regering, besigheid, finansies, wetenskap, uitsaaiwese, gedrukte media, reklame en straat- en ander naamborde,” het Wouter Wessels, VF Plus-jeugwoordvoerder gesê.
Die Verenigde Nasies se Onderwys, Wetenskap en Kultuur Organisasie (UNESCO) het in 1999 die 21ste Februarie as Internasionale Moedertaaldag verklaar. Dit is ter nagedagtenis aan die dag in 1952 waarop studente wat betoog het vir die erkenning van hul taal, Bangla, as een van die twee nasionale tale van die destydse Oos-Pakistan (nou Bangladesh), deur die polisie doodgeskiet is. Die doel van hierdie dag is die bevordering van taal- en kulturele diversiteit.
“Vaardigheid in Engels is van kardinale belang en moet nie afgeskeep word nie. Navorsing bewys egter dat taalvaardigheid in jou eie taal die vaardigheid in ‘n tweede taal vergemaklik en dat skoliere beter presteer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig kry. Dit is onnodig en nadelig om Engels as eerstetaal op Suid-Afrikaners met ander moedertale af te dwing,” het Wessels gesê.
Die VF Plus-jeug doen ‘n beroep op die departement van basiese onderwys om meer amptelike tale te help ontwikkel tot onderrigtale in skole en toe te sien dat artikel 29(2) van die Grondwet wat bepaal dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die
amptelike taal of tale van eie keuse, in die praktyk uitgevoer word.
