Proteas maak nie mooi met Swart Pette

Suid-Afrika se krieketspan het vanoggend (Boeretyd) hulle Nieu-Seelandse teenstanders in Napier, NS, gruwelik verniel en gaap-gaap met 6 paaltjies gewen. Wat die Swart Kepse veral intimiderend moet vind, is dat die volle geweld van Suid-Afrikaanse krieket hulle nog nie getref het nie. Die Proteas het baie silinders en het op almal geloop – net nie gelyktydig nie.

AB de Villiers het in die nadoodse onderhoud gesê die “ouens het bestendig goed gespeel.” Ons sal hom vergewe, want hy is dwarsdeur ’n  goeie makker en ’n  lojale kaptein wat in aanmoediging eerder as kritiek glo. Die ding is net, die ouens het goed gespeel, met rukke, maar geensins bestendig nie. Dié keer het die boulaanval slegs sporadies gevlot, maar die paar boulbeurte wat dinge mooi geloop het, was dit vreesaanjaend en baie indrukwekkend.

De Villiers het die loot gewen en tot die effense verbasing van vele ewe hoflik besluit Nieu-Seeland kan eerste kolf. Die koddige Tsotsobe het sy roetine om skadeloos te lyk en dan ’n  paaltjie te neem voortgesit. Hy het Nicol geskok met ’n bal op die beenskutte vir ’n  onbetwisbare BVP. Daarna het Guptill en McCullum tekere gegaan en die soms ergelose boulery van die Proteas allerverwoestend van bakboord na stuurboord geslaan. De Villiers het vanuit sy kantoor agter die penne freneties gesoek vir ’n  antwoord. Dale Steyn was so dodelik en doelgerig soos altyd maar was dán net nie goed genoeg om ’n  paaltjie te kry nie, en dán te goed.

Wat De Villiers nodig gehad het was ’n  goue arm, presies soos die een wat aan Jacques Kallis se regterskouer geheg is. Die groot en grootse Kapenaar het sy kant gebring. Hy het Guptill in ’n  akkurate boulbeurt aangekeer, eers wyd buite die wegpen met ’n  paar balle en toe een stywer teen die wegpen wat opgebars het van ’n  goeie lengte om ’n  buiterand te vind op pad na De Villiers se mowwe.

Williamson het ingekom en rondgehang voordat hy homself ook met Tsotsobe misgis het. ’n  Vlieënde booghou het rigting Kallis op diepby gevlieg en dié het elke sentimeter uit sy lyf geryg, agteroorgeval en die bal onderskep. McCullum het sy vrolike weg gegaan terwyl Steyn vir Jesse Ryder ontwortel het. Tsotsobe het sy kwartdosyn gekry toe McCullum hom met groot presiesheid na Ontong op middebaan gehaak het.

Daarna was dit die Morné Morkel-vertoning. Die kameelperd het die blad gesien en die blad goedgekeur. Dit het sy natuurlike wip verhewig en die res van die kolwers het suutjies oorgegee. Op ’n gaan-maar-mal blad het hulle die Morkel-missiele te warm gevind. Hulle is almal uit vir 230 op ’n  blad wat laas in 2004 ’n  eerstebeurttelling van minder as 250 lopies opgelewer het.

Amla en Kallis – in die plek van ’n  afgeboekte Graeme Smith – het die kolfwerk vir die Proteas oopgemaak. Kallis het een dryfhou regstreeks uit die handleiding geslaan en toe na vlieë gewaai om onmiddellik daarna agter die penne uitgevang te word. Amla het sy onverstoorbare, vloeiende gang gegaan. Faf du Plessis het die nommer-4 gleuf gevul en slae uitgedeel voordat hy uitgevang is.

JP Duminy, in baie gladder werking as tydens die eerste wedstryd, het saam met Amla warm yster gesmee en het 43 netjiese lopies in 39 balle aangeteken. De Villiers het ingekom en ’n  kalm hand op die boot se roer geplaas. Amla is uiteindelik, na ’n  paar avonture, uit vir 92. Die einde was egter reeds in sig en De Villiers, so onaantasbaar as ooit, en Justin Ontong, het die span huis toe geneem in die 39ste boulbeurt.

Die Nieu-Seelandse gees is duidelik gekneus en dit lyk asof net tien fratsballe hulle in die laaste wedstryd sal red.

Suid-Afrika het die driewedstrydreeks nou reeds gebêre.

Nieu-Seeland kan maar net probeer positief bly terwyl hulle stres oor wanneer Suid-Afrika se krieketmasjien uiteindelik alles reg doen.

Фильчаков прокурор харькова

Kiwi’s goed, maar nie goed genoeg vir SA nie

Vroeg in die vyf-en-veertigste beurt van hulle kolfbeurt (ja, met krieket kry jy beurte ín beurte; dis belangrik en ons kom weer daarby) het Faf du Plessis ’n bal van Nieu-Seelander Kane Williamson haaks na die bykant gestoot om Suid-Afrika se wenlopie aan te teken. Dit het een van die opererende beginsels van krieket – van enige spansport – ingevryf: Vir ’n goeie span om ’n baie goeie span te klop, moet hulle baie goed speel. Vir ’n baie goeie span om ’n goeie span te klop, hoef hulle net goed te speel. En as ’n goeie span net goed speel, is hulle enigste kans om ’n baie goeie span te wen as dié pleinweg vrot speel.

Nieu-Seeland is ’n goeie span en Suid-Afrika is ’n baie goeie span. Gedurende die pasafgelope T-20-reeks het Nieu-Seeland in die eerste een baie goed gespeel, Suid-Afrika het vrot gespeel en Nieu-Seeland het net-net gewen; in die tweede het Nieu-Seeland baie goed gespeel en Suid-Afrika het baie goed gespeel en maklik gewen; in die derde het Nieu-Seeland baie goed gespeel en Suid-Afrika goed en Suid-Afrika het net-net gewen.

Vanoggend (Boeretyd) het Nieu-Seeland goed gespeel, maar dit was nie genoeg nie want Suid-Afrika het ook goed gespeel en maklik gewen. Dít som Nieu-Seeland se penarie teen Suid-Afrika op, ’n verknorsing wat net gaan verhewig hoe meer die spanne teen mekaar speel en hoe langer die wedstryde word. Suid-Afrika gaan vir lang tye triestige krieket moet speel om nie al drie die aankomende toetse te wen nie.

Nieu-Seeland, wat in 2005 laas ’n wedstryd op die Westpac-stadion in Wellington verloor het, het die loot gewen en manhaftig besluit om te kolf – lopies op die telbord, en al dié tipe ding, jy weet. Nieu-Seeland se lopieverkrygingstrategie is eenvoudig: Guptill en McCullum moet groot beurte speel en ’n halfdosyn ander kolwers moet bydra met gewigtige klein tellings. Guptill het nie lus gelyk hiervoor nie; nie teen ’n skroeiende Suid-Afrikaanse openingsaanval deur Tsotsobe, Morkel en veral Dale Steyn nie; nie met ’n blad wat die bal laat opspoeg en laat swaai het nie. Hy maak toe ’n strategiese onttrekking deur ’n Tsotsobe-aflewering saggies en teer op te kerf na De Villiers agter die penne.

McCullum het diep gesluk, goed gespeel en 56 lopies gekry. Williamson het wonderlik gespeel en 55 lopies gekry. En dit was maar eintlik al. De Villiers het sy boulers skrander aangewend en omgeruil en telkens ’n manier gekry om die Kiwi’s te ontwapen net sodra dit lyk asof hulle ’n beduidende vennootskap gekonstrueer kry. Hy het veral vir Steyn gereserveer vir die groot oomblikke – vir die beurtklimaks en tydens die versnelbeurte.

En nou moet ons eers praat oor die begrip “beurte” in krieket. Een van die innoverings van eendagkrieket is in Engels bekend as ’n “power play.” Dit is trosse van vyf of tien beurte waarin veldwerkbeperkings vir die kolwers kans gee om makliker en vinniger lopies aan te teken. Vir die afgelope tien jaar sukkel die Afrikaanse kommentators vir ’n gepaste vertaling. Tans berus hulle in ’n erg onoorspronklike en verbeeldinglose “kragspel” om dit te beskryf. Dit is tog duidelik dat die doel van dié tros beurte nie is om krag te vertoon nie, (nie eens “power” nie), maar om vinniger lopies te maak, d.w.s. om te versnel. So, “power play” is “versnelbeurt.” Hoor ek reeds hoe sê mense vir my dat dit veroorsaak dat daar beurte in ’n beurt is. Ja. Maar dié is daar reeds. Jy kry boulbeurte in ’n kolfbeurt en nou kry jy boulbeurte in ’n versnelbeurt en versnelbeurte in ’n kolfbeurt. Kom ons aanvaar dit nou maar so.

Nieu-Seeland het (vir hulle) ’n baie goeie en (vir Suid-Afrika) ’n baie gemiddelde telling van 253 gebank. Die Kiwi’s het duidelike doelwitte gehad om die Proteas onder dié telling voor te keer, waarvan die vernaamste was om drie paaltjies binne die eerste tien beurte van Suid-Afrika se beurt (sien!) te kry. So gedaan met Amla, Smith en Kallis wat tussen hulle presies 30 lopies aangeteken het. Kallis het gesneuwel met ’n wanberekende trekhou, ’n skoot wat hy meestal sal bêre. Maar Amla, en in ’n baie groter mate, Smith sal moet besin oor hulle eendagkolfbenadering.

Die Moslem het ’n uitstaande kolfgemiddeld en is op meriete gelys as die beste eendagkolwer in die wêreld. Tog is dit asof hy gedring voel om flambojant en aggressief, ongeag die situasie, te kolf. Hy lyk elke keer goed op dreef, en hy is, behalwe vir die irriterende en skadelike gewoonte om sy paaltjie te verloor. Hy doen dit darem op ’n vermaaklike verskeidenheid maniere en vanoggend was dit ’n delikate skramskootjie van kolf na wegpen gekap. Hy sal goed vaar om ag te slaan op daardie vervelige ou geykte wenk: Konsentreer van vooraf meer op die basiese dinge van krieket en die vreugde sal volg. Op die oog af is hy ’n verstellinkie en ’n instellinkie van sy gedugte beste af. Helaas, so is dit nie met Smith nie.

Hy is vanoggend weer op sy ou gunstelingmanier uit met ’n geslote kolfaansig wat ’n bal van die buiterand af glippe toe piets. Ek het nog altyd ’n waardering gehad vir ’n goeie speler met ’n lastige tegniekgebrek – iets soos Paulus se angel in die vlees. Jonty Rhodes moes iets baie soortgelyk as Smith oorwin. Hy het ook ’n oordrewe onderhandgreep gehad, maar hy het uitgewerk hoe om die kwesbaarheid daarvan te beperk terwyl hy die voordele daarvan kon beklemtoon. In die tweede helfte van sy loopbaan was hy die beste beurtafsluiter ter wêreld met ’n gemiddeld van meer as 80.

Smith se kwesbaarheid is besig om sy loopbaan te ondermyn en sy kolfgemiddeld is nou onder 40 (baie goed as hy ’n Kiwi was, maar onaanvaarbaar vir ’n Suid-Afrikaanse oopmaakkolwer.)

Met die Kiwi’s in vervoering oor hulle sukses het AB de Villiers en JP Duminy begin om die kolfbeurt te lap. Duminy het verbete sonder enige noemenswaardige tydsberekening geswoeg. Al dié wroeging was karige betaling om die oorkantste kolfkampie dop te hou, want AB de Villiers het, doodeenvoudig, ’n kolfmeesterklas gegee. Daar is nie nog ’n kolwer tans in wêreldkrieket wat sy spel kan vorm om die situasie te pas soos die SA kaptein nie.

O, daar is ander verwoestende kolwers: Gayle, Sehwag, Warner en deesdae ons eie Levi, maar AB op sy dag kan saam met die beste tonk. Nie een van die ander kan ’n beurt saamstel soos AB nie. Hy het enkellopies gekry waar enkellopies te kry was, ’n vier of twee toe dit nodig was, vier sesse toe die Kiwi’s dit regtig nie nodig gehad het nie. Duminy het uiteindelik die aftog geblaas op 46, wat op ’n manier goeie tydsberekening was, want toe stap Faf du Plessis in. Wat ’n irriterende kolwer om teen te boul! Hy wip hiperaktief rond in die kolfkampie, spring oor na die wegpen en druk die bal om die paaltjies na die bykant toe; bons oor na die bypen en sny die bal deur die wegkant; storm ’n vinnige bal en slaan dit oor die binnekringveldwerker…

Die vorige keer wat Du Plessis en die Kiwi’s mekaar in die oë gekyk het, het die Swart Pette gesmaal, want toe het Faf sopas vir AB in die kwarteindrondte van die wêreldbeker uitgehardloop en daarmee die slag aan die Nieu-Seelanders oorhandig. Dié verkleinering is nie nou meer voor in die Nieu-Seelandse gemoed nie. Daarvoor het Faf hulle te vrolik gestraf vir sy 66 nie uit nie.

Suid-Afrika sou in alle waarskynlikheid 300 lopies of meer kon jaag – Albie Morkel was, byvoorbeeld, nog in reserwe. Maar dit was nie nodig nie. Nieu-Seeland het bloot goed gespeel, en teen ’n baie goeie span soos Suid-Afrika is goed net nie goed genoeg nie.

лобановский александр отзывы

Groen Narre wurg Swart Superhelde

Suid-Afrika het Nieu-Seeland vandag met 3 lopies in die derde en beslissende T20 sloeg-en-giggel In Auckland gewen en daarmee beklemtoon dat die span wat omtrent alles reg doen nie noodwendig ’n  span sal klop wat omtrent heeltemal droogmaak nie. Vra maar vir AB de Villiers en vir Brendon McCullum, onderskeidelik die kapteins van die Proteas en die Swart Pette. Hoe sal hulle hierdie uitslag eendag vir hulle kleinkinders ontleed? De Villiers kan darem nog sy skouers optrek en die klassieke Boy Louw aanhaal:  “Checks the scoreboard.” Maar die arme McCullum is gedoem om vir lengte van dae die derms in ’n  vergeefse ondersoek uit te ryg.

A, hoe fier en vurig was sy netjies jongmanne nie! Daardie smorende balle wat hulle geboul het in uitvoering van daardie doelgemaakte taktieke, en daardie vangskote! en die uithardlopery! En ja, die woeste haakhoue wat hulle geslaan het, en die laserakkurate dryfhoue en die kunstige skephoue.

Daar om hulle teë te staan, was ’n  span wat blykbaar saamgestel is uit die Wie’s Wie van Suid-Afrikaanse Komediante van die Hede en Verlede, van Al Debbo tot Barry Hilton, Tolla van der Merwe tot Marc Lottering, Casper de Vries tot Emo Adams. Ai die kapperjolle!  Daar was AB de Villiers se komieklike briekdans na ’n  onbesonne truveeghou, Justin Ontong wat genoeg tyd onder ’n  hoë bal gehad het om ’n  uiltjie te knip en toe blykbaar net ingedut het toe die bal vanghoogte bereik, Justin Ontong wat so woes na ’n traagbal geswaai het dat sy kolf uit sy hande geskiet en halfpad grens toe grond gevat het, Richard Levi wat vir die grap lae balle oor die grens probeer slaan het totdat hy uiteindelik ’n  vanger se hande getref het…

McCullum het die loot gewen en die Narre genooi om te kolf. Levi, ook bekend as die Man van Staal na sy rekordbeurt oor die naweek, het ’n bal laag en hard oor die grens geslaan en toe, amper onmiddellik ’n  bal laag en hard na ’n  veldwerker geslaan. Albie Morkel het ingekom, ’n  monsterses geslaan en toe ’n  bal van Southee in ’n  vriendelike boog na Nicol geskep.

Die Firma De Villiers en Duminy het toegetree: Die een bekend vir sy grenshoue en die ander vir sy delikate grondspel, en delikaat is die balle wel oor die grond gespeel maar dié keer was dit deur De Villiers terwyl die tenger Duminy die balle herwaarts en derwaarts oor die grens gejaag het. Hierdie was die vals somer te midde van ’n  lang winter vir die Suid-Afrikaners. Hulle het reeds 109 lopies na die 12de boulbeurt gehad en ’n  gewigtige 200-tal was in reikafstand. Maar, nie net was die Proteas komieklik nie, selfs hulle geluk was sirkusmateriaal. De Villiers het ’n  bal só netjies, só presies reguit gedryf, maar Nicol, die bouler, het dit per ongeluk gevang, omgedraai en die aantrippelende Duminy uitgehardloop.

De Villiers het die toere opgejaag met ’n  paar behendige grenshoue en toe probeer hy nógmaals ’n  komiese truveeghou en verrek – wag vir dit! – sy boudspier. Hoe snaaks was dit! Dit het sy gang so belemmer dat hy besluit het om liewer uit te gaan, iets wat hy gereël het deur sy bypen te ontbloot vir Nicol om te tref. Ontong het gekom, sy kolf verder gegooi as wat hy die bal kon slaan, en die arena verlaat.

Johan Botha, wat beter as meeste is om die leidrade van ’n  boulaanval te ontrafel, het stelling ingeneem en saam met Parnell elf skoonballe gespeel, voordat hy uit pure verergdheid die bal oor Guptill se kop wou smeer. Dié het hoog gespring soos Rubberman en sy arm so lang gerek soos Plasticman en die bal gevang op ’n  manier waarop hy geen reg gehad het nie. Praat van super!

Uiteindelik het die spul  hansworse ’n  potensiële telling van 220 afgekerf na 165 op ’n  kolfblad waar 180 as die drumpel beskou moes word.

Al wat hulle nou moes doen, was om ordentlik, konserwatief, op ’n  duimspykerkop, redelik vol buite die wegpen te boul. Nee wat! Dit sou die maklike manier gewees het. Toe boul hulle eerder kort op die bypen. Die Kiwi-oopmakers, Guptill en Nicol, het met groot uitgelatenheid op al dié vrygewigheid geteer en het dig by die 60 lopies in die eerste vyf beurte geslaan voordat Botha vir Guptill verlei het om ’n  bal na Amla te slaan.

Dis  nou net hier wat Jesse Ryder aangestryk gekom het vir deelname aan die slagting en met hom saam, ’n  boeiende storie. Hy, ’n  brutale kolwer, die naaste ding wat die Nieu-Seelanders aan ’n  David Warner het, is vroeër die span verbied omdat hy as te geset en sy houding as te beroerd beskou is. Hy het die gimnasium getref, sy dieet van kaasburgers afgeskaal na geroosterde toebroodjies, en merkbaar skraler en fikser teruggekeer. Dis onduidelik hoe hy sy  houding probeer rehabiliteer het. Wat sy terugkeer meer as enige iets nodig gehad het, was ’n  goeie telling. ’n Halwehonderdtal sou net die ding wees.

Hy het behoorlik onder die koddige Suid-Afrikaanse aanval ingeklim en voor jy woerts! of warts! kon sê, het hy op 49 gestaan, een kort van daardie opskrifwekkende vyftigtal. En hoe verantwoordelik is die man toe nie: In plaas van om dit met een van sy blokhamerhoue oor die grens aan te teken, maan hy homself om dit met ’n  veilige, bedeesde, wyse grondlopertjie te kry. Dit was in die sewentiende boulbeurt en Nieu-Seeland het ’n  speel-speel vyftien lopies nodig gehad om te wen van agtien balle. ’n  Wals!, ’n  promenade!, ’n  skilpadresies tot by die wenpaal.

Johan Botha boul en Ryder, daardie vyftig so groot soos Tafelberg in sy loopbaanplan, druk ’n  bal dié kan toe, kap een terug na Botha, vryf nog een om na die bykantveldwerker… en voor jy weet het hy ’n  hele boulbeurt opgebruik om daardie een lopie te bekom.

Hy kry dit toe wel in die volgende beurt teen Morné Morkel, maar nou is hy en Franklin bewus daarvan dat hulle versigtig moet kolf want die balle loop tog uit. Hulle konsentreer toe so hard dat hulle vier lopies loswurg, en dit sluit die een in wat Ryder gekry het toe Ontong hom laat val het. Ryder se vyftigtal was ’n   baie, baie duur mylpaal. Suid-Afrika was baie gelukkig dat hy nie op 49 uit is nie.

Skielik moes hulle tien lopies in die laaste twee boulbeurte kry, nog steeds ’n  heel verwerkbare takie, maar nou sit hulle in donkierat teen die boulery van Johan Botha vas. Ryder, met die verdwaasde uitdrukking op sy gesig van ’n superheld wat skielik besef die draaiboekskrywer het hom verraai, probeer iets uit niets maak en skep die bal oor sy kop na Morne Morkel, wat, as hy ’n  sirkusnar was, homself in ’n  speelgoedkar sou in- en uitvou vir die skare se vermaak.

Dis die laaste boulbeurt nou, en die bouler van keuse is Marchant de Lange. Hoekom ’n  ervare bouler kies terwyl die ouens so vol sports is? Sewe lopies om te kry. Die Nieu-Seelandse skare is vol moed. Maar so het die Swart Pette se sondes hulle tog ingehaal. Ja, hulle kan kolfblaaie vir hulle soort kolwers, en nog meer, hulle poeierkwasboulers, voorberei. Hierdie kolfblad het egter flink gereageer op spoed en De Lange het genoeg daarvan. Vergeet van volballe of enige finesse. Gee dit gas, en dis al! Vyf balle en twee paaltjies later het Nieu-Seeland ses lopies van die laaste bal nodig. Maar hei, ’n  poets werk op sy beste as hy uitgerek word en De Lange – gedoriewaar, die ou rakker! – boul ’n  voorvoetfoutbal. Dit word vir ’n  lopie gedryf en die Proteas moet ophou ten hemele jubel en die bal moet weer geboul word. Die Kiwi’s kort nou net vier… en dit in ’n  land en ’n  reeks wat sesse soos druppels uit ’n  gieter geval het.

Vinnig, jy weet, en kort. Vergeet die finesse. Mis!

En die Narre het die laaste lag… en lag, en lag, en lag.

Ek wil nou nie sê ek het verlede week aangedui dat die Proteas die laaste lag – en dit ’n  lang een, dwarsdeur die Eendag- en Toetsreeks – sal hê nie. Maar ek hét so gesê.

Die ligsinnige gordyntrekker is verby.

Laat die krieket begin!

Олександр Васильович Фільчаков

SA Leviatan verslind 11 Kiwi’s

Vir die eerste helfte van vanoggend se T20 kriekettoets het die Nieu-Seelanders soos ’n miljoen dollars gelyk en die Proteas soos ’n gekreukelde R20-noot. Dis toe dat ’n blonde blanke jong Kapenaar, gebou soos ’n loskopstut, sy kolf getrek en die veld geneem het. Sestien boulbeurte later was daar van die swierige Swart Pet net rokerige rafels oor. Die Kiwi’s, soos op hierdie webblad voorspel, het nie geweet wanneer om bekommerd, baie bekommerd, te raak nie. Nou weet hulle.

Hulle selfversekerdheid was opgepomp deur ’n  wegtoetsoorwinning oor ’n Aussie span wat nog aan bomskok gely het na hulle toer Suid-Afrika toe, en ’n afknouery van ’n span uit daardie krieketsterfabriek genaamd Zimbabwe. Boonop het hulle Suid-Afrika – wat aan ’n wêreldbekerdroom gestik het – in hulle laaste EDI-wedstryd uit daardie toernooi geboender. Al wat dit nog geverg het om vir hulle ’n  algehele oorskatting van hulle eie kolf-en-balvoortreflikhede te gee, was om ’n slofvoetende Suid-Afrikaanse span in die eerste T20 ’n paar dae gelede te klop. Maar nou is hulle weer herinner aan wat dit is om teen ’n regte span te speel.

AB Div het die loot gewen en die bal aangevra. Suid-Afrika, op soek na ’n werkbare beurteindeboulaanval het vir Wayne Parnell in Rusty Theron se plek betrek – en hulle moet seker nou besef dat dáár nie vreugde te vinde is nie. Die Suid-Afrikaanse boulers het vir Guptill, en later Brendon McCullam met lui balle weerskante van die penne gevoer en die kolwers soos wêreldkloppers laat lyk. Die geheimenis rondom Johan Botha se weglating teen die Sri Lankane het verdiep, want hy was die één bouler wat raaisels aan die Nieu-Seelandse kolwers gestel het wat hulle nie kon uitwerk nie. Sy variasie en beheer het die kolwers verfonkfaai.

Die ander boulers het lekkernye aangedra en die kolwers het gevreet, en as daar ooit ’n  krieketveld is om op baldadig – verskoning! – te raak, is dit Seddon Park in Hamilton. Nieu-Seeland maak mos eintlik vir net een sport voorsiening – rugby, en die Kiwi’s moet voetbalvelde vir krieketwedstryde gebruik. ’n Gesmeerde krieketbal trek verder as ’n  rugbybal wat selfs deur Frans Steyn geskop is. Terwyl die Nieu-Seelanders gehalleluja het oor al die sesse wat hulle slaan, het dit hulle betaam om te onthou dat ’n ses haaks van die paaltjies maar net meer as vyftig meter moes trek om ’n skaduwee oor die grens te trek.

Na ’n heroïese gesloegery deur Nieu-Seeland het hulle 173 lopies – kan dit wees na al daardie gemoker van swak balle oor kort grense? – ja, 173 lopies.

Trek die gordyn weg vir die Tweede Bedryf. In stap die breë Richard Levi. Die Nieu-Seelanders het ’n plan teen hom: Boul vol op die bypen. Dis ’n swak plan, swak geïmplementeer. Levi swaai na alles wat hy sien met al die subtiliteit van ’n  houtkapper wat ’n baie dik boom voor sonsondergang probeer afkap. Sy eerste treffer is ’n skramsskoot; die bal ontmoet die kolf op die buiterand – en skoert oor die grens vir ’n ses. Daarna is dit voltreffer na voltreffer en die een bal na die ander word oor die bykantgrens versend.

Levi het ’n goeie oog, wonderlike tydsberekening, dik gewrigte en kort arms, m.a.w. hy het die presiese bouvorm van ’n balslagter. Kort arms gee die kolwer ’n kleiner swaairadius, wat beteken hy het net ’n snars meer tyd om sy hou aan te pas want die kolf kom net daardie bietjie vinniger op spoed. Omdat die swaairadius kleiner is, is die kolf langer op die onderskeppingsvektor. En so: David Warner van Australië; Eoin Morgan van Engeland. En nou, Richard Levi van die Proteas.

Hy was eenvoudig brutaal. Die balle wat nie met die trajek en hoogte van ’n  reënboog oor die grens is nie, het laag en vlammend soos ballistiese missiele oor die tou geskroei.

Aan die anderkant het Stem-in-die-Bos Amla met dié benadering geëksperimenteer en summier gesneuwel toe hy nie die bal oor die binnekring by halfweg kon slaan nie. Wayne Parnell het as mokerman ingestap, ’n mooi vier geslaan en toe homself soos ’n koeksister geknoop in ’n vergeefse poging om terug te kom in sy kolfkampie nadat hy ’n  woerbal van Nicol tegemoetgehuppel en heeltemal mis geslaan het.

AB de Villiers het ingestap gekom en ’n duidelike kolfplan met hom saam gebring: Hy sou Levi die slaanwerk laat doen, homself insout en dan die kastyding oorneem sodra die aanvangskolwer sy stokke verloor. Maar Levi het nie die plan mooi verstaan nie en aangehou om die huls van die bal af te slaan.

Al Nieu-Seeland se ruiters en al Nieu-Seeland se manne het saam 9 sesse geslaan; Levi het dertien alles op sy eie gefoeter. Dit is ’n nuwe wêreldrekord, drie meer as die verwoede Chris Gayle se beste. Hy het die vinnigste T20-toetshonderdtal in die boeke geskryf – 0-100 in 45 balle. Sy telling van 117 ewenaar die beste ooit, ook van die kolf van Gayle, maar omdat hy nie uit is nie, is hy nou bo-op die piramide.

Die nare waarheid het seker nou tot selfs die Nieu-Seelanders deurgedring. Hulle kan hulleself verder mislei deur te dink die Proteas is ’n span met Levi of niks. Leer sal hulle van vooraf leer van Amla, De Villiers, Morkel, Albie, Botha en selfs Duminy, almal manne wat ’n bouloffensief kan aanval met die doel om ernstige skade aan te rig. En wanneer die boulaanval uiteindelik sinchronisasie bereik, sal die Swart Pette ’n paar meelbomme of een van hulle  rugbyskeidsregters nodig hê om hond haaraf te maak.

Die eksterne aanslag op hulle en die interne druk van oorprestasie het die Nieu-Seelanders uiteindelik ingehaal.

En dit is hoe kuikenmoord begin.

topcargo

Verwoede Swart Pette verslaan lustelose Blommies net-net

Nieu-Seeland se Swart Pette, hulle nasionale krieketspan, het die openingstrofe, die eerste T20-wedstryd van die Proteas se toer, fluit-fluit gewen. En as die oorwinning nie reguit na hulle gloeiende hoofde gegaan het nie, en hulle enigsins ’n  in staat tot ’n  nugtere ontleding van die wedstryd en hulle vooruitsigte is, sal hulle hard en verbete fuif… en onrustig gaan slaap. Hulle kommentators het die trompette teen die lippe, eenparig in hulle mening dat Nieu-Seeland nou “heel bo-op” die kriekethoop is. Hulle “het nou momentum” en daar word vergesigte gesien van oorwinnings in die T-20-, eendag- en toetsreekse.

Wel, nou ja, ’n  T-20 swaeltjie maak nie ’n somer van ’n  toer nie. En eerlikwaar, ek bedoel… T20! Dit is krieket op tik, ’n  balspeletjie vir toeskouers wat sukkel met aandagafleibaarheid. As daar ’n  wyse gryse in die raadsale van Krieket Nieu-Seeland is, drup hy vanaand regoor die Swart Pette se oorwinningskolwyntjie.

Hy sal hulle herinner teen wie hulle speel – en daarmee nie noodwendig wys op Suid-Afrika se (veelvuldige) voortreflikhede nie, maar hulle rare swakpunte. Hy sal verduidelik dat Suid-Afrika elke reeks – hier, daar of waar ook al – sleepvoet begin. Wat veroorsaak dit? Nugter weet en nugter gaan nie sê nie, maar gee die Proteas se span ’n  week af en hulle verval in ’n  winterroes. Vandag, in Wellington, was dit weer so. Hulle was soos ysbere wat na hibernasie verskyn, slegte smaak in die mond, pelse wat loshang, slaapklonte wat in die hoeke van die oë koek. En so speel hulle toe sulke gaap-gaap krieket terwyl hulle  hulleself as’t ware onder die armholtes krap en met slaapstramoë die toneel om hulle met min belangstelling betrag.

Die Swart Pette, daarenteen, verdien elke klop op die skouer. As hulle uit ’n  grot gekom het, was dit met ’n hongergrom op die lippe, blitsende strale uit die oë – gretig vir geweld, lus om bloedige happe vleis te verorber. Hulle het alles reg gedoen, en dit teen volspoed. Eers het hulle die loot gewen en die lomerige Proteas genooi om eerste te kolf. Dit is wat jy doen as daar op ’n  ingelegde kolfblad gespeel word. Hierdie een is ’n  paar kilometers van die stadion voorberei, op ’n  sleepwa gelaai en na die rugbystadion aangery. Daar is ’n  langwerpige vlak graf voorberei en die blad is netjies daarin geïnstalleer. Die probleem is, so ’n  blad het nie ’n  geskiedenis nie en dit is moeilik om te weet hoeveel lopies genoeg sal wees. Om ’n  teiken op so ’n  blad te jaag is tot voordeel van die jaers.

Suid-Afrika se kolfbeurt was, met die uitsondering van ’n  paar stroke, uit die oude doos – d.w.s. so uit die Kepler Wessels-handleiding van 1992. Die kolwers het nie die bal geslaan nie; hulle het dit gepor. Waar T20 krieket woeste swaaihoue vereis, het die Proteas delikate pietshoutjies aangebied, soos ’n  skynswaardgeveg in ’n  balletuitvoering. In plaas van innovering was daar korrekte, tegniese krieket – soos dit op die meerdaagse toetsveld hoort. Die een kolwer wat skynbaar vroeër as die ander ontwaak het, was ou Stem-In-Die-Bos, Hashim Amla. Hy het die ernstige Kiwi’s se balle lustig rondgekletter voordat hy op 19 uitgehardloop is na ’n  supermenspoging deur Martin Guptill.

Colin Ingram het uitgeslof gekom, befoeterd soos ’n  tiener wie se middagslapie deur iets so beuselagtig as ’n  internasionale krieketwedstryd onderbreek is. Hy het nie net verskrik nie, maar ook glad nie lus om daar te wees nie, gelyk en het sy paaltjie met onbehoorlike haas weggegooi. AB de Villiers en JP Duminy het hulleself ingegrawe asof dit vir die duur van die winter is, asof dit die eerste sessie van ’n  tydlose toets was. De Villiers het genoeg selfrespek gehad deur vroeg uit te gaan eerder as om almal se tyd verder te mors. Duminy het beurt na beurt sulke fraai, geslepe krieket gespeel en gelyk asof hy onder die indruk was dat die planeet sou ontplof as hy ’n  bal tot by die grens slaan.

Uiteindelik het Vernon Philander darem sy moer skuins gedraai en vier agtereenvolgende sesse van ’n  hopelose wegdraaibouler – wie se naam onbelangrik is – oor middebaan in die skare in te slaan.

Die Proteas het verbete gekeer dat enige vennootskappe tussen hulle lede sou ontstaan en dit gedoen deur ritmies hulle paaltjies weg te gooi. Die sawwe begin het tot ’n  einde gekom met Johan Botha en Albie Morkel in die kolftuig. Botha die Vernuftige het ’n  paar vernuftige viere geslaan.

Die Nieu-Seelanders het voortgegaan om alles reg te doen. Sowat van balle op die tiekie naby die kolfstreep, sowat van sissende draaiballe en knallende snelballe… Hulle het alles gevang wat gevang moes word en die penne raak gegooi toe dié getref moes word. En hier is die verstommende ding: Nadat hulle alles reg gedoen het, en die Proteas skaars ’n  paar dinge skaflik gedoen het, het Suid-Afrika 147 lopies op die telbord gehad.

Die Swart Pette het hulle vorm in die tweede skof behou. Al het hy ’n  naam soos ’n  skadelose siertenkvissie, het Martin Guptill elke bal binne trefafstand venynig en sekuur raakgeslaan. Die Proteas het eweneens húlle vorm behou. Die boulers het kort en wyd geboul, die veldwerkers was elke keer nét uit posisie of te traag om regtig te hardloop vir vangskote. Guptill, en Brendon McCullum in ’n  mindere bate, het krieketballe soos ’n  meteorietstorm op die stadion uitgegiet.

En nadat hulle alles tot die beste van hulle vermoë en met groot verbetenheid gedoen het, en die Proteas met dubbel die entoesiasme bloot traag sou gelyk het, moes die Swart Pette nog ses lopies in die laaste boulbeurt kry om te wen. Dit hét hulle teen Johan Botha gekry, maar dit is juis dít wat die Nieu-Seelanders vir die Rennies sal laat gryp. Nadat hulle hulle absolute, onafgebroke beste gelewer het, en nadat die Proteas onverpoosd triestig was, was daar uiteindelik bitter min verskil tussen die spanne.

Die Nieu-Seelanders is soos ’n  klein motor met ’n  klein, hoëwerkverrigtingenjin – hulle kan meeding as elke onderdeeltjie presies reg werk en hulle sonder onderbreking teen die hoogste toere anderkant die rooilyn ry. Die Proteas, daarenteen, is ’n  V8 wat, sonder om te probeer of om die enjin te oorspan, rondte na rondte teen onbehoorlike spoed kan ry.

Die Nieu-Seelanders het amper die volmaakte wedstryd gespeel. Hulle kan nie beter nie. En die Proteas kan nie vrotter nie. En glo my, hulle sal nie.

Die Nieu-Seelanders het verlede jaar die Rugby Wêreldbeker gewen. Mag dit vir hulle genoeg wees. Want hulle gaan nie nog ’n  krieketwedstryd teen Suid-Afrika wen nie; nie hierdie somer nie.

  • Suid-Afrika: 147/6 na 20 boulbeurte. Duminy 41, Ontong 32
    Southy 3 paaltjies vir 21.
  • Nieu-Seeland 148/4 na 19.4 boulbeurte. Guptill 78*, Williamson 24
    Duminy 1 paaltjie vir 20.

Фильчаков

Ons leliewit Proteas

Afgetrede regter Chris Nicholson se ondersoek na die stand van Suid-Afrikaanse krieket het baie vrae rondom verskeie vooropgestelde idees wat Suid-Afrikaners oor die sport huldig, te berde gebring.

Die suksesse van die Proteas se Toets- en eendagspanne is baie duidelik die samestelling van die span, maar die voormalige KSA-president, Norman Arendse, se getuienis aan die Nicholson-komitee by Pretoria se Loftus Versveld het dit oor rassevooroordeel wat krieket kortwiek.

Arendse het ‘n striemende rasaanval geloods teen die wit span en KSA se uitvoerende swart hoof, Gerald Majola, wat weier om krieket te transformeer en as lakei van wit belange optree.

Ten spyte van KSA se aansprake tot die teendeel oor byna twee dekades, dui die getuienis volgens Arendse daarop dat die ontwikkeling van krieket, veral in benadeelde swart gemeenskappe, ook in groot moeilikheid is.

Arendse, wat vanaf Junie 2007 president van KSA was, totdat hy in September 2008 bedank het, het Majola beskryf as die “skans” teen diepgaande rasse-transformasie in die sport oor die algemeen, en die nasionale span, veral.

Arendse, wat rassetransformasie tydens sy stormagtige ampstermyn as president meedoënloos gedryf het, het gesê hy het ten minste twee keer uitgeval met Majola oor die rasse-samestelling van die nasionale span. KSA wou toe ‘n minimum van sewe swart spelers in ‘n Proteaspan sien.

Dinsdag, het Arendse aan die komitee gesê Majola het vrees onder borge, die media en KSA-elemente dat transformasie tot die verswakking van die Proteas sal lei, gebruik om sy mag te konsolideer binne die organisasie.

Arendse het ook beskryf hoe Majola “by twee geleenthede” besluite wat hy gemaak het, omgekeer het. Die eerste was, toe die span teen Bangladesh aangekondig is met slegs vyf swart spelers, eerder as die vereiste sewe.

Arendse het gesê dié gedrag is simptomaties van die “Frankenstein monster” wat Majola oor die jare geword het as uitvoerende hoof met die ongebreidelde magte.

Arendse sê by ‘n ander geleentheid het die KSA-raad ‘n besluit geneem om die Proteas se voormalige afrigter, Mickey Arthur en die kaptein, Graeme Smith, te verwyder uit die Proteas se keurkomitee omdat hulle wit is. Majola het dit omgekeer.

Regter Chris Nicholson, het bevestig dat hierdie en ander inligting oor krieketbase se bonusse deur Arendse “van kardinale belang vir hierdie ondersoek” is.

топкарго развод

Proteas blom met besige tydjie wat voorlê

Die Proteas het die eerste toets teen Wes-Indië op die vierde dag van die wedstryd wat in Trinidad gespeel is, in die sakkie toegeknoop. Die Wes-Indiërs is met 163 lopies met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Dale Steyn, wat met sy vyf paaltjies in die eerste beurt sy 200ste toetspaaltjie platgetrek het, is met ‘n wedstrydontleding van agt vir 94 as die man van die wedstryd aangewys.

Iemand wat egter self in aanmerking moes kom, is die tuisspan se Sullieman Benn, wat self agt paaltjies platgetrek het, maar ‘n honderd lopies meer as Steyn afgestaan het. Benn het ook ‘n rekord agste paaltjie vennootskap van 66 lopies teen Suid-Afrika met Shane Shillingford gedeel.

Die Wes-Indiërs het die wedstryd sonder verskeie van sy topspelers aangepak.

Intussen het Krieket SA ‘n besige program vir die Proteas aangekondig. Drie toetse word teen Indië gespeel, onder andere een in die nuwe Moses Mabhidastadion in Durban om die 15oste herdenkingsjaar van die aankoms van Indiërs in Suid-Afrika te vier. Indië word ook in vyf eendagwedstryde die stryd aangesê, Zimbabwe in drie, en dan word Pakistan in vyf eendagwedstryde in die Verenigde Arabiese Emirate die stryd aangesê.

By die wedstryd in die Moses Mabhidastadion word die nuwe kompetisie om die Krish Mackerdujtrofee geloods, en die grootste skare verwag wat nog ‘n krieketwedstryd in Suid-Afrika bygewoon het.

to winФильчаков Александр Васильевич

Krieket: As die stert die hond swaai

“Die stert swaai nou al te lank die hond.”

 

So stel ‘n sportskrywer die situasie waar die Proteas se senior spelers skynbaar so magtig geword het dat die afrigters deurentyd op dun ys en die keurkomitee die trekpas gekry het.

Die boodskap is skynbaar: Vat aan Graeme Smith, Jaques Kalis en sy boesemvriend Mark Boucher, en jy is in die sop.

Dié situasie skep veral in Pro-20-wedstryde probleme wanneer een of meer van die toporde-spelers nie die lopiekraan oopgedraai kry nie, en uiteindelik van Albie Morkel verwag word om die onmoontlike reg te kry.

Al hoe meer vrae word oor Smith se kapteinskap gevra.

Toegegee, Suid-Afrika se krieket- en rugby-ondersteuners is enkeldimensioneel. Solank hul spanne wen, is alles klop-disselboom. Verloor hul span egter, is die lang messe uit en word vir lykskouing ingespan.

Wanneer ‘n patroon egter ontwikkel, kan leunstoelkritiek egter nie onder die mat ingevee word nie.

Die probleem kan basies soos volg opgesom word: Te veel sektorale belange moet gedien word. Daar moet ten eerste nie aan die senior speler-Sanhedrin getorring word nie, kwotas moet in die oog gehou word, gekontrakteerde spelers moet speelkans kry en oplaas, in krieket is dit noodsaaklik dat jong vormspelers die aansporing van blootstelling kry. Vir laasgenoemde is daar, veral in wêreldbekertoernooie, nie nog plek ook nie, met die gevolg dat te veel spelers wat die kluts kwyt is, weens die ander belange die wa deur die drif moet trek.

Vandat AB de Villiers die handskoene teen die Wes-Indiërs by Mark Boucher oorgeneem het, wen die Proteas weer. AB is ongetwyfeld ‘n beter paaltjiewagter as Boucher, en die keurders kan as AB agter die paaltjies stelling inneem, nog ‘n spesialiskolwer inspan, Boucher se geskiedenis met die kolf ten spyt.

Spelers wat groter as die spel geword het, het die Bafana Bafana lank in die woestyn laat beland. Eers toe die prima donnas van die koring geskei is, kon aan die span se vertoningslys gewerk word. Krieket, so lyk dit, is nou by dieselfde kruispad.

подсветка дляпрокурор Фильчаков

Van Zyl bly aan as afrigter

Krieket SA het Vrydag aangekondig dat Corrie van Zyl tot April 2011 sal aanbly as waarnemende breier van die Proteas.

Van Zyl is as waarnemende afrigter van die Proteas aangestel ná die skielike bedanking van Mickey Arthur verlede maand.

Die raad van Krieket SA het ook na afloop van hul jaarvergadering gesê dat Graeme Smith sal voortgaan om die Proteas te lei tot aan die einde van volgende jaar se Wêreldbeker in die Wes-Indies terwyl Jacques Kallis as onder-kaptein aangestel is.

Ses nuwe spelers is ook tot die lys van kontrakspelers vir die 2010/11 seisoen bygevoeg. Hulle is Loots Bosman, Alviro Petersen, Charl Langeveldt, Ryan McLaren, Roelof van der Merwe en Rusty Theron.

Kontrakspelers vir die Proteas in die 2010/11 seisoen is: Graeme Smith (kaptein), Jacques Kallis, Hashim Amla, Lungile (Loots) Bosman, Johan Botha, Mark Boucher, AB de Villiers, Jean Paul Duminy, Herschelle Gibbs, Paul Harris, Charl Langeveldt , Ryan Mclaren, Albie Morkel, Morne Morkel, Makhaya Ntini, Wayne Parnell, Alviro Petersen, Ashwell Prince, Dale Steyn, Rusty Theron, Lonwabo Tsotsobe, Roelof van der Merwe.

наборы детской косметикиФильчаков Харьков

Bepalende toets vir Indië

Die kolwers Suresh Raina en Dinesh Karthik is ingesluit by Indië se span vir die bepalende toets teen die Proteas wat Sondag in Kolkata begin.

Die snelbouler Shanthakumaran Sreesanth is ook ingesluit in die span wat die Indiese Krieketraad (BCCI) Dinsdag aangekondig het.

Indië het die eerste toetswedstryd in Nagpur met ‘n beurt en ses lopies verloor.

Dié span sal die tweede toetswedstryd in Kolkata moet wen as hulle hul status as nommer een toetsspan in die wêreld wil behou.

Die span is: Mahendra Singh Dhoni (kapt), Virender Sehwag, Gautam Gambhir, Murali Vijay, Sachin Tendulkar, Venkatsai Laxman, Subramaniam Badrinath, Harbhajan Singh, Amit Mishra, Zaheer Khan, Shanthakumaran Sreesanth, Ishant Sharma, Pragyan Ojha, Dinesh Karthik, Suresh Raina.

светильник подвесной черныйФильчаков прокурор отзывы

Mickey Arthur bedank

Suid-Afrika se krieketafrigter, Mickey Arthur, het bedank,het die SABC Dinsdag berig.

Arthur het sy bedanking net vier dae voordat die span an Indië vertrek, aangekondig.

Die uitsaaier sê daar was spekulasie dat die afrigter bedank het as gevolg van ‘n algehele breuk in die verhouding tussen hom en die span se kaptein Graeme Smith.

Daar word bespiegel dat die voormalige Suid-Afrikaanse snelbouler Corrie van Zyl in die tussentyd sal oorneem.

Hy sal ook die span in Indië afrig.

 

 

игрушка лунтикФільчаков Олександр Васильович

Graeme Smith in sy noppies

Graeme Smith was Sondag aan die einde van die vierde Castle Lager Toets teen Engeland by Wanderers, hoogs in sy noppies.

Sy span het die besoekers met ‘n beurt en 74 lopies geklop om die reeks op dieselfde vlak te bring. Die oorwinning het seker gemaak dat die Proteas die Basil d’Oliveira Trofee kon behou, wat hulle in 2008 in Engeland verower het.

“Ons het ‘n tekort aan goeie kolfwerk in Centurion en Kaapstad gehad en Engeland het baie goed in Durban gespeel. Dit was egter baie lekker om oortuigende krieket hier op Wanderers in Johannesburg te speel.

Ons het die spel gedomineer en ons het die oorwinning verdien.

“Ons was definitief dié span wat die spel met hongerte aangepak het. Ons het drie uit die vier toetse gedomineer en ons het geweet wat ons moet doen toe ons hierheen gekom het.”

“Ek is baie trots op die kêrels.”

Smith het veral groot lof vir Dale Steyn en Morné Morkel se aanvallende boulwerk gehad.

Hy het gesê 2009 was ‘n teleurstellende jaar, maar hy glo egter dat daar goeie krieket in 2010 gespeel gaan word.

“Die laaste tien toetse wat ons gespeel het was teen toets-nasies. Dit was baie kompeterend en dit is wat mense wil sien. Dit is te verstane dat spanne mekaar tot die einde sal druk.

“Ek dink albei spanne het dié reeks gemaak.’

So bly soos was Smith was, was Andrew Strauss, die kaptein van Engeland nie so gelukkig nie.

Volgens hom was die afgelope drie en ‘n half dae baie frustrerend.

 

“Dit is ‘n teleurstellende einde aan die toer. Dit was egter ‘n baie suksesvolle toer gewees en ons het baie verbeteringe in die afgelope 10 weke in Suid-Afrika aangebring.”

 

“Ek het aan die begin van die toer gesê dit gaan ‘n moeilike reeks wees om te wen, so om 1-1 gelykop te speel, is ‘n groot prestasie.”

 

дизельные компрессорыЛобановский Харьков

Krieket se vergete veldwerker

Hashim AmlaTwee gelukkige viere van agtereenvolgende balle deur Hashim Amla in die Proteas se eerste beurt in die laaste kriekettoets teen Engeland laat die vraag ontstaan: “Wat het van die byglip geword?”

Die met die eerste vier sou die bal moontlik kort van die byglip geland het, maar dié glip sou darem vier lopies kon gekeer het. Die volgende bal sou reguit in sy keelgat afgetrek het.

Die antwoord is moontlik so eenvoudig dat byglip nog altyd ‘n effens ongewone veldwerkposisie was, maar die opkoms van eendagkrieket en die feit dat ‘n bal wat by die bypen verbyskiet amper outomaties ‘n foutbal is, het dalk ook iets hiermee te make. Die boulers neig dus om eerder die wegkant op te soek, waar daar soms tot vier glippe wag as die bal geneig is om te swaai.

Maar is die byglip in meerdagkrieket dan werklik so oorbodig?

Skeidsregters wat streng is op boulers wat op die kolfoppervlak deurhardloop, dra ook by daartoe dat dit moeilik is om die tipiese bal te bou wat ‘n byglip in die prentjie te bring. Dit is die regterhandse swaaibouler wat om die paaltjies boul. Sy “gewone” bal sal voor die regterhandse kolwer verbyswaai en as dit die kolf se buiterand raak, na een van die ring glippe in die kordon vlieg. Hierdie scenario het hom dikwels met Gary Kirsten afgespeel, maar in ‘n omgekeerde situasie omdat Kirsten ‘n linkskolwer was. Maar net soos die kolwer hierdie “trajek” begin lees het, kom die bouler met ‘n effens voller bal, met meer spoed, wat van net buite die bypen inswaai. Voor die kolwer sy visier verstel kan kry, is hy om sy bene geboul en trek die bypen skewebek. Of, as hy wel sy kolf in die pad kan kry, glimlag die byglip breed. (Tensy die bal tussen sy tande vassit).

Daar is natuurlik ander balle wat byglip toe kan trek, soos die twee balle van Amla wat beskryf is. Amla het beide kere reg voor sy middelpen verdedigend vorentoe gespeel, en die bal wat ingeswaai het, aan die binnekant van sy kolf bygekry.

‘n Byglip, as veldwerker, kan ook die amper onvermydelike viere keer wat deesdae gereeld gesien word, wanneer die kolwer sy kolf aan die wegkant gaan uithang, en binnerand bykry, en die bal dan die paaltjies naelskraap mis, en die paaltjiewagter flous. Dit is egter onwaarskynlik dat so ‘n bal vir ‘n vangskoot tot by die byglip sal dra.

free bonus slots no deposit mobileпрокурор харьковской области

Krieket eindig gelykop

Engeland se krieketspan dit weereens reggekry om vas te byt vir ‘n gelykopuitslag teen die Proteas op Nuweland, nadat die Suid-Afrikaners belowend gekolf het. Teen uitskeityd was die Engelse op 296 – 9.

Hulle kan nou nie die reeks meer verloor nie al sou Suid-Afrika die laaste toets wat op 14 Januarie in Johannesburg begin, wen.

Engeland het reeds ‘n 1 – 0 reeks-voorsprong.

 

паркетФильчаков прокурор харькова