Vir die eerste helfte van vanoggend se T20 kriekettoets het die Nieu-Seelanders soos ’n miljoen dollars gelyk en die Proteas soos ’n gekreukelde R20-noot. Dis toe dat ’n blonde blanke jong Kapenaar, gebou soos ’n loskopstut, sy kolf getrek en die veld geneem het. Sestien boulbeurte later was daar van die swierige Swart Pet net rokerige rafels oor. Die Kiwi’s, soos op hierdie webblad voorspel, het nie geweet wanneer om bekommerd, baie bekommerd, te raak nie. Nou weet hulle.
Hulle selfversekerdheid was opgepomp deur ’n wegtoetsoorwinning oor ’n Aussie span wat nog aan bomskok gely het na hulle toer Suid-Afrika toe, en ’n afknouery van ’n span uit daardie krieketsterfabriek genaamd Zimbabwe. Boonop het hulle Suid-Afrika – wat aan ’n wêreldbekerdroom gestik het – in hulle laaste EDI-wedstryd uit daardie toernooi geboender. Al wat dit nog geverg het om vir hulle ’n algehele oorskatting van hulle eie kolf-en-balvoortreflikhede te gee, was om ’n slofvoetende Suid-Afrikaanse span in die eerste T20 ’n paar dae gelede te klop. Maar nou is hulle weer herinner aan wat dit is om teen ’n regte span te speel.
AB Div het die loot gewen en die bal aangevra. Suid-Afrika, op soek na ’n werkbare beurteindeboulaanval het vir Wayne Parnell in Rusty Theron se plek betrek – en hulle moet seker nou besef dat dáár nie vreugde te vinde is nie. Die Suid-Afrikaanse boulers het vir Guptill, en later Brendon McCullam met lui balle weerskante van die penne gevoer en die kolwers soos wêreldkloppers laat lyk. Die geheimenis rondom Johan Botha se weglating teen die Sri Lankane het verdiep, want hy was die één bouler wat raaisels aan die Nieu-Seelandse kolwers gestel het wat hulle nie kon uitwerk nie. Sy variasie en beheer het die kolwers verfonkfaai.
Die ander boulers het lekkernye aangedra en die kolwers het gevreet, en as daar ooit ’n krieketveld is om op baldadig – verskoning! – te raak, is dit Seddon Park in Hamilton. Nieu-Seeland maak mos eintlik vir net een sport voorsiening – rugby, en die Kiwi’s moet voetbalvelde vir krieketwedstryde gebruik. ’n Gesmeerde krieketbal trek verder as ’n rugbybal wat selfs deur Frans Steyn geskop is. Terwyl die Nieu-Seelanders gehalleluja het oor al die sesse wat hulle slaan, het dit hulle betaam om te onthou dat ’n ses haaks van die paaltjies maar net meer as vyftig meter moes trek om ’n skaduwee oor die grens te trek.
Na ’n heroïese gesloegery deur Nieu-Seeland het hulle 173 lopies – kan dit wees na al daardie gemoker van swak balle oor kort grense? – ja, 173 lopies.
Trek die gordyn weg vir die Tweede Bedryf. In stap die breë Richard Levi. Die Nieu-Seelanders het ’n plan teen hom: Boul vol op die bypen. Dis ’n swak plan, swak geïmplementeer. Levi swaai na alles wat hy sien met al die subtiliteit van ’n houtkapper wat ’n baie dik boom voor sonsondergang probeer afkap. Sy eerste treffer is ’n skramsskoot; die bal ontmoet die kolf op die buiterand – en skoert oor die grens vir ’n ses. Daarna is dit voltreffer na voltreffer en die een bal na die ander word oor die bykantgrens versend.
Levi het ’n goeie oog, wonderlike tydsberekening, dik gewrigte en kort arms, m.a.w. hy het die presiese bouvorm van ’n balslagter. Kort arms gee die kolwer ’n kleiner swaairadius, wat beteken hy het net ’n snars meer tyd om sy hou aan te pas want die kolf kom net daardie bietjie vinniger op spoed. Omdat die swaairadius kleiner is, is die kolf langer op die onderskeppingsvektor. En so: David Warner van Australië; Eoin Morgan van Engeland. En nou, Richard Levi van die Proteas.
Hy was eenvoudig brutaal. Die balle wat nie met die trajek en hoogte van ’n reënboog oor die grens is nie, het laag en vlammend soos ballistiese missiele oor die tou geskroei.
Aan die anderkant het Stem-in-die-Bos Amla met dié benadering geëksperimenteer en summier gesneuwel toe hy nie die bal oor die binnekring by halfweg kon slaan nie. Wayne Parnell het as mokerman ingestap, ’n mooi vier geslaan en toe homself soos ’n koeksister geknoop in ’n vergeefse poging om terug te kom in sy kolfkampie nadat hy ’n woerbal van Nicol tegemoetgehuppel en heeltemal mis geslaan het.
AB de Villiers het ingestap gekom en ’n duidelike kolfplan met hom saam gebring: Hy sou Levi die slaanwerk laat doen, homself insout en dan die kastyding oorneem sodra die aanvangskolwer sy stokke verloor. Maar Levi het nie die plan mooi verstaan nie en aangehou om die huls van die bal af te slaan.
Al Nieu-Seeland se ruiters en al Nieu-Seeland se manne het saam 9 sesse geslaan; Levi het dertien alles op sy eie gefoeter. Dit is ’n nuwe wêreldrekord, drie meer as die verwoede Chris Gayle se beste. Hy het die vinnigste T20-toetshonderdtal in die boeke geskryf – 0-100 in 45 balle. Sy telling van 117 ewenaar die beste ooit, ook van die kolf van Gayle, maar omdat hy nie uit is nie, is hy nou bo-op die piramide.
Die nare waarheid het seker nou tot selfs die Nieu-Seelanders deurgedring. Hulle kan hulleself verder mislei deur te dink die Proteas is ’n span met Levi of niks. Leer sal hulle van vooraf leer van Amla, De Villiers, Morkel, Albie, Botha en selfs Duminy, almal manne wat ’n bouloffensief kan aanval met die doel om ernstige skade aan te rig. En wanneer die boulaanval uiteindelik sinchronisasie bereik, sal die Swart Pette ’n paar meelbomme of een van hulle rugbyskeidsregters nodig hê om hond haaraf te maak.
Die eksterne aanslag op hulle en die interne druk van oorprestasie het die Nieu-Seelanders uiteindelik ingehaal.
En dit is hoe kuikenmoord begin.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.