Daar was 'n groot mate van Schadenfeude onder lidlande te bespeur oor die finansiële verknorsing van die VSA omdat Amerika weinig simpatie gehad het vir die druk waaronder baie lande geplaas is deur hulle blootstelling aan 'n geglobaliseerde ekonomie.
Dat die Bush-administrasie – wat eers volgehou het dat bankrotskappe elders buite hulle eie grense maar hulle gang moet gaan – nou 'n reuse hulppaket saamgestel het, is vir vele 'n aanduiding dat die VSA nie graag hulle eie medisyne neem nie.
Ook is daar kommer dat die gebrek aan oorsig op Wallstraat die wêreldekonomie dermate gaan knou, dat die amstes die hoogste prys sal moet betaal.
Ban Ki Moon het in sy openingsrede gesê dat die globale finansiële krisis al die VN se harde werk in gevaar stel en dit bevraagteken of steun vir die vrye mark so 'n gesonde ding was. Hy het gesê onkritiese geloof in die towerkrag van markte is nie wat nou nodig is nie.
Bush het die heersende kommer by die VN heeltemal onderskat en in sy rede byna uitsluitlik gefokus op die probleem van terrorisme vir die VSA. Hy het slegs 'n paar sinne aan die finansiële krisis op Wallstraat gewy.
Mark Malloch Brown, 'n Britse kabinetminister, het gesê lidlande sien nou duidelik deur die Amerikaners se dubbele standaarde. Dit was nie Kuba of Iran wat gister oor die VSA gekla het nie, maar hulle eie bondgenote en vriende.
President Nicolas Sarkozy het die huidige krisis as die grootste gemors sedert die Depressie beskryf en die finansiële stelsel "waansinnig" genoem. Hy het 'n ontmoeting vir November voorgestel wat deur talle ondersteun is oor hoe om die reguleringsprobleme die hoof te bied.

John McCain se veldtogbestuur het die New York Times kaalvuis gepak. Hulle beskuldig die koerant daarvan dat hulle Obama openlik ondersteun.
Meer as 10 000 mense het verlede naweek in die Sweedse stad van Malmoe opgeruk teen globalisering. Die optog is gereël om saam te val met die byeenkoms van die Europese Sosiale Forum.
President Hugo Chavez van Venezuela is nog steeds besig om vriende en bondgenote te besoek. Hy noem die reis wat hy tans onderneem van "groot strategiese belang". Hy sal volgende in China, Rusland, Kuba, Belarus, Portugal en Frankryk aandoen om sy land se "potensiaal" en internasionale verhoudinge uit te bou.
Die Tsjeggiese ambassadeur was een van die slagoffers van die reuse ontploffing by die Marriott Hotel in Pakistan oor die naweek. Ongeveer 60 mense, waaronder heelparty Westerlinge, is dood en meer as 250 beseer. Die hotel sal onbepaald gesluit bly. Konsulêre personeel van die Britse missie is beseer in die ontploffing.