{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
Dié spotprent is met vergunning van ‘n Engelse tekenaar. Ons plaas die oorspronklike; nogal interessant hoe die toekoms daar uitsien…
‘n Paar maande nadat Janssens en de Mist die bewind aan die Kaap oorgeneem het, het die oorlog tussen Engeland en Frankryk, en daarom ook sy bondgenoot die Bataafse Republiek, op 18 Mei 1803 weer begin.
Die Bataafse Regering het die Kaap dadelik daarvan in kennis gestel. Die boodskap het op 6 Julie 1803 aangekom. Kort daarna het egter ook ‘n brief gekom waarin beveel is dat die grootste deel van die militêre mag na die Ooste gestuur word. “Java is alles”, het die brief gelui. Die welvaart van Nederland het afgehang van die besit van die Oos-Indiese Eilande. Die Kaap mag miskien die sleutel van die Ooste wees, maar die sleutel kan van geen nut wees as Nederland die slot sou mis nie. Dié “slot” was die Ooste. In 1805 het die Britse regering besluit om ‘n sterk mag onder sir David Baird te stuur om die Kaap te gaan verower.
Die lot van die Kaap was by voorbaat beseël. Janssens het nietemin ‘n leër van sowat 2000 man op die been gebring. ‘n Paar dae voor Nuwejaarsdag 1806 het dit bekend geword dat die Engelse aan die kom is, en op 4 Januarie 1806 het die seine op Leeuberg die koms van die Britse vloot aangekondig. Die nuus is met behulp van kanonskote na die binneland versprei en dit was dieselfde aand tot op Swellendam bekend. Dit was egter ‘n slegte tyd vir boere om hul plase te verlaat: hulle was aan die dors, die druiwe het begin ryp word en dit was verskriklik warm.
Toe genl. Baird teen die aand van 7 Januarie sy hoofmag op die huidige Melkbosstrand laat land, was daar nog net ‘n paar honderd burgers aan die Kaap. Janssens moes met sowat 2000 man optrek teen die Engelse wat meer as twee maal so sterk was. Net oos van die Blouberg het die twee leërs vroeg die oggend van 8 Januarie slaags geraak.
Die geveg was gou oor. Die vreemde huurlinge in Janssens se leër het dadelik begin retireer toe die eerste kanonkoeëls val, en voor die aanstormende Skotse Hooglanders met gevelde bajonette het hulle op die vlug geslaan. Die 250 burgers en die pandoers (bruin troepe) was onder dié wat hul man gestaan het, maar ná die vlug van die huurtroepe moes die res van die leër terugval.
Een van die laaste opdragte van Janssens aan die Politieke Raad was om burgers wat hulle dapper gedra het, soos kmdt. Jacobus Linde, te beloon deur plase aan hulle te skenk. Dit is gedoen voordat die voorwaardes van oorgawe van Kaapstad op Vrydag 10 Januarie op Papendorp (Woodstock) geteken is.
Janssens self wou die verset in die binneland voortsit, maar het op 18 Januarie in Hottentots-Holland die kolonie aan die Britte oorgegee en die burgers wat hom getrou gebly het, beveel om huis toe te gaan. In ‘n merkwaardige brief aan Baird het hy geskryf dat die gedrag van die koloniste hoogs bevredigend was. “Skenk, wat dit betref, geen geloof aan mnr. Barrow en hul vyande nie. Die koloniste is nie sonder gebreke nie, maar hul goeie hoedanighede weeg meer as daarteen op.” Hierdie brief was kenmerkend van die Bataafse amptenare se gesindheid teenoor die Kapenaars.
{jathumbnail off}
Aan al die kranige rugbykykers: Geniet die naweek se skouspel!
{jathumbnail off}

{jathumbnail off}
NKOSI SKELM
My naam is Nkosi Skelm
ek is koning van die land,
ek’s gebore met die helm
en dus heldersiende want;
ek weet wat jy wegsteek
daar diep-diep in jou huis,
vanaand kom ek inbreek
kom kuier ek by jou tuis;
jy is mos ryk en ek is arm
jy bleek teenoor my blas,
ek kry koud en jy is warm –
nou verlos ek jou van jou las;
geen mure sal my keer nie
geen Duitse Herdershond,
geen alarms my afweer nie
my weghou van jou grond;
jou besittings kom ek steel
want dis joue net in naam –
weier jy om met my te deel
vat ek ook jou lewe saam;
my naam is Nkosi Skelm
ek is die gésel van die land
jy’s nou my slaaf ek jou dwelm
jy’t jou vryheid mos verpant.
H. Hekelaar
{jathumbnail off}
{jathumbnail off}
Met volksvreemde name op mure
voel dit asof sterker en snel vernietigende hande
die snare van my hart
gryp, verruk en dit bespeel
met ‘n lied van herinnerings
wat die spelendes uittokkel.
‘n Lied van ou vreugde en van nuwe pyn,
word uitkoggelend nagelaat.
Ek voel ‘n magtelose woede
en toe geselsendes verbygaan,
bal ek my vuiste uit verwyt
sonder om te huil.
Die doodsangs van opstand
woel in my siel
maar nes die land
staan ek in bittere verlatenheid.
Gedrewe deur verraad
beland lourierkranse van ontslape helde
soos dooie blare in ‘n trog swynevoer.
Die volk se naam is die vloekwoord
daarmee dra elkeen sy dood na die graf
dit moet agter hoë mure,
agter doringdrade begrawe word
voor die nuwe wêreld bekendheid werf.
Die groot droom is verby.
Terwyl ek wegstap
kyk ek op,
die agtermiddagson vaar stil
deur die verstikkende hemel
tot waar dit agter donker wolke verdwyn.
Die dag verdonker
nes die nag met ‘n ondergaande maan.
{jathumbnail off}
Die gevestigde boer het soos ‘n outydse edelman sy groot huishouding ingerig en geregeer. Lichtenstein gee ‘n beskrywing van die lewe op die plaas van Jakob Laubscher nie ver van Saldanhabaai. Die woonhuis, stalle, skure en werkkamers was goed ingerig. Laubscher het 80 perde, 690 beeste, byna 3 000 skape en baie pluimvee besit; hy het 60 mud koring gesaai en daagliks aan 105 mense kos gegee.
Lichtenstein skryf dat so ‘n boerdery meer na ‘n klein, selfstandige en afgesonderde staat lyk, waarvan die lede mekaar bystaan en van mekaar afhanklik is. Uit die opbrengs van die lande en die veetroppe moet die mense onderhou word. Daar is geen handwerk waarin nie minstens een van die slawe bedrewe is nie. Die huisbaas wat van al die soorte werk iets af weet, hou toesig. “Ofskoon hy self geen hand aan die werk slaan nie, sou dit nogtans die hoogste onregverdigheid wees om hom van luiheid te beskuldig. Die Afrikaanse landman is inderdaad werksaam en bedrywig sonder dié uitwendige besigheidsgedoente en woelagtige bestellery, waarmee in Europa die luiheid en werkloosheid soms so mooi bemantel word.”
Die huismoeder met haar dogters en slavinne het die groot huishouding van kos en klere voorsien, botter en seep gemaak, konfyt gekook en dergelike. By feesgeleenthede, soos ‘n bruilof, die verjaardag van die huisvader, ‘n vendusie of as daar kuiergaste is, het die boervrou uitgehaal en ‘n groot oorvloed van lekkernye aan haar gaste voorgesit: gebraaide speenvarkies, pluimvee, kerrievleis, sosaties, blatjang, ingemaakte vrugte.
Dié welvaart onder die landbouers was kleiner in die binneland. Oos van Swellendam en noord van die Olifantsrivier het boere meestal gewoon in hartbeeshuisies, soms met net twee vertrekke. Die meubels was self gemaak, en die kos, met vleis steeds die hoofgereg, ietwat vervelig. Die veeboer was ook eenvoudiger geklee. Hy het gewoonlik ‘n breërandhoed, kort baadjie, growwe hemp, lang, wye velbroek en velskoene gedra. Die opmerklikste kledingstuk van die vrou was die kappie. Die behoeftes van die binnelanders was beperk: wol- en linnegoed, koffie, tee en suiker, breekgoed, lood, yster, gewere en ammunisie. Koffie en tee was die nasionale dranke. Volgens Lichtenstein het seker drie uit elke tien koloniste glad nie wyn of brandewyn gedrink nie, en die res het so min gedrink dat dronkenskap baie seldsaam was. Oor Barrow se stories van dronkenskap skryf Lichtenstein: “Wat Barrow ook van die sopie as ‘n geliefkoosde drank van die koloniste mag vertel, ek kan nogtans heilig verseker dat ek gedurende die hele tyd van my verblyf onder die koloniste slegs eenkeer ‘n gebore Afrikaner dronk gesien het.”
Oor een swak plek in die Afrikaanse karakter is die belangrikste beriggewers dit eens: dwarstrekkery en onderlinge vyandskap wat soms selfs onder broers voorgekom het. Bure het soms jare lank ‘n wrok teen mekaar gekoester. Die twiste was gewoonlik oor grense, want die leningsplase was nie duidelik afgebaken nie. Daar was ‘n iets waar van die gesegde dat elke boer met almal op vriendskaplike voet was, behalwe met sy bure.