Nog ‘n aanval

Samantha Vice se voorstel dat wittes bietjie moet gaan nadink oor hulle rassisme het inslag gevind by swart denkers. 

En wat is nou makliker as die afgestorwe AWB wat nou weer in die nuus is met ET se moordverhoor, vir ‘n kapstok om alle wittes mee by te kom.

Vice doen ‘n beroep op blankes om dislojaal teenoor hul eie ras te wees. Dit is nie ‘n swart rewolusie dat baie blankes vrees nie, maar ander blankes wat wil saamwerk met swartes in hierdie land. Vir hulle is die moontlikheid van ‘n “whitelash” teen wit voorreg ontstellend, sê Mvuselelo Ngcoya.

Die geweld op ‘n paar blankes wat dit gewaag het om te praat oor wit skuld, byvoorbeeld Stellenbosch se prof Anton van Niekerk, is glo kenmerkend hiervan.

 

 

прокурор харьковской области

Franse en Chinese lek hul lippe af

Suid-Afrika is gereed om die grootste tender in sy geskiedenis uit te reik – ‘n beraamde een-triljoen rand kontrak om ses nuwe kern reaktors te bou teen 2030.

Die departement van energiesake het sy kerntendervoorstel aan die Kabinet voorgelê en minister van energie, Dipuo Peters het gesê die voorstel sal voor die einde van hierdie jaar gefinaliseer word.

Die omstrede wapentransaksie, wat maar ‘n skamele R70 miljard werd is, kan deur hierdie stap verdwerg word aangesien die nuwe kernkragsentrales soveel as 20% van die wêreld se totale kernuitgawes oor die volgende twee dekades kan beteken.

Vyf maatskappye – van Frankryk, China, Suid-Korea, Rusland en ‘n gesamentlike Verenigde State-Japannese konsortium – is in die wedloop.

Al die bieërs is desperaat vir ‘n stukkie van die koek en konstruksiemaatskappye, tenderpreneurs, agente en die middelmanne lek behoorlik hulle lippe af.

Diegene wat naby aan die Franse vervaardiger Areva is, het aangedui dat die Franse en Chinese ‘n gesamentlike bod voorberei. Bronne dui daarop dat die kombinasie van Franse kernkundigheid en Chinese finansiële krag ‘n gesamentlike bod polities onaantasbaar sal maak, gegewe Suid-Afrika se nuutgevonde simpatie met die Ooste.

Areva, wat die Koeberg-kernkragstasie buite Kaapstad gebou het, lei die hongeres in terme van die intensiteit en die doeltreffendheid van sy lobby-masjien.

Die Franse het baie moeite gedoen om die moeilike politieke oorgang na ‘n Jacob Zuma-administrasie glad te laat verloop en sodoende een van die voorlopers gebly.

Zuma vergader reeds met die Franse sedert 2007.

In Februarie vanjaar het die maatskappy ‘n omvattende kernsamewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie hernu. Areva beskik dus oor grondslag vir samewerking in alle aspekte van die kernbrandstofproduksiesiklus tot 2013, wat hulle ‘n groot voordeel gee.

Die Industrial and Commercial Bank van China het in 2007 ‘n 20%-belang in Standard Bank wat die Chinese ‘n kanaal bied waardeur die massiewe kernprojek gefinansier kan word.

Adjunk-President Kgalema Motlanthe het verlede week ‘n staatsbesoek aan China afgesluit. Hoewel die kernprogram nie formeel bespreek is nie, kan ‘n $2,5 miljard finansiële samewerkingsooreenkoms tussen die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika en China Development Bank ‘n tweede bron van kernfinansiering word.

Die vorige keer dat Suid-Afrika ‘n kernkragbesluit wou neem, was in September 2008. In dieselfde week het die Zuma-faksie egter vir Thabo Mbeki as Suid-Afrika se president uitgeskop en Eskom het die tender teruggetrek. ‘n Gebrek aan kapitaal is as rede aangevoer.

Kritici het kommer uitgespreek oor die bekostigbaarheid van die projek en of dit die mees koste-effektiewe manier is om Suid-Afrika se energie-toekoms te verseker. In 2009, het die lobby-groep Earthlife Africa, gesê dat die bou van ses kernaanlegte die land bankrot sal maak.

Die VSA se Toshiba-Westinghouse konsortium wat ook meeding, is glo deur die Franse in die stof gelaat.

‘n Ierse diplomaat beweer dat Frankryk “ongeveer €20-miljoen in Suid-Afrika belê het onlangs” wat hy beskryf as ‘n “druppel in die emmer in vergelyking wat hulle sal maai”.

Westinghouse se somber assessering aan die einde van 2009 was dat hulle $10 miljoen belê het in die tenderproses “sonder enige versekering dat daar ‘n kontrak aan die einde sal wees”.

Met ‘n gesonde skeppie van leedvermaak egter, het die VSA aangedui dat “probleme en onderbrekings” by Koeberg – waar Areva tegniese bystand verleen – ‘n “bykomende hupstoot” vir Westinghouse kan wees.

Met die onkangse kernramp in Japan, lyk die ANC egter nie skugter vir nuwe kernaanlegte nie. Die vraag is wie ons gaan beskerm in geval van ‘n noodsituasie. Die Franse?

Фильчаков прокурор харьков

Ons gee!

Ek wil graag vir ons bekende eerwaarde Desmond Tutu sê, wat voorstel dat ons blankes (wittes) welvaartsbelasting moet betaal, en ook wil ek vir jeugleier Julius Malema sê, wat beweer dat daar ‘n blanke (wit) besigheidsmonopolie in ons land is, dat hulle dit heeltemal agterstevoor en onderstebo het, want :

Ons GEE , ons sorg, ons voorsien, ons deel uit, ons kook sop, ons bak brood, ons maak ons klerekaste leeg, ons “tip” vir die stoot van ‘n trollie by die winkel met twee items in, ons tip vir ons kar se oppas, ons tip vir ons kar se was. Ons betaal vir uitgebreide familielede se begrafnisse tot in die derde geslag, ons betaal skoolgeld en boekegeld vir kinders, neefs, niggies. Ons laat ons huishoudsters leer, ons brei truie, musse, handskoene, ons koop komberse, ons gee klasse in papiere optel, kook, brei, hekel, kleremaak, spit, boer, plant, koeie melk. Ons GEE. Ons koop oorpakke, koop verjaarsdag koeke, koop pille, betaal die taxi, gee ons kosbare padkos langs die pad weg, en sweeties deur kar en treinvensters. Ons GEE. Ons skep werk, ons kry jammer, ons bid, ons tel babas in asblikke op en maak hulle groot, ons gee kerspartytjies in kleuterskole in plakkerskampe, ons laat opereer, ons gee ons harte, lewers, niere, longe en tonge. Ons GEE. Ons is nie rassisties nie, ons is nie wraakgierig nie, ons bly steeds hier in ons land, ons maak skoon, ry aan, laai af, tel op. Ons troos, verduidelik, ons bly kalm, staan in lang rye en glimlag, en laat die een met die krukke eerste gaan. Ons GEE……

Het ek al gesê ons GEE. So, ek dink, iewers tussen êrens en nêrens het julle die kat aan die stert beet, en het julle alles agterstevoor en onderstebo.

депутат лобановский

Het die Afrikaner ‘n bang volk geword?

Vir ‘n geruime tyd begin die frase “bang volk” al hoe meer in my kop draai as gevolg van die menings wat ek op alle gebiede waarneem.

Ons mense wil nie die swartes aanstoot gee deur die waarheid te propageer nie; nou word die leuen aangehang en die waarheid verkrag op ‘n volstruismanier om by ons gewetes verby te kom.

Ons wil nie die swartes aanstoot gee deur openlik vir ons eie lief te wees nie al beteken dit noodwendig dat ons nie ander haat nie, want die risiko is te groot dat dit dalk verkeerd geïnterpeteer kan word.

Ons loop by ons eie mense se ellende verby en help die regering om sy verantwoordelikheid na te kom in ‘n kruiperige soeke na die regering se guns.

Ons word uitgemoor teen ‘n geweldige tempo op die wreedste maniere denkbaar en ons blaas ‘n bietjie tot die volgende blaas met die volgende moord.

Hierdie regering het die afgelope 17 jaar nog niks tot stand gebring nie, net dit waarvoor ons gewerk het afgeneem. Hulle hou aan met afneem sonder om iets self tot stand te bring en wat doen ons? Blaas en raas tot die volgende blaas en raas by die volgende vergryp.

Die belasting wat ons aan die regering betaal, word gesteel en uitgebras; ons mor darrem ‘n bietjie en dan kyk ons maar anderpad.

Ons is bang vir die plaaslike en buitelandse menings en kruip vir goeie wil. Ons kerke doen lustig mee deur die Bybel te misbruik met geïsoleerde versies buite konteks om hulle verraad te verskans.

Intussen trap en verguis en verraai ons Afrikaners mekaar om die skyn van ‘n ruggraat te akkomodeer.

Wat ‘n volk van ruggraatlose swakkelinge het ons nie geword nie, ons verdien niks meer as wat aan ons uitgedeel word nie!

Ek moet aan FW de Klerk en die benewelde Pik Botha die eer betoon wat hulle toekom – hulle het ons Afrikanervolk op een slag effektief die doodskoot gegee.

Фильчаков прокурор харькова

‘n Voorbeeld vir Afrikaners

Vader Phillip Vietri, ’n Rooms-Katolieke priester by die Oratorium van Sint Philip Neri in Port Elizabeth, is onbeskaamd pro-Afrikaans, al het hy Engels grootgeword. As hy in ’n winkel of bank nie in Afrikaans bedien word nie, dring hy daarop aan om met die bestuurder te praat. In ’n interessante artikel wat op praag.co.uk verskyn, vertel hy waarom hy vir Afrikaans en Afrikaners gekies het.

Klik hier.

Фильчаков прокуратура харьков

Die sogenaamde ‘landswye’ verkiesing

Ek wonder hoeveel Suid-Afrikaners bewus is van die feit dat daar op 24 September 2011 ‘n verkiesing onder “blanke” Afrikaners in die land plaasgevind het?

Die doel van die organiseerders van hierdie verkiesing, die “Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK)” [Let op die verkeerde spelling], was om o.a. “…drogredenasies, soos dat ‘ons [blanke Afrikaners] nie kan saamstaan nie en nie leiers het nie’ [te] gaan ontmasker;”.

Na die verkiesing is die verkose “volksraad” blykbaar van plan om met die huidige ANC-regering te onderhandel ten einde ‘n onafhanklike “blanke” volkstaat êrens binne die grondgebied van die huidige Suid-Afrika, in die hande te kry.

Paul Kruger van die VVK het verlede Vrydag oor Radio Pretoria verwys na tussen 30 en 40 duisend geregistreerde “kiesers”. Volgens hierdie artikel het slegs 22826 stemmers aan die verkiesing deelgeneem.

Blykbaar is daar volgens Statistiek SA 50,5 miljoen mense in Suid-Afrika waarvan ongeveer 4,5 miljoen blankes is. Dit impliseer dat slegs ongeveer 1% van Afrikaners aan die VVK verkiesing deelgeneem het!

Ek het gaan loer na die lys van kandidate wat aan die verkiesing deelgeneem het. Andries Breytenbach, die leier van die HNP, het die meeste stemme gekry. Abel Malan, tweede, was nou die dag nog in die nuus ná sy onderonsie met prof. Anton van Niekerk.

Daar is selfs ‘n Jaco Steyn wat as kandidaad deelgeneem het! Ek wil dit net graag duidelik stel dat hy beslis nie ék is nie, omdat hy o.a. as deel van sy standpunte verklaar dat “Ons [blanke Afrikaners] is nie hier geplaas om uitgemoor en onderdruk te word nie maar wel ‘n Christen-volk te wees wat ‘n voorbeeld vir die wêreld stel.”

Henk van de Graaf is ‘n Israelvisie-ondersteuner. Steyn van Ronge is tans die leier van die AWB. Hierdie verkiesing was op die ou end een van die mees patetiese pogings wat al ooit aangewend is om die witmense te laat “saamstaan”.

Miskien sal dit meer raadsaam wees indien die ou spul verregses besluit om maar liewer te wag dat God hulle eendag “verlos uit die kloue van die ANC”. Hulle sal beslis só meer sukses hê.

topcargo кидалы

Was God ooit lief vir die Afrikanervolk?

In die voortdurende debat oor ‘n volkstaat vir die Afrikanervolk of dan enige vorm van beheer oor eie sake, is dit baie duidelik dat ‘n groot persentasie Afrikaners glo dat die volk ‘n uitverkore volk van God is – eintlik dié uitverkore volk.

Die sieninge wissel van die gematigde oortuiging dat God (sien nota hieronder) oor die lotgevalle van mense en volkere beskik en in die verlede dikwels tot die Afrikanervolk se hulp, selfs redding, gekom het en dat dit slegs afvalligheid van volksgenote is wat ons in die huidige ellendige posisie geplaas het, deur minder gematigde sieninge dat God op een of ander wyse gaan ingryp en die Afrikaner weer in sy eie land en onder sy eie regering gaan vestig, tot by die verwronge en misplaaste oortuigings van sekere groepe soos die Israel-Visie/Israel-Waarheid dat die Afrikaner die verlore stam van God se uitverkore volk is en binnekort weer in volle eer en aansien dwarsdeur die wêreld herstel sal word deur een of ander wonderbaarlike ingryping van “Bo”. (Nota: Aangesien hierdie ontleding uit die “oogpunt” van Christene gedoen word, word God en verwante terme in hoofletters geskryf.)

Daar is natuurlik verskillende sieninge en graadverskille binne hierdie breë kwasstreep, maar ten grondslag van almal lê die oortuiging dat God ‘n spesiale liefde vir die Afrikaner het, in die verlede na hom omgesien het en dit weer sal doen, sonder dat daar nou in enige besonderhede oor die hoe, die waar en die wanneer hiervan ingegaan word.

Hoe sterk hierdie sieninge is, blyk onder meer uit ‘n besluit van die “volksvergadering” wat teen die einde van 2009 gehou is. Ek plaas die woord “volksvergadering” liefs in aanhalingstekens want daar was ‘n skrale 400 mense daar teenwoordig. Hoe dit ook al sy, is daar in ‘n verklaring oor besluite wat geneem is, onder meer die volgende gestel:
“Dat die toekomstige staatsmodel van die vrye Geloftevolk, Skrifgefundeerd (op Bybel gegrond) moet wees;
Dat die nakoming van die Volksgeloftes ‘n Teokratiese staatsmodel vereis;
Dat die vergadering deurgaans die Geloftevolk se volle afhanklikheid van ons Hemelse Vader erken en Hom eer vir die ordelike verloop van die volksvergadering.”

Sterk menings wat waarskynlik slegs deur enkeles bevraagteken sal word en as bevestiging gesien moet word van die stelling dat Afrikaners glo dat God al die jare lief was vir hierdie volk, en steeds is.

Maar is dit waar? Is dit ‘n geldige oortuiging of afleiding uit enkele gebeure in die geskiedenis dat God wel ‘n besondere en spesiale liefde vir hierdie volk het?
Heelwat mense sal hoogsontsteld op bloot die stel van hierdie vraag reageer, maar ek het besluit ‘n mens moet dieper delf en dalk met ‘n meer skeptiese oog na gebeure in die geskiedenis kyk en toe ek dit begin doen, duik daar ‘n paar gevolgtrekkings op wat heelwat mense kan skok.
As ek die dinge so bekyk dan het hierdie Afrikanergod die volk wat hom so loof en aanbid reeds die afgelope 200 jaar keer op keer gelooi, ‘n paar keer byna vernietig en die Afrikanervolk nou in ‘n situasie laat beland waaruit hy nie sommer weer gaan verrys nie en binne ‘n geslag of drie geheel en al kan verdwyn!

Ek is maar ‘n bietjie lugtig om hierdie idees en gevolgtrekkings in die openbaar te lug want ek is ‘n “andersdenkende” Afrikaner wat verskeie kere reeds in die openbaar te kenne gegee het dat ek geen aanduiding of “bewys” sien van ‘n godheid nie en baie beslis nie van ‘n beskikkende god nie. Daar sal gou vanuit talle kante op my gespring word en aangevoer word dat ek as “ongelowige” nie die reg het om oor God en die Afrikaner menings te lug nie en dat ek nie ‘n Afrikaner kan wees as ek nie in die God van die Bybel glo nie.

Wat natuurlik pure twak is want daar was deur die dekades groot Afrikanerleiers en meningsvormers, skrywers en digters en andere wat eintlik net lippetaal aan die Afrikaner se sterk godsdienssin betuig het en daar is steeds baie mense wat hulself as Afrikaners (ek bedoel volbloed lede van die volk, nie hierdie sogenaamde “afrikaanses” nie) beskou en ateïste, agnostici, Sabbatariërs, Baptiste, Jehovas, ja selfs Katolieke en Boeddhiste is.

Dit is natuurlik waar dat die oorgrote meerderheid Afrikaners Bybelchristene is. Sommige miskien nie so intens en dogmaties nie, maar tog diepgelowig en sterk belydend. Maar ‘n volk is nie ‘n kerk of ‘n godsdienstige beweging nie. Dis ‘n groep mense wat deur afkoms, kultuur, saamhorigheid, taal, gedeelde waardes en maatskaplike samesyn in ‘n politieke bestel saamgesnoer en verbind word, dikwels oor godsdienstige grense heen, soos die Duitsers, Hollanders, Franse en verskeie ander.

En miskien is juis iemand soos ek wat as’t ware van “buite” kan kyk, die aangewese een om na hierdie verhouding tussen die Afrikaner en sy God te kyk. Ek kan dit neutraal en onbevange doen want ek is nie bang vir “goddelike straf” of so iets as ek ongemaklike vrae stel nie.

Om God se rol in daardie geskiedenis behoorlik te bekyk, is dit natuurlik nodig om van die Christen-standpunt uit te gaan dat God Almagtig, Alwetend en Alomteenwoordig is en dat Hy oor alle volkere en mense se toekoms beskik en bepaal, dat daar niks gebeur wat nie Sy maaksel of Sy wens is nie. Daar sal mense wees wat die “duiwel” en sy werkinge hier wil insleep, maar aangesien dit bitter moeilik is om van enige gebeure te bepaal of dit dan God of die “duiwel” se werk is, benader ek die probleem vanuit die Christelike standpunt dat God uiteindelik ten volle in beheer is. Argumentshalwe sal ek my betoog dienooreenkomstig inklee.

WAAR BEGIN DIT?

Om ‘n antwoord op my vraag te kry, moet ‘n mens eintlik teruggaan na die ontstaan van die Afrikanervolk en die hoogtepunte van sy geskiedenis. En dan die plusse en die minusse vergelyk.

Ons begin dan met ‘n Godsbeskikking om Holland te laat besluit om ‘n halfwegstasie aan die Suidpunt van Afrika te vestig sodat hy sy kolonies en handelsbande in die Ooste meer toeganklik kan maak. Van toe af – en natuurlik eintlik reeds met die “skepping” – het God geweet wat die verloop van die verdere geskiedenis gaan wees en hoe en wat Afrika is en gaan lyk.

Binne enkele jare na Van Riebeeck se landing aan die Kaap het God toegesien dat die eerste Vryburgers hier gevestig word en daarmee het Hy as’t ware die Afrikanervolk geskep. Die groei van die nuwe volk was aanvanklik stadig en ‘n mens kan eintlik argumenteer dat die nuwe volk se karakter en inslag eers behoorlik daargestel is toe daar rondom 1750 boere aan die Oosgrens begin vestig het. Die Afrikanervolk het in daardie dae gedy en selfs floreer, maar slegs drie, vier dekades later laat God toe dat Napoleon Europa oorrompel en die tanende Hollanders roep die Engelse se hulp in om die Kaapse verversingstasie te beskerm.

‘n Mens kan natuurlik heerlik bespiegel oor die moontlike verloop van die geskiedenis indien God wel toegelaat het dat die Franse die Kaap oorneem en ‘n kolonie met ‘n sterk Franse invloed hier laat ontstaan het. Dit sou baie beslis anders gewees het as wat dit onder die Engelse verloop het! Ek dink dit sou uiteindelik baie beter vir ons Afrikaners gewees het as ons een van Frankryk se Afrika-kolonies was, maar dis blote spekulasie.

Met die intrapslag in 1795 was daar reeds aanduidings dat die Engelse die situasie hier na hulle sin gaan verander. In 1803 gee die Engelse egter pad en die “Kaap is weer Hollands”, maar ‘n skrale drie jaar later besluit God dat dit Hom nie behaag nie en die Engelse vat weer oor. Die nuwe en permanente heersers begin aktief met ‘n onverbiddelike proses van verengelsing.

God het die jong Afrikanervolk daarna voor talle uitdagings en bedreigings te staan gebring – veral op die Oosgrens. Maar hulle was ‘n taai klompie en selfs die Engelse poging om hulle te oorrompel deur duisende setlaars die land in te bring, het nie gewerk nie. Maar God het Sy sendelinge gou gestuur om die wêreld nog moeiliker vir die Afrikanerboere te maak en binne enkele jare het die Boere begin trek.

Nogal interessant die rol wat God se sendelinge in die Afrikaner se geskiedenis gespeel het. Hulle was nie net in die Oos-Kaap vóór die trek nie, maar reeds by Dingaan se stat, by Mosjesj in Thaba Bosigo en selfs by Mzilikazi in die verre noorde van die ou Transvaal gevestig toe die Boere daar aankom. Synde die verspreiders van Godswoord, kan ‘n mens hulle anders sien as God se instrumente?

Getrou aan hulle geloof en ingesteldheid het die Voortrekkers nie grond geroof en gesteel nie, maar so ver as wat hulle getrek het, ooreenkomste met swart regeerders aangegaan en selfs grond gekoop of by wyse van teenprestasie bekom – soos die grond suid van die Tugela wat hulle van Dingaan gekry het in ruil vir ‘n strafekspedisie teen Sekonjella wat Dingaan se beeste gesteel het.

Maar God het onrus en vrees in Dingaan se hart gestook en toe Piet Retief en sy sowat 70 manne hul traktaat kom haal het, laat hy hulle doodslaan en hy stuur sy impi’s om soveel soos 200 Voortrekkers by Weenen en Blaauwkrans koelbloedig om die lewe te bring. Dit was so hittete of hierdie groepie Afrikaners in Natal is totaal uitgewis.

Ek wonder al baie jare, maar kon nog nooit duidelikheid hieroor in geskiedenisboeke kry nie, presies wat die rol van die Engelse sendelinge was wat in Dingaan se kraal was? Het hulle nie geweet van Dingaan se planne nie? Het hulle nie dalk ‘n rol gespeel in die skep van sy suspisies en vrees vir die Voortrekkers nie?

Piet Uys het gesneuwel toe hy en Potgieter kort daarna by Italeni deur die Zoeloes op die vlug geslaan is en ‘n Zoeloe-aanval is in Augustus van 1838 by Veglaer afgeslaan voordat die oorwinning oor Dingaan by Bloedrivier behaal is. Die gelofte wat daar afgelê is, word vandag nog deur Afrikaners in ere gehou want hulle sien dit as ‘n Godsbeskikking dat ‘n paar honderd Voortrekkers teen derduisende Zoeloes oorwin het. Maar ek wonder dikwels hoekom was daar nie sulke geloftes by Veglaer en selfs anderkant die berge by Vegkop waar Mzilikazi verslaan is nie? Het die Voortrekkers daar geglo en besluit dat hulle sommer vanself, sonder God se hulp, kan klaarkom?

Die Voortrekker-staat in Natal het nie lank gehou nie. Kwalik drie jaar ná Bloedrivier het die Engelse die hele Natal as Britse gebied verklaar en die Voortrekkers moes noodgedwonge weer padgee om weg te kom van Britse oorheersing. Hoekom, wonder ‘n mens, het God nie hier ingetree soos Hy dan by Bloedrivier sou gesorg het vir ‘n oorwinning nie?

Wes van die Drakensberge het dit nie veel beter gegaan nie. Die Konvensies van Sandrivier en Bloemfontein was kwalik afgehandel en feitlik volle soewereiniteit aan die twee Boere-republieke gegee, toe laat God diamante in die Vrystaat ontdek en voor die Boere hul oë kon uitvee word die diamantvelde van hulle afgevat en by Kaapland ingesluit.

Die Britte het ook nie opgehou met hulle pogings om die Boererepublieke oor te vat nie en in 1877 word Transvaal deur Shepstone ge-annekseer. Dit het aanleiding gegee tot die Eerste Vryheidsoorlog en danksy die Slag van Majuba in 1881 is die Transvaalse Republiek weer in ere herstel. Dit was God se toedoen dat hulle daardie veldslag gewen het, het die Boere geglo en vandag nog word dit so gesien deur baie Afrikaners wat elke jaar daardie oorwinning gedenk.

Maar ‘n mens moet wonder oor God se betrokkenheid of kantkiesery want skaars vyf jaar later beskik God dit so dat goud aan die Witwatersrand ontdek word. Rhodes en sy volksvreemdes neem die plek feitlik oor en kort daarna volg die Tweede Vryheidstryd met nie alleen ‘n neerlaag vir die Boere nie, maar met die uitmergelende verlies van 27 000 vrouens en kinders in Britse konsentrasiekampe. Het God dit so beskik? Hoe kon Hy ‘n “uitverkore” volk so straf en sy getalle so verskriklik uitdun?

Daar volg weer ‘n tydperk van herstel en groei en die Afrikanervolk verkry weer beheer oor homself met die Nasionale Party van Hertzog se oorwinnings by die stembus in 1924 en 1929. Maar laasgenoemde word nog gevier toe slaan die wêreldwye depressie toe en ekonomiese probleme met onder meer die goudstandaard dwing dieselfde Hertzog om ‘n koalisie met Smuts en sy Engelse vriende aan te gaan, wat onder meer daartoe lei dat Suid-Afrika ondanks sterk Afrikaner-teenkanting, aan Engeland se kant in die Tweede Wêreldoorlog veg.

Dit is egter juis hierdie gebeure wat daardie groot Godsman en leier, D F Malan, in staat stel om die verkiesing van 1948 vir die Afrikanervolk te wen en geseën met leiers soos Strijdom en Verwoerd gaan dit vir ‘n goeie klompie jare baie goed met ons volk. Dit is dan ook juis in hierdie jare dat daar in ootmoed teenoor God streng godsdienstige bepalings in wette ingeskryf word soos die bepalings teen Sabbatsontheiliging, nogal streng sensuur van boeke en rolprente en die sterk godsdienstige rol van politieke figure by Geloftedagvieringe, ensovoorts.

Maar ondanks hierdie toewyding van die volk, stuur God vir die Botha’s – PW en Pik – om sake weer lelik om te krap. En met behulp van weer eens “sendelinge en predikers”, maar hierdie keer Afrikaner-geestelikes soos Beyers Naude, W D Jonker, Johan Heyns en enkele ander wat steeds besig is om die Afrikaner te probeer ondermyn, word die Afrikaners se koppe geswaai en mee gemors totdat hulle in 1994 holus-bolus die bewind oor die land en dus oor hulself aan die swartes, die liberales en die kommuniste afgee.

En nou – enkele jare later – staan ons weer voor yslike krisisse en uitdagings, maar hierdie keer, wil dit al hoe meer vir my en ander lyk, gaan die Afrikanervolk nie weer uit die as verrys en herleef nie. Dit lyk of hy die nekslag toegedien is en oor twee, drie geslagte totaal sal verdwyn met dalk net ‘n paar klein kolonies van “Afrikaners” in Australië en Nieu-Seeland.

Desondanks sien die Afrikaners vandag weer kans om te beplan en te organiseer vir ‘n eie owerheid, ja selfs ‘n eie tuisland. Maar – onderneem die leiers van die volksvergadering – ons gaan in diepe ootmoed en dankbaarheid teenoor God ‘n teokrasie in so ‘n staat vestig waar “Sy Wil sal Geskied”!

Behalwe vir die onmiddellike vraag wat opduik WIE in die teokratiese staat hierdie “wil van God” gaan interpreteer, is dit haas ongelooflik dat daar in hierdie dag en eeu nog mense is wat sulke onsinnighede kan kwytraak. Dit laat jou knieë lam word van frustrasie en wanhoop omdat dit lyk of die Afrikaner nooit ooit uit hierdie agterlikheid kan ontwaak nie.

Dit wil eerder voorkom of die verwarring en onsekerheid wat daar in Afrikanergeledere heers, net lei tot meer teruggryping na ekstreme godsdiensidees, na nog meer oproepe van “Terug na God (of Jesus of Jahwe)”, na vreemde groeperings soos die Suidlanders wat dikwels uitwyk na “die berge en die grotte” of diegene wat glo hele naweke op sekere hoogtes gaan sit en wag vir die wegraping.

Daar is sonder twyfel aktiewe pogings deur verskeie individue om mense rondom hulle te skaar deur gebruik te maak van die Afrikaner se diepgesetelde godsdienssieninge. Ek kan nie help om soms te wonder of sommige van hierdie dinge nie maar net ‘n nuwe vorm van verkryging van mag en invloed oor mense is nie.

En helaas is daar ‘n algehele onwilligheid om te wil insien dat om net jou hoop op goddelike ingryping te vestig in die geloof dat God die Afrikaner weer sal red soos “God die Afrikaner by Bloedrivier en elders gered het” (om die VVK se voorwaarde vir Afrikanerskap aan te haal) nie alleen misplaas is nie, maar dit uit hierdie ontleding sekerlik duidelik moet wees dat “God” – indien hy dan wel bestaan – nog nooit aan die Afrikaner se kant was nie.

Dit is onder meer in die hoop dat hierdie uiteensetting ‘n mate van realisme sal bring, dat ek dit durf waag het om hierdie gedagtes op skrif te stel. Maar as ek so na die dinge kyk dan twyfel ek of dit wel gaan gebeur.

Maar ek weet, sonder die geringste twyfel daaroor, dat die Afrikaner vir sy toekoms net op homself aangewese is en hy sal, dalk teen die wil en dank van baie, moet begin besef dat hy eerder self moet beplan en doen as om te hoop op enige bystand, laat staan nog wonderbaarlike ingryping, deur enige godheid. Daar gaan vorentoe nie meer enige plusse wees nie – net minusse.

Лобановский

China of die VSA?

Die bepalende geopolitieke drama van die volgende eeu sal die stryd om mag en invloed tussen China en Amerika wees. Dat die opkomende stryd reeds ongemaklike keuses vir Asiatiese lande opdwing, is gewis. Hulle is tussen die twee globale reuse vasgevang.

Die Amerikaanse Senaat wil ‘n wetsontwerp wat voorsiening maak vir die oplegging van tariewe op Chinese goedere deursien, en dié konfronterende stemming in die VSA is ‘n dilemma vir China se bure.

China is nou die grootste handelsvennoot van Japan, Indië, Australië, Suid-Korea en die meeste lande in Suid-Oos Asië. Maar hierdie lande het steeds belangrike militêre verhoudings met die VSA. Hoe lank kan hul ekonomiese en strategiese belange in verskillende rigtings trek?

Nie vir lank nie, te oordeel aan ‘n redaksionele kommentaar in die People’s Daily verlede week. Die amptelike koerant van die Chinese Kommunistiese Party het uitgevaar teen “sekere lande” wat “dink so lank as wat hulle China kan uitbalanseer met die hulp van die Amerikaanse militêre mag, is hulle vry om te doen wat hulle wil”.
.
Die artikel is waarskynlik veroorsaak deur ‘n verklaring van Japan en die Filippyne. Die twee lande het belowe om vlootsamewerking ‘n hupstoot te gee en implisiet China se uitgebreide territoriale eise in die Suid-Sjinese See in geskil geplaas.

Maar China se waarskuwing kon ewe seer gemik gewees het op Viëtnam, Indië, Suid-Korea, Australië of Taiwan. Almal het oor die afgelope jaar militêre bande met Amerika versterk.

Amerikaanse hegemonie in die Stille Oseaan kan uiteindelik onvolhoubaar wees. China sal waarskynlik die wêreld se grootste ekonomie teen 2020 wees.

Met die Amerikaanse regering wat 40 sent van elke dollar dat hulle spandeer, leen, en China die grootste buitelandse koper van Amerikaanse skuld, is die Chinese indirek vir die befondsing van Amerikaanse militêre oorheersing van die Stille Oseaan verantwoordelik.

Selfs al versterk Amerika se bondgenote in die streek bande met die VSA, is hulle bekommerd dat Amerika se geldprobleme die land sal dwing om terug te skaal in die Stille Oseaan.

China is ook besig met die opbou van sy eie militêre arsenaal. Amerikaanse beplanners wys op die ontwikkeling van ‘n nuwe reeks Chinese missiele wat die vliegdekskepe waarop Amerika sy militêre oorheersing in die Stille Oseaan baseer, direk bedreig.

China se bure is ook bekommerd oor die land se groeiende spierkrag – en sy gewilligheid om dit te gebruik. Oor die afgelope paar jaar het China se maritieme dispute met Viëtnam en Japan ‘n nuwe bitterheid ingeslaan met botsings op die oop see, gevolg deur ewe bitter diplomatieke onderhandelinge.

Die Indiërs sê China is meer selfgeldend oor sy aansprake op dele van die Indiese grondgebied en Suid-Korea is ook senuweeagtig oor China se verhouding met die Noorde.

Die donker vertolking van China se optrede is dat nasionalistiese kragte op die land inspeel. Die jonger generasie, wat geskool is om te glo dat China geviktimiseer word deur die res van die wêreld is, want die land is swak, het invloed in Beijing.

‘n Ander interpretasie van Chinese optrede is dat die land se ekonomiese belange regoor die wêreld dit onvermydelik maak dat China strenger sal wees in die handhawing van sy belange. Die honger Chinese ekonomie is afhanklik van ingevoerde energie – en kwesbaar vir ‘n see-blokkade.

Maar selfs hierdie betreklik gunstige interpretasie van China se optrede is nie heeltemal gerusstellend nie. Dit dui daarop dat China en die VSA toenemend geneig is om mekaar se optredes en alliansies as bedreigend te interpreteer. Hulle reageer op maniere wat dan die ander kant se persepsie van aggressie voed.

Dit is ‘n patroon van groot kragte wat dalk ‘n klokkie vir studente van die 20ste eeu laat lui.

Miskien behoort president Obama volgende maand wanneer hy die Chinese ontmoet, ‘n uitstappie na Pearl Harbor te reël om almal te herinner van die gevare van strategiese misrekening in die Stille Oseaan.

topcargo отзывы

China is besig om SA oor te neem

Onlangs het Wes-Transvaal se premier, Thandi Modise, in teenwoordigheid van ‘n handelsafvaardiging uit die provinsie Henan in China, ‘n beroep op China gedoen om meer bondgenootskappe met Suid-Afrika aan te gaan en om meer geld in Suid-Afrika te belê. In haar toespraak het sy onder meer na die Provinsie se minerale rykdom, goeie landbou-opbrengste en toeriste potensiaal verwys as voorbeelde van beleggingsvelde en die terreine as lokaas vir beleggers uit China aangedui. Met hierdie uitnodiging aan China het ‘n hooggeplaasde ANC/SAKP ampsdraer die soveelste keer hierdie twee koalisie bondgenote se onderdanigheid aan China beklemtoon. Die agbare Wes-Transvaalse premier is nie die eerste hooggeplaasde ANC/SAKP ampsdraer wat China na Suid-Afrika probeer lok nie. Ook president Jacob Zuma het op 22 Augustus verlede jaar met ‘n besoek aan China begin. Tydens die besoek het die president naarstiglik probeer om China te oorreed om meer geld in Suid-Afrika te belê.

Ontleders wys daarop dat China ‘n groot rol gespeel het om die ANC, SAKP en verskeie ander organisasies te help om die bewind in Suid-Afrika oor te neem. China het veral grondstowwe en afsetgebiede nodig om sy ontsaglik groot bevolking aan die lewe te hou. Om China te nooi om in Suid-Afrika te belê, is maar net ‘n manier om China se rol en invloed in veral die ANC/SAKP bondgenootskap te probeer wegsteek.

Tereg kan gevra word waarom die klerewerkersvakbond al by verskeie geleenthede die ANC regering gevra het om die invoer van goedkoop lae gehalte klere uit China te staak. Die goedkoop klere word gretig opgeraap en die gevolg is dat die duurder en hoër gehalte Suid-Afrikaans vervaardigde klere nie verkoop word nie. Die toestand het op sy beurt tot gevolg dat plaaslik vervaardigde klere nie verkoop nie en dat Suid-Afrikaners, tot nadeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, sonder werk gelaat word. Die toestand bekommer die regering klaarblyklik nie.

In die media is vroeër vanjaar berig dat China se regstreekse belegging in AfrikaIande gedurende die eerste 6 maande van 2009 met 552 miljoen Amerikaanse dollar toegeneem het teenoor dieselfde tydperk in 2008. Nege-en-veertig AfrikaIande doen tans aktief sake met China en die AfrikaIande verkoop meestal grondstowwe aan China. Meer as 800 Chinese staatsinstellings is reeds in Afrika bedrywig. AfrikaIande wat tans die meeste beleggings uit China lok is Suid-Afrika (veral in ligte nywerhede, myne en finansiële instellings), Angola, Nigerië, Soedan, Zambië en die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Die wederkerige handel tussen China en Suid-Afrika het in 2009 reeds 119,9 miljard Rand beloop. China het ook 5,5 miljard Rand in die oorname van 20 % van Standard Bank se aandele belê. China het ook met ‘n belegging van 877 miljoen Amerikaanse dollar, ‘n kleiner platina-myn in Suid-Afrika oorgeneem. Voorbeelde van ‘n groeiende begeerte by China om die ekonomiese heerskappy van veral AfrikaIande oor te neem is legio.

Die vraag is net: Wanneer gaan die ANC/SAKP regerende bondgenootskap in Suid-Afrika besef dat China besig is om die ekonomie in Suid-Afrika oor te neem? Hy wat die ekonomie van ‘n land beheer, beheer ook daardie land se politiek.

данильченко юрій Харків

Zuma is ‘n etniese president

“President Zuma se gewildheidvlakke in metro-gebiede, soos gemeet in September, wys ‘n lang, stadige algehele daling sedert die hoogtepunte van November 2009,” het TNS se Neil Higgs gesê.

Die TNS-meningsopname toon verder dat die mees merkbare afname in die goedkeuring van twee kategorieë van Suid-Afrikaners kom, naamlik kleurlinge en Indiërs.

Die Indiër-etniese kombers dek dikwels mense wat hulself ook as kleurlinge of bruin beskou, omdat dit Afrikaanssprekende Moslems insluit.

Die daling was “meer merkbaar” onder kleurlinge, Indiërs en ouer mense wat staatmaak op die gedrukte media vir inligting. 

Is ons regtig verbaas dat kleurlinge en Indiërs nie van Zuma hou nie? Ten eerste is hy ‘n Zoeloe, wat duidelik Zoeloebelange op die hart dra, anders as Thabo Mbeki wat “nie-rassigheid” uitgedink het om aan ‘n klein invloedryke groepie Indiërs die voordeel van swartheid te gee. 

En natuurlik het Mbeki nie die Natalse geskiedenis van wedywering tussen Zoeloes en Indiërs mooi begryp nie. Onder Mbeki het Indiërs se rykdom dié van wittes verbygesteek, terwyl Zuma waarskynlik gesorg het dat hul voordeel besig is om te verdwyn.

Zuma se termyn is sonder twyfel ‘n etniese termyn. Die president se voorliefde om homself te omring met mense van sy eie etnisiteit, het tewens al kwaai kritiek ontlok. Die beskerming van Polisiekommissaris Bheki Cele en Intelligensiehoof Siyabonga Cwele, spreek daarvan.

Die president se vriendelike gebare teenoor Afrikaners, het die Indiërs wat onder Britse invloed verkeer, kennelik nog erder vervreem.

Die rubriekskrywer Anthony Butler skryf onlangs erg onthuts: “‘n Toenemende rassistiese diskoers heers in die [ANC] beweging, wat die bruines in die Wes-Kaap as bruikbare idiote van wit onderdrukkers beskou.”

Binne die staatsdiens, kruip senior amptenare wat duidelik nie swart genoeg is, maar vir lief moet neem met regstellende aksie onder die Zuma-bewind, weg soos hul wit eweknieë geleer het om te doen.

Zuma se briljante politieke stap tot dusver was egter om die Xhosas tot algehele oorgawe te dwing in ‘n swart bondgenootskap, iets wat die hoofstroommedia nie graag oor berig nie.

Gaan die DA voordeel trek hieruit? Tensy die party die Zoeloestem verdeel, sal hulle waarskynlik nie die pyp rook nie. In die Wes-Kaap is die DA besig om bruin DA-munisipale bestuurders soos Allan Paulse wat te veel oorleun na die ANC, uit te werk.

Dit moet goeie nuus wees vir die president.

Фильчаков прокуратура харьков