Ontleders wys daarop dat China ‘n groot rol gespeel het om die ANC, SAKP en verskeie ander organisasies te help om die bewind in Suid-Afrika oor te neem. China het veral grondstowwe en afsetgebiede nodig om sy ontsaglik groot bevolking aan die lewe te hou. Om China te nooi om in Suid-Afrika te belê, is maar net ‘n manier om China se rol en invloed in veral die ANC/SAKP bondgenootskap te probeer wegsteek.
Tereg kan gevra word waarom die klerewerkersvakbond al by verskeie geleenthede die ANC regering gevra het om die invoer van goedkoop lae gehalte klere uit China te staak. Die goedkoop klere word gretig opgeraap en die gevolg is dat die duurder en hoër gehalte Suid-Afrikaans vervaardigde klere nie verkoop word nie. Die toestand het op sy beurt tot gevolg dat plaaslik vervaardigde klere nie verkoop nie en dat Suid-Afrikaners, tot nadeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, sonder werk gelaat word. Die toestand bekommer die regering klaarblyklik nie.
In die media is vroeër vanjaar berig dat China se regstreekse belegging in AfrikaIande gedurende die eerste 6 maande van 2009 met 552 miljoen Amerikaanse dollar toegeneem het teenoor dieselfde tydperk in 2008. Nege-en-veertig AfrikaIande doen tans aktief sake met China en die AfrikaIande verkoop meestal grondstowwe aan China. Meer as 800 Chinese staatsinstellings is reeds in Afrika bedrywig. AfrikaIande wat tans die meeste beleggings uit China lok is Suid-Afrika (veral in ligte nywerhede, myne en finansiële instellings), Angola, Nigerië, Soedan, Zambië en die Demokratiese Republiek van die Kongo.
Die wederkerige handel tussen China en Suid-Afrika het in 2009 reeds 119,9 miljard Rand beloop. China het ook 5,5 miljard Rand in die oorname van 20 % van Standard Bank se aandele belê. China het ook met ‘n belegging van 877 miljoen Amerikaanse dollar, ‘n kleiner platina-myn in Suid-Afrika oorgeneem. Voorbeelde van ‘n groeiende begeerte by China om die ekonomiese heerskappy van veral AfrikaIande oor te neem is legio.
Die vraag is net: Wanneer gaan die ANC/SAKP regerende bondgenootskap in Suid-Afrika besef dat China besig is om die ekonomie in Suid-Afrika oor te neem? Hy wat die ekonomie van ‘n land beheer, beheer ook daardie land se politiek.
