Weer ‘n skoolaanval

‘n Graad 8-leerling het ‘n medeleerling buite die Eric Louw-hoërskool in Musina met ‘n skêr gesteek, het die polisie in Limpopo gesê.

Lt.kol. Ronel Otto sê: “Die ouer seun is in sy ribbes gesteek deur die jonger seun en hy is Donderdag inderhaas na die Louis Trichardt-medikliniek geneem.”

Die 13-jarige verdagte se ouers het hom na die polisiestasie geneem waar beamptes hom sal evalueer ingevolge die nuwe Kinderwet.

“Hy is Donderdag in sy ouers se sorg geplaas.”

Die motief vir die aanval is nie bekend nie en ‘n saak van aanranding is geopen.

лобановский александр отзывы

Krieket: Twee strydrosse kom tuis

Jacques RudolphVanoggend, Boeretyd, het twee half-ongewenstes in die Suid-Afrikaanse span bymekaargekom vir ’n onoorwonne 47-lopievennootskap, ’n veelseggende samewerking van die soort wat ware krieketkenners snoesig en tevrede laat voel. Mark Boucher en Jacques Rudolph het albei as jong sterre verskyn, maar wyduiteenlopende loopbane beleef, en tog is beide onbetwisbaar toetsstoffasie. Nietemin is hulle posisies in die span al hierdie hele seisoen in die gedrang.

Boucher is reeds vir bykans vyftien jaar deel van die ruggraat van die Suid-Afrikaanse span. Hierdie is sy 145ste toets en hy hou die Suid-Afrikaanse rekord van 76 ononderbroke toetsverskynings. Hy is eers as ’n kolwer gesien wat homself agter die penne kon handhaaf, maar met sy gewone onwrikbare deursettingsvermoë het hy in bloedige harde werk belê om een van die wêreld se beste handskoenmanne te word. Sy 546 slagoffers sluit 523 vangskote in – die meeste ooit ter wêreld. Deur die jare het hy ook ’n betroubare oog agter die paaltjies ontwikkel en hy is gereeld betrek in die mini-konferensies tussen kaptein, bouler en spanstrateë op die veld.

Die moderne paaltjiewagter kan egter nie net vanweë sy handskoenwerk in ’n span bly nie. Hy moet ’n bepaalde rol met die kolf speel. Boucher se kolfkarakter was as die hardnekkige, omgesukkelde Nommer Sewe. Hy was nog nooit flambojant nie, maar hy is dwarsdeur sy loopbaan as ’n gedugte lopiemaker beskou. Geen span kon die Proteas as verslane beskou terwyl Boucher nog daar was nie. Die gedagtebeeld wat meeste kriekettoeskouers van hom het, is met die oë wat stip onder ’n frons uitstaar, spiere wat onder stoppelbaardwangvelle maal en ’n bittereinderhouding.

Sy kolfgemiddeld is net oor die 30, aanvaarbaar vir ’n paaltjiewagterkolwer, maar statistieke dui nie aan hoeveel keer hy die laaste hardnekkige wal was wat in die Suid-Afrikaanse saak gegooi is nie. Male sonder tal het hy kosbare kastaiings uit die vuur gekrap, die stertkant gemobiliseer vir ’n laaste, deurslaggewende versetaksie, en het hy beslissende lopies uit die greep van die boulspan gewring.

Boucher se loopbaankrisis is dat hy as ’n ou speler gesien word in ’n Suid-Afrikaanse span wat besig is met ’n proses van vernuwing. Hy is ’n oorblyfsel uit ’n era van Donald, Pollock, Adams, Kirsten, Cronjé en Cullinan. Hy is bykans 36; benewens Jacques Kallis, sy boesemvriend, die oudste speler in die span. Tog is hy fiks en so beweeglik soos altyd, dus die fokus van kritiek is nou geruime tyd al op sy bydrae met die kolf. In alle waarheid gaan hy deur ’n dor strook as kolwer, en dit het hom reeds sy plek in die korter variëteite van die spel gekos. Na amper vyf-en-half-duisend lopies, veg ’n ware krieketheld, miskien nou nie vir oorlewing nie, maar ten minste vir die bevrediging om die spel as eerlike, waardevolle bydraer te verlaat.

Die ander speler ter sprake, Jacques Rudolph, is sedert kaalvoetdae as die ware Jakob gesien, met sy elegante, vloeiende hotkloukolfstyl, konsentrasie en temperament. Nadat sy promosie tot die toetsspan eers onsmaaklik versper is deur arrogante administrateurs wat in ’n misplaaste transformasieywer op die insluiting van die Kleurling Justin Ontong in Rudolph se welverdiende plek aangedring het, het die jong Jacques uiteindelik die toetsveld geneem teen Bangladesj waar hy summier 222 lopies in sy debuut aangeteken het. Hy het homself gevestig as ’n integrale lid van die span, maar weens swak toere Engeland, Indië en Wes-Indië toe, waar hy teen minder as 20 lopies per beurt gekolf het, is sy gemiddeld afgedruk na die middel-dertigs, wat nie die paal haal vir ’n toetskolwer nie.

Tog het hy in daardie tyd gewys dat, sy onaanstootlike persoon ten spyt, daar baie gruis in hom is. Sy rooiletterbeurt was in ’n wegtoets teen die Australië van Hayden, Langer, Gilchrist, Ponting en McGrath. En Shane Warne. Nadat dié blonde goëlbouler die hart uit die Suid-Afrikaanse kolflys geruk het, het Rudolph geduldig, verbete en vir baie lank voortgekolf om die toets te red. Die eerste persoon wat hom daarmee gelukgewens het, was Warne self.

Ná sy ontslag uit die toetsspan, het Rudolph sy pak gevat en aan die werk gespring om homself nie soseer te herontwerp nie, maar om net beter te word. Hy het na die taaiste leerskool – Engelse graafskapkrieket – gegaan en geleer om lopies in alle omstandighede te maak. So baie het hy daarvan gekry dat hy uiteindelik gevoel het hy kan ná jare uit sy selfgemaakte ballingskap terugkeer. Sy hertoetrede het by sy ou tuisunie, die Titane van Pretoria, begin. Daar het hy sy nuwe vakmanskap op die beste moontlike manier geïmplementeer: Tonne lopies op ’n baie bestendige manier. Uiteindelik was die absolute oormaat van sy lopies sodanig dat die keurders hom in die span móés betrek, en dit om die turksvyposisie as aanvangsmaat vir Graeme Smith te vul.

Sy terugkeer was nie ’n ramp nie, maar ook nie heeltemal bevredigend nie. Hy het in sy ballingskap albei aansigte van sy kolfwerk verbeter: Hy kan aanvallend wees, maar kan ook soos ’n Suid-Afrikaanse Dravid ’n muur naboots. Sy herontplooiing het meegeval met Gary Kirsten se eerste toets in beheer van die span en dit was moeilik om Rudolph se rol te definieer. Uiteindelik is daar besluit op Rudolph die Stempelafdrukker, daar om die Proteas op die voorvoet te kry en te hou. Hy het gereeld teen die Australiërs vinnig lopies gekry, maar gou uitgegaan. (In die bisarre toets in Kaapstad het hy die sonderlike onderskeiding behaal om sy kolfbydrae en veldwerk in beide beurte in ’n enkele dag af te handel.)

In Durban, teen die Aussies, het hy sy ander mondering aangetrek en ’n stoere, stadige aanvangsbeurt gespeel. Die rang was nie tevrede nie en Alviro Petersen is betrek om te open. Rudolph se brood was die ontslag van Ashwell Prince wat geruime tyd nie meer na toetsgehalte gelyk het nie. Hy is afgeskuif na die deurslaggewende nommer-6 posisie waar van die speler vereis word om óf steeks te kan verdedig, óf om weifelende aanvalle kis te slaan. Die Pretorianer het ’n bevredigende reeks teen die Sri Lankane gehad. Maar sy plek was geensins ’n gegewe nie.

In die huidige toets het die Proteas hulle beurt vanoggend hervat met die Jacques’e, Kallis en Rudolph, in die tuig. Die sending van die dag was om gou ’n wye genoeg voorsprong op te bou om tyd te hê om die tien Nieu-Seelandse paaltjies vir ’n oorwinning te neem. Kallis, reeds met ’n honderdtal, het min bygedra voordat hy op middebaan deur Nicol van Boult uitgevang is. AB de Villiers het kom kolf en gelyk asof hy al lankal daar was. Hy het fluks gekolf maar uiteindelik sy paaltjie vir die saak opgeoffer in ’n poging om te versnel.

Die volgende vennootskap was tussen Rudolph en Boucher, elkeen met sy eie agenda, sy eie stryd binne ’n stryd. En beide het ’n duidelike verklaring gemaak. Rudolph het ongehinder gekolf, meesterlik aan die wegkant gedryf en venynig gehaak en getrek, te midde van ’n baie digte verdediging. Voor etenstyd het hulle stadig gekolf – Rudolph om die beurt te anker en Boucher om sy voete te vind. Ná ete het hulle behoorlik aangeskakel. Rudolph het met oorleg en flair gespeel, goeie balle gestuit en middelmatiges gestraf. Die oomblik wat die Protea-telling 435 was – 400 voor die Kiwi’s – het Smith verklaar met Boucher op ’n stewige 34 en Rudolph op 105. Wat meer bevredigend was, was die manier waarop hulle die tellings gekry het: Rudolph met swier en sekerheid en Boucher op sy ou bekende, omgesukkelde manier.

Dit was ’n triomf vir dié twee en een kan nou sy loopbaan in vrede afsluit en die ander kan ’n tweede krieketlewe bou.

Nieu-Seeland is die taak gestel om 401 vir ’n oorwinning aan te teken. Dit lyk na ’n onhaalbare telling, maar hierdie is ’n wedstryd wat uiteindelik in die Proteas se greep kan ontplof. Guptill en Nicol is weliswaar goedkoop uit, maar McCullum en Ross Taylor het moeiteloos gekolf vir ’n indrukwekkende vennootskap van 82 teen bykans vier lopies per boulbeurt. Hulle kort net 264 lopies en het agt paaltjies om dit mee te doen.

Suid-Afrika se aanval lyk skielik slagtandloos. Dale Steyn het ’n vergruisde groottoon en is nie naastenby sy gebruiklike dodelike selwers nie. Beslissende, skeppende en aggressiewe kapteinskap gaan môre vir die Proteas nodig wees, en Graeme Smith begin verstok lyk in dié rol. Miskien is dit tog tyd om na die energieke, strydlustige AB de Villiers as opvolger te kyk.

прокурор харьковской области

Die redes waarom Zuma gaan bly

Ek het die afgelope tyd bewegings fyn dopgehou rondom ‘n potensiele opvolger as president.

Aangesien ek reeds weet dat die de facto president eintlik Jonathan Maximillian Ernest Oppenheimer is en die seremoniële posisie wat Zuma beklee nie saak maak nie, weet ek ook dat van Mandela tot Zuma almal maar moes gaan vra vir die posisie by Harry, toe Nicky en nou Jonathan.

Indien hulle nie van jou hou nie, of jy nie behoorlik wil saamwerk nie, sal jy uitgegooi word, soos ons ook gesien het met Zuma wat gesukkel het voor sy aanstelling.

Ek kyk na die huidige bewegings van Zuma en dit is baie duidelik dat hy die myne bevoordeel. Hy gaan vir hulle sorg met nuwe spoorlyne, uitvoerpoorte ens, verder moet hy die nationalisering van myne beperk tot uitgediende en nie-winsgewende myne.

Openbare paaie word geprivatiseer deur dit te oorhandig aan nie-regereringsinstellings wat dit bedryf maar die hawens en spore gaan met die belastingbetaler se geld opgegradeer word sodat die myne beter en makliker die land se rykdomme kan uitsuig.

Deur hierdie stap van Zuma kan ek net een van twee oorwegings hê. Die eerste is dat hy wil aanbly en dus hul guns moet wen, en die tweede is dat hy homself posisioneer vir sy uitrede se nie-amptelike goue handdruk.

Vir die Oppenheimers is die geraas oor nationalisering natuurlik baie voordelig, veral as hulle in beheer daarvan is. Hulle sal dus nie sommer ‘n nuweling wil toelaat soos Motlanthe wat baie maklik die jeugroete sal wil volg nie.

Hul veiligste opsie is om Zuma in die saal te hou. Malema is natuurlik ook uitgeskop omdat hy oor die Botswanaregering kommentaar gelewer het.

Dit is ‘n Oppenheimer-vriendelike regering en Jonathan is tans ‘n amptelike raadgewer van die Botswanase regering.

Ek is dus geen voorspeller nie, maar gegrond op die huidige speelveld en spelers kan ek net sien dat Zuma stewig in die saal gaan bly.

Данильченко

Jy hoef nie van Biff te hou nie, respekteer hom net

Graeme SmithDit was ’n dag van lesse ontvang en van lesse uitgedeel. Vernon Philander het geleer dat krieket nie net ’n  onafgebroke reeks pieke is nie en het in ses aflewerings ’n diep, donker vallei van sy eie ontdek. Die Nieu-Seelanders het van vooraf geleer wat dit van klein brakkies verg om saam met die groot honde te hardloop. Jacques Kallis het ’n meesterklas in die kuns en wetenskap gelewer. Maar die waardevolste opvoedkundige bydrae moet dié wees van Suid-Afrika se ongewilde en ongewaardeerde kaptein, Graeme Smith.

Nieu-Seeland se eerste beurt was nog onafgehandelde besigheid met die aanvang van spel. Hulle was vyf lopies voor Suid-Afrika met nog net een paaltjie oor. Dale Steyn, met ’n  linkervoet wat na gister se aksie lyk of hy dit onder ’n  grassnyer gehou het, het eina-eina ’n eerste beurt geboul waarna die bal na Vernon Philander aangegee is. Hy het reeds vier kopvelle buite sy tentdeur opgehang en was op soek na die veelseggende vyfde.

Hierdie hele somer al het kolwers gesukkel om hom te ontlont. Maestro’s soos Ponting, Hussey, Clarke en Dilshan het eenvoudig probeer om sy aflewerings sagkens en met die grootste konsentrasie te benader. Hulle het eenvoudig hulle naels ingetrek en toegelaat dat hy knaend die een bal na die ander net buite die wegpen boul. Sy geduld is sy beste eienskap en tot nou toe het hy eenvoudig aangehou totdat hy die kolwer tot onbesonnenheid dwing. Die vraag wat nog nie in sy loopbaan beantwoord is nie, omdat dit nog nie gevra is nie, is wat gaan hy doen as iemand alle ordentlikheid neerlê en net woes en wild om hom begin slaan.

Die kolwer wat nou miskien nie die volledige antwoord verskaf het nie, maar wat ten minste die vraag in hoofletters met baie uitroeptekens gevra het, was Trent Boult, ’n halm van ’n seun, iemand wat, as hy ’n gevangene was, die vroulike hoofrol in die tronk se verhoogproduksie sou kry. Hy het drie sesse en ’n vier van Philander se enigste boulbeurt van die oggend geslaan. ’n  Mens kon sommer hoor hoe die liggies in die Nieu-Seelandse – en ander spanne in die wêreld – se kleedkamers aangaan. Daar is geen geheim aan Philander nie. Elke kolwer weet wat hy gaan doen, en as hulle dit weet, en hulle het bietjie avontuursgees, kan hulle iets daaromtrent doen. Philander gaan baie gou variasie moet ontdek, want dis om van te sidder om te dink wat ’n Sehwag, Warner of Strauss aan hom sal doen as hulle hom aanval. Philander is ’n  talentvolle speler en is baie akkuraat, maar hy het nie die spoed om homself uit die moeilikheid te hou nie. As hy nie ’n  splinternuwe plan gaan uitdink nie, kan hierdie die roemrykste halfseisoenlange loopbaan ooit wees.

Dale Steyn, seer voet en al, het die Kiwi-beurt die genadeskoot gegee: ’n  Eenvoudige, vinnige bal op koers na Chris Martin se midderif en dié het dit uitgedruk na die bykant toe om uitgevang te word.

Dit het vir Alviro Petersen en Graeme Smith paaltjies toe gebring vir Suid-Afrika se tweede beurt. Die Nieu-Seelanders, met hulle 35-lopie voorsprong, was stert in die lug. Hulle het begin om wasemrige berekeninge te maak: As Suid-Afrika 250 lopies in die tweede beurt kry, beteken dit die Swart Kepse moet 216 kry vir ’n  oorwinning. Nie maklik nie, maar haalbaar. 250? Nou ja, dít kan taai wees. 300? Onmoontlik, eintlik.

Petersen en Smith het duidelik ’n  kolfplan gehad. Die naam daarvan is: Ons Druk Ons Stempel Af. Petersen het te veel entoesiasme daarvoor geopenbaar en sy gebruiklike doeltreffende styl ingeboet deur te rukkerig en hard te swaai of te dryf na meeste balle. Na 25 lopies het hy gesneuwel – uitgevang op vlak halfweg met Suid-Afrika ’n skamele 12 lopies voor.

Amla het gekom en Amla het gegaan, ingedoen met ’n baie twyfelagtige TV-beslissing wat moes bepaal of Martin Guptill hom op tweede glip uitgevang het.

So stryk Jacques Kallis toe die arena binne en op sy rekord is 12,000 plus nog ’n  paar lopies, op 600 na soveel as wat die hele Nieu-Seeland-span saam in toetse behaal het. En die Swart Kepse lag in hulle mou want die Swart Kepse dink die legende is oor die muur, of ten minste in ’n vormdeining. Sy nulletjie in die eerste beurt het hulle daarvan oortuig. En ja, sy tydsberekening was effe uit om mee te begin, en sy korrel bietjie skeef en sy voete swaar. Maar hy het hier verstel, daar gepeuter en uit die moeilikheid gebly. En toe, kliek!, toe werk alles weer. Daar was een besondere hou van hom – ’n  agtervoetdryfhou oor diepweg vir ’n  vier – en toe weet die Kallis-kenners, ja, hier kom ’n  lang dag vir die Kiwi’s. Werklik begaafde spelers – ’n  Kallis, Ponting of Tendulkar – speel hulleself voor die paaltjies terug in vorm.

Aan die anderkant van die kolfblad was ’n ou drama opnuut besig om te ontvou. Graeme Smith en sy gebreklike tegniek het vir die Kiwi-boulers die hele toets al na maklike prooi gelyk. Hulle sou net effe wyer as gewoonlik buite die wegpen boul en hy sou een of ander tyd hulle werk vir hulle doen met ’n  onweldeurdagte kap- of dryfhou. Maar Smith het nou ’n nuwe, baie onverwagte element tot sy mondering gevoeg: Geduld. Hy het op sy wegpen stelling ingeneem, alles gelos wat nie sy bene of paaltjies sou tref nie, en net gewag.

Die spanning was telkens te veel vir die Nieu-Seelandse boulers en hulle het die aanval na sy bene geskuif in ’n hoop om hom te BVP. En dan, met sy oordrewe onderhandgreep, het hy die bal met die mees frustrerende gemak weggewerk na die bypen. Gaandeweg het hy begin ontspan, sy spiere het ontknoop, sy bewegings meer vloeiend geword en hy kon toeslaan. Nadat die Kiwi’s algar verseker is dat Smith se greep hom verhoed om die bal hard aan die wegkant te slaan, het hy ’n  paar goeie houe deur die dekke gedryf.

Smith probeer nie sy tegniese gebreke verdoesel nie. Hy vind net ’n manier om met dít en al sukses te behaal. Dit is die kenmerk van ’n  grootse sportman. Dit is wat kampioene doen. Sergei Bubka het ’n krom paalspringtegniek gehad, en die grootste paalspringer tot nou toe geword. Carl Lewis se verspringtegniek was eintlik lagwekkend – maar hy het Olimpiese goue medaljes daarmee gewen. Steffi Graf het nie ’n  rughand gehad nie en tog vier Grand Slam-toernooie in een jaar gewen…

Graeme Smith se persoonlikheid stoot baie mense af, en ek sal nie sê hulle is almal verkeerd nie. Maar hy verdien respek vir die krieket wat hy speel. Hy is uiteindelik uit vir 115, met die bekende ou binnerandkap in die paaltjies vas. Hy en Jacques Kallis het presies 200 lopies vir die derde  paaltjie aangeteken. Sy plek is ingeneem deur Jacques Rudolph eerder as die verwagte AB de Villiers, op sigself ’n bemoedigende teken dat die nuwe Protea-bestuur ’n prysenswaardige buigsaamheid het. Die nuwe bal was pas in spel en Rudolph is in wese ’n openingskolwer. Boonop is hy ’n linkerhander wat die hotklou- haarkloukombinasie in stand sou hou.

Teen uitskeityd was die Proteas 233 lopies voor die Nieu-Seelanders met net drie paaltjies wat geval het.

Die Kiwi’s is soos klein hondjies wat saam met die grotes probeer hardloop. Aan die begin nael hulle verbete en is verbaas om te sien hulle bly by die groot honde. Maar dan kom hulle agter die grotes het nog net gedraf en as dié nou regtig begin hardloop, vind die kleintjies dit onmoontlik om by te bly. Die Nieu-Seelanders het seggenskap in hierdie toets behou net omdat die Suid-Afrikaners nog nie werklik met mening gespeel het nie, en omdat die Kiwi’s elke plan in die boek en daarbuite probeer het.

Word hulle afgeransel in hierdie toets, iets wat toenemend waarskynlik lyk, hoe op aarde gaan die Nieu-Seelanders hulleself vir die volgende twee toetse bymekaarmaak?

My raaiskoot is dat hulle hulleself aan die waarheid, dat hulle teen ’n baie beter span speel, sal oorgee, en dan hulle pak soos ’n man vat.

лобановский александр дети

‘n Pil teen rassisme?

‘n Doodgewone hartpil het die ongewone newe-effek om rassisme te bekamp, het ‘n nuwe studie aangedui.

Wit vrywilligers wat die beta-blokker gebruik het om pyn op die bors en laerhart te behandel, het op ‘n standaard sielkundige toets van “implisiete” rassistiese houdings beter gedoen.

Hulle skyn minder rasbewus te wees op ‘n onbewuste vlak as ‘n ander groep wat behandel is met ‘n “pop” placebopil.

Wetenskaplikes glo dat die ontdekking verduidelik kan word deur die feit dat rassisme fundamenteel gegrond is op vrees.

Propranolol werk beide op senuweeverbindings wat outomatiese funksies soos hartklop reguleer, en die deel van die brein wat betrokke is in vrees en emosionele reaksies. Die dwelm word ook gebruik om angs en paniek te behandel.

Eksperimentele sielkundige Dr. Sylvia Terbeck, van die Universiteit van Oxford, wat die gepubliseerde studie in die joernaal Psigofarmakologie gelei het, het gesê: “Ons bied nuwe getuienis oor die prosesse in die brein wat implisiete rassevooroordeel vorm.

“Implisiete rassevooroordeel kan voorkom word, selfs in mense met ‘n opregte geloof in gelykheid. Gegewe die belangrike rol wat sulke implisiete houdings blykbaar speel in die diskriminasie teen ander etniese groepe, en die wydverspreide gebruik van propranolol vir mediese doeleindes, is ons bevindinge ook van groot etiese belang. “

Twee groepe van 18 deelnemers het aan die studie deelgeneem. Elke vrywilliger is gevra om ‘n “rasimplisiete toets” (IAT) te onderneem 01:59 uur na die neem van propranolol of die placebo.

Die toets kategoriseer positiewe en negatiewe woorde en foto’s van swart en wit individue, op ‘n rekenaarskerm.

Verskille in die tyd geneem om die take uit te voer, vorm die basis van die resultaat.

Meer as ‘n derde van die vrywilligers het ‘n “negatiewe” IAT telling gehad, wat beteken dat hulle vooroordeel teenoor nie-rassigheid op ‘n onbewuste vlak was. Die placebogroep het dit nie getoon nie.

Propranolol het egter geen effek op “uitdruklike” rasse-vooroordeel, godsdienstige en seksuele vooroordeel, of vooroordeel teen dwelmverslaafdes nie.

Dít is getoets deur gebruik te maak van ‘n “gevoeltermometer”, ‘n sielkundige instrument wat gebruik word vir die assessering van eksplisiete vooroordeel. Vrywilligers is gevra om te toon hoe “warm” hulle gevoel het teenoor verskillende groepe op ‘n 10-punt skaal analoog aan ‘n termometer.

Die wetenskaplikes sê: “Die belangrikste bevinding van die studie is dat propranolol implisiete, maar nie uitdruklike rassevooroordeel nie, aansienlik verminder.”

Ten spyte van die studie se klein grootte en beperkinge, glo die navorsers dat dit aanleiding gee tot belangrike etiese en filosofiese vrae.

Mede-outeur Professor Julian Savulescu, van Oxford Universiteit se Fakulteit van Filosofie, het gesê: “Sulke navorsing verhoog die aanloklike moontlikheid dat ons onbewuste rasse-houdings gemoduleer kan word deur dwelmgebruik, ‘n moontlikheid wat versigtige etiese analise vereis.

“Biologiese navorsing wat gerig is daarop om mense moreel te verbeter het ‘n donker geskiedenis. En propranolol is nie ‘n pil om rassisme te genees nie. Maar gegewe dat baie mense reeds ‘n middel gebruik soos propranolol wat “morele” newe-effekte het, het ons ten minste nodig om beter te verstaan ​​wat hierdie gevolge is. “

Maar Dr Chris Chambers, van die Universiteit van Cardiff se Skool vir Sielkunde, het gesê die resultate moet “uiters versigtig” benader word.

Hy het gesê: “Ons weet nie of die dwelm rasse-houdings beïnvloed en of dit die brein oor die algemeen aantas nie.

“En… die gevolge was as gevolg van die middel wat toevallig hartklop verminder. Dus, hoewel interessant, in my mening is die voorlopige resultate ver van iets wat daarop dui dat propranolol spesifiek rasse-houdings beïnvloed.”

лобановский александр жена

Die ANC en die nuwe Fascisme

“And one day, too late, your principles, if you were ever sensible of them, all rush in upon you. The burden of self deception has grown too heavy, and some minor incident, in my case my little boy, hardly more than a baby, saying “Jew swine,” collapses it all at once, and you see that everything, everything, has changed and changed completely under your nose. The world you live in – your nation, your people – is not the world you were in at all. The forms are all there, all untouched, all reassuring, the houses, the shops, the jobs, the mealtimes, the visits, the concerts, the cinema, the holidays. But the spirit, which you never noticed because you made the lifelong mistake of identifying it with the forms, is changed. Now you live in a world of hate and fear, and the people who hate and fear do not even know it themselves; when everyone is transformed, no one is transformed. Now you live in a system which rules without responsibility even to God. The system itself could not have intended this in the beginning, but in order to sustain itself it was compelled to go all the way.” – Milton Mayer: They Thought They Were Free: The Germans 1933-1945

Na ‘n paar literêre omswerwinge het ek toevallig op hierdie artikel afgekom wat nogal ‘n ysingwekkende herinnering aan die ANC se ‘transformasie’ geword het. Praat van die ou Franse gesegde plus ça change, plus c’est la même chose, oftewel hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Die akkuraatheid van hierdie proses is vandag net so aktueel soos destyds. Dit mag duidelik wees dat die ANC/SAKP-kliek eintlik ‘n fascistiese instelling is en hul skynheilige verset teen fascisme en apartheid ‘n rookskerm is om die ware kwaad te laat gedy.

Voordat ek beskuldig word dat ek die term “fascisme” slordig en puberaal rondstrooi, mag dit ‘n goeie idee wees om net gou hierdie stelsel van nader te ondersoek. Streng gesproke is dit moeilik om grondig te definieer aangesien dit meerdere manifestasies het, dog die historikus dr. Lawrence Britt het goed geslaag om die essensie van hierdie sisteem saam te vat aan die hand van veertien kenmerke.

Hierdie kenmerke is die volgende:

1. Magtige en voortslepende nasionalisme. Nasionale simbole word so veel moontlik versprei en aangehang.
2. Minagting vir menseregte. Menseregte word dikwels as hindernis beskou en moet opgeskort word ter wille van die ‘transformasie’ en veiligheid van die volk.
3. Identifikasie van sondebokke en vyande as bindmiddel.
4. Verheerliking van die weermag, selfs ten koste van plaaslike probleme en dispute. ‘n Buite proporsioneel hoë belang word aan ‘n sterk weermag geheg.
5. Alomteenwoordige seksisme. Die nadruk lê op mangedomineerde samelewings en die tradisionele geslagsrolidentiteit word rigied in stand gehou.
6. Hoofstroommedia word direk of indirek deur die staat beheer.
7. Obsessie met staatsveiligheid. Dikwels word vrees gebruik om mense in gelid te hou.
8. Staat en geloof is deurmekaar gevleg. Dikwels word geloof gekaap om mense te indoktrineer om die belang van die staat te dien, selfs al druis die staat se optredes lynreg teen die grondbeginsels van die geloof in.
9. Korporatiewe mag word beskerm.
10. Vakbonde en georganiseerde mankrag word onderdruk. Hierdie vorm ‘n belangrike bedreiging vir Fascisme en moet soveel moontlik onklaar gemaak word.
11. Minagting vir intellektuele en die kunste. Vyandigheid teenoor hoër onderwys en vervolging van intellektuele vorm ‘n belangrike kenmerk van fascisme.
12. Obsessie met straf en vervolging. Die polisie het byna onbeperkte bevoegdhede en mense sal mishandeling tolereer ter wille van patriotisme.
13. Grootskalige vriendskapspolitiek en korrupsie. Sulke regimes word gekenmerk deur ‘n kliek ingewydes (amptenare en industrialiste) wat mag steel soos hulle wil terwyl die regering hulle beskerm.
14. Verkiesingsbedrog. Hieronder verstaan ons alles wat hiermee gepaardgaan, van moord op opposisielede tot regter Kriegler met sy “‘n mens kan nie kuis bly in ‘n bordeel nie”.

Hierdie kriteria is baie handig om net gou ‘n idee te kry wat ons kan verwag in fascistiese stelsels, maar dr. Britt het egter nagelaat om die presiese oorsprong van hierdie eienskappe te noem, en verwys slegs oppervlakkig daarna in kriteria 9 en 10. Die genoemde kenmerke is slegs simptome van ‘n fascisme, oftewel die eksterne manifestasies daaraan. Daar moet iets intern gebeur om hierdie kenmerke voort te bring en dit is belangrik om hier kennis van te neem: Fascisme ontstaan wanneer die groot bedrywe in ‘n land baie nou begin saamwerk of saamsmelt met die staat. Dit impliseer dat die staat gekaap word om korporatiewe belange te dien, en wetgewings, beleidsrigtings en politieke partye word ingesit om hul belange te beskerm ten koste van die gewone mens. Hierdie bogenoemde manifestasies word ingesit omdat dit help met om die groot bedrywe se belange en ambisies te bevorder. Die aartsvader van fascisme – Benito Mussolini homself – het op ‘n stadium gesê dat fascisme net sowel Korporatisme genoem kan word. Staatshoofde wat hierdie samesmelting teengestaan het soos Lincoln, Kennedy en Verwoerd, het toevallig almal die hoogste prys betaal.

As ons na die wêreld anno 2012 kyk kan ons bepaalde ooreenkomste maar ook verskille sien met die fascisme van weleer. Die verskil is dat destyds was bedrywe hoofsaaklik nasionale pronkstukke van hul land gewees en het selde invloed duskant die grens gehad, vandaar die obsessie met dit wat eie aan die volk is. Deesdae opereer groot bedrywe byna altyd internasionaal en bestaan die nuwe tydsgees daarin om mense soveel moontlik oor grense heen met mekaar te verbind. Dit impliseer dat die vroeë fascisme deesdae uitgedien is, en solang die globalisasie voortsleep sal dit geen formidabele beweging meer word nie, aangesien die magtigste bedrywe juis daarteen wed. Die alewige angs van ‘n regse, ‘herlewing van fascisme’ is daarom grotendeels sinneloos, maar wel nuttig vir sluwe heersers om hul volkere hiermee te indoktrineer.

Fascisme is geensins dood nie! Inteendeel. Dit het gemuteer in iets wat baie meer verraderlik en grimmig opereer. Die minagting vir die gewone mens is nie meer beperk tot binne landsgrense nie, maar word wêreldwyd ‘n probleem. Kyk maar hoe word daar getroutrek in Kanada met Brandon Huntley se asielstatus, selfs al kan gesien word hoe Madiba en Kasrils geen bewondering vir hul wit medeburgers koester nie. Sal ons voorbarig kan konkludeer dat korporatiewe belange onder hierdie asielstatus kan ly?

Die gevare van die Mussolini/Hitler/Francofascisme ken ons teen hierdie tyd al goed, maar wat is die gevare van die nuwe globale fascisme (wat ook ironies anti-fascisme genoem word)? Dit is dieselfde gevare as wat ons onder kommunisme gesien het, en ek dink selfs dat ons die sosialistiese Internasionale net so goed die fascistiese Internasionale kan noem. Dit bestaan hoofsaaklik daaruit dat mense se inherente en unieke identiteit ontken word. Hulle word slegs ingesit om korporatiewe belange te dien. Daar word nie meer van mense verwag om hul talente en ambisies te ontplooi nie, maar slegs om in die aanvraag na werk te voorsien. Mense is deesdae steeds minder opwaarts mobiel vergeleke met vroeër en daar word nouliks permanente werkskontrakte uitgedeel, hooguit tydelike kontrakte waardeur hulle nie kan profiteer van arbeidsvoordele nie. In lande soos Nederland, Frankryk en Skandinawië is dit moeilik om jou genialiteit of talente om te sit in ‘n werkbare onderneming sonder om deur allerlei reëls, belastings en ander beperkinge gedwarsboom te word, met die gevolg dat jy uiteindelik slegs ‘n fraksie kan doen van dit wat jy beoog het. Selfs as ek kyk na die sielkunde opleiding wat ek hier gevolg het kan ek duidelik sien dat hulle jou nie stimuleer om die mens in al sy fasette te ontdek nie, maar uiteindelik slegs moet weet hoe om navorsing te doen wat van korporatiewe belang is. Daar is geen siel in sielkunde meer nie, en studente word nie meer gestimuleer om vir hulself te dink nie, maar slegs om voorafbepaalde reëls te volg.

Die siniese manier waarop geloof behandel word deur die grootmagte en die herhaalde nadruk dat integrasie en samewerking prioriteit geniet, veroorsaak dat mense geen gesonde basis het waarop hulle hul morele kernbeginsels op kan bou nie. Dit veroorsaak verder dat hulle moeite gaan hê om belangrike besluite te maak en nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie, met verdere verwarring en angs as gevolg. Mense word met ander woorde gereduseer tot kuddediere. Hierdie situasie word vererger deurdat mense gestimuleer word om nie meer na hul hoër vryhede te streef nie. Hoër vryhede vereis indiwidualisme, selfkennis, selfdissipliene en ‘n goeie fondament van kernbeginsels, terwyl die laer vryhede soos dwelmmisbruik, apatie, seksuele losbandigheid ensovoorts bevorder word. In Nederlandse terme dink ek byvoorbeeld aan ‘n sekere televisiepersoonlikheid genaamd Paul de Leeuw. Hierdie kort, korpulente walglike vent wat homself soos ‘n kleuter gedra, vroumense belaster of onsedelik aangryp en allerlei stories vertel hoe hy homself soggens onder die stort bevredig, word tot Ridder in de Orde van Oranje-Nassau geslaan, terwyl intellektuele soos WF Hermans, Pim Fortuyn of Ayaan Hirshi Ali vermoor of weggetreiter word. Die enigste deug in Nederland wat onaantasbaar en heilig is, is die grys middelmaat, die onnosel kroegpraat en natuurlik sokker…brood en spele vir die gepeupel.

Terwyl die gewone mens afgelei word met hierdie aktiwiteite en liewer agter die Playstation sit as om Sokratiese dialoë te lees, verslind hierdie onsigbare monster ons begrip van ons onvervreembare vryhede en beloon ons om nie meer kritiese vrae te stel nie. Ons selfinsig verhard tot arrogansie en ons selfrespek verval tot narcisme.

Uiteindelik kos dit slegs ‘n klein, laaste strooi wat die rug van die kameel laat breek en ons sit met dieselfde ellende as destyds, met die verskil dat dit meer onsigbaar, groter en omvangryker is. Ons gaan sondebokke verketter terwyl ons nie eens weet of hulle werklik skuldig is nie.

Dalk vergeet ons die geboue, die museums en die literatuur van ons voorouers. Maar iets wat ons nooit moet vergeet nie is die gees wat hulle gemotiveer het om hierdie volksbesit moontlik te maak nie. Die Fascisme van ons tyd is vyandig teenoor daardie gees, en dis van uitermate belang dat ons dit moet beskerm asof ons lewens daarvan afhang.

Soos Oom Jaap Marais destyds gesê het, behoort die land met al sy skatte nie aan ons nie, maar het ons in erfpag ontvang van ons kinders, en na hulle moet dit teruggaan.

Фильчаков прокурор

Dis ’n Benz, en ja, dit is Kuns

{jathumbnail off}

Benz Cabriolet

Vertoef ‘n oomblik om saam met my die hoed te lig vir een van die twintigste eeu se uitstaande kunstenaars – Paul Bracq. Dis Bracq, nie Braque nie. Ek het onlangs weereens die uitsonderlike vreugde gehad om een van sy kunswerke vir ‘n paar kosbare oomblikke te sien. Dit was in die Noordelike pelse-en-pondevoorstede van Johannesburg, ná ‘n halfdag se rondry, akuut verveeld om net nóg ‘n Lamborghini, net nóg ‘n 911 Porsche, net nóg ‘n Audi R8 te sien, om van BMW M5’e, Range Rover Malemas en allerlei rooi Ferrari’s nie te praat nie. En daar was dit, statig swewend uit ‘n systraat: ‘n Mercedes Benz W112-koepee, ivoorkleurig. So grasieus en solied soos Roger Federer se agterbaanspel en so elegant soos… ûh soos Roger Federer. Of soos Hugh Grant.

Dié, as stylbewuste pierewaaier, het een gery in The Diary of Bridget Jones. Dit was nie die W112 se enigste filmerkenning nie. Justin Bartha se karakter het een geleen by sy aanstaande skoonpa in die onlangse ribkrakerkomedie, The Hangover. Die motor was die onbetwiste ster van die rolprent.

“Benze word gery deur dokters en slagters,” word daar in Beiere gespot. (Hou net in gedagte dat die “B” in BMW vir “Beierse” staan.) Mercedes-Benz het ongetwyfeld, en het vir talle dekades nou al, die reputasie dat dit goedontwerpte en wonderlik vervaardigde motors is – maar dat dit bietjie tekort skiet in die panache-afdeling. Wat ‘n gruwelike wanvoorstelling van die feite! Mercedes-Benz het nog altyd die vermoë gehad om die wêreld se asem weg te slaan met flambojante nuwe aanbiedinge, soos die legendariese meeuvlerkkoepee van die 50s of enige van die SL-modelle. Dis net Benz wat ‘n SLK-karretjie se enjin ruim sal volstop met ‘n knoorse V8 soos hulle befaamde 6,3-liter. En sê wat jy wil van 2005 se CLS “vierdeurkoepee” – dis baanbrekend en sal oor vyftien jaar nog net so vars en uitspattig as tans vertoon. Panache! Ga! Ja! En debonair en suave en elke ander Franse uitdrukkings vir hierjy! waaraan jy kan dink.

Die Daimler-Benz-manne het boonop die vermoë gehad om nie net iets vars uit niks te maak nie, maar om ‘n bestaande motor met ‘n paar vlugtige hale van potlood en gradeboog in iets nuuts en besonders te verander. Die tweedeur-W111/2 het geensins nuwe tegnologie na die vertoonkamer gebring nie. In 1959 het die Stuttgarters ‘n groot outomotiewe sprong met die W111- en W112-sedanmotors gegee. Hierdie motors was wonderlik geskape, in die beste Benz-tradisie, maar hulle was ook heel vernuwend, met ‘n eenheidsbakontwerp met frommelstroke en versterkte passasiersruimtes vir ongeëwenaarde veiligheid, en die laespilpuntswaai-as vir die agterste suspensie wat hulle by die legendariese SL300 geleen het. Die uitstaande uiterlike ontwerpselement was die twee kattebakvinne wat die vlerkies was in die sogenaamde vlerkies-Benz.

Die gewigtige denkers in Daimler-Benz se agterkamers het teen hierdie tyd die agterkant van hulle potlode gekou oor ‘n vroeëre verskynsel. Hulle het opgemerk dat een manier om ʼn Mercedes-Benz meer begeerlik te maak, is om twee van die deure weg te vat. Dié taak is oorgedra aan ʼn jong nuwe ontwerper wat Citroen in 1957 vir Benz verlaat het: Dieselfde Paul Bracq waarvoor ek so flussies my hoofdeksel verwyder het. Hy was vir die vlerkies-Benz wat Edward Scissorhands vir ‘n struik was en het begin deur die vlerkies van die Benz te verwyder. Wat oorgebly het, is ‘n lang, slanke horisontale staaf, ‘n motor van sulke onderbeklemtoonde swierigheid, sulke eenvoudige sierstyl, jy moet kyk, en weer kyk, om die suiwer elegansie daarvan in te neem. In koepeegestalte is die motor sjarmant; as cabriolet is dit verruklik.

Spoed was nooit ‘n oorweging nie en hierdie tweedeurkoetse is aanvanklik rustig aanbeweeg deur ‘n onderpresterende 2,2-liter wat 100 kilowatt vir die 220SE W111 ontwikkel het, en ‘n drieliter-, 134-kilowatt- reguitses vir die 300SE W112 (wat ook met lugsuspensie gepronk het). Die 220SE het later die 250SE geword en toe die 280SE wat een van die beroemdste enjins van alle tye, Mercedes-Benz se klassieke 2,8-liter, enkelbonokas, bevat het. ‘n 3,5-liter-V8 is later bygevoeg en dié variante is raaiselagtig genoeg die 280SE 3.5 genoem.

Selfs met die tweederdedosyn onder die vel, was die W111/2’s nooit blitsmotors nie. Maar die rygenot, en meer nog, die ferm knusheid waarmee jy daarin ontvang is, was prima gehalte. Dit het die diep duursame genot van ‘n hereklub verskaf, die skimp van duur whiskey en duurder sigare, van gedempte klassieke musiek en onverganklike letterkunde. Dit bring ‘n vertroue in die soliditeit daarvan, ‘n verwondering oor die duursaamheid en ‘n onaantasbare gevoel dat jy betyds sal wees vir al die belangrike afsprake van jou lewe, al haas jy jou nie.

Daar is ‘n presiesheid aan die groot motors, en ‘n verbasende gewillige ratsheid. Wys hom waar om te gaan, en hy gaan. Ek het die buitengewone vreugde gehad om een ‘n bietjie swaarvoet te gee oor Ou Kaapse Weg met die M3 langs in De Waal-weg in tot in die middedorp van Kaapstad. Dis ‘n swaar voertuig maar het baie asem en as hy eers op spoed is, verslind sy die pad in ‘n moeitelose vaart. Daar is geen sug en sak deur die draaie nie; die kinkels word eerder met ‘n soort minagting uitgestryk. Die vierspoed- outomatiese ratkas kliek nie geruisloos soos Chrysler se Torqueflite van dieselfde jare oor nie, maar met ‘n netjiese, presiese knik. En wanneer jy die hokaai inskop, gryp die uitstekende remme vas en die groot motor stop met ‘n verstommende gedienstigheid op die daad.

As ‘n mens mag droom, laat ons hieroor droom: In die tydvak van die W112 was die klein V8 wat hulle gebruik het nie die enigste een in Benz se pakstoor nie. Hulle het ‘n monsterenjin, die 6,3-liter wat in hulle 600-limousine gebruik is, tot hulle beskikking gehad. ‘n Betreklik kranksinnige eksperimenterende ingenieur, Erich Waxenburger van D-B, het een daarvan in ‘n W109, wat nie veel van die W112 verskil het  nie, ingeknars. Dié motor was bekend as die 300 SEL 6,3 en was die vinnigste sedan van sy tyd wat die 100 km/u-kerfie in net oor die sewe sekondes kon afransel. Daar is natuurlik kenne gevryf en gepeins of hulle dieselfde guns vir die W112-koepee sou doen. Maar daar is daarteen besluit. Netnou vang ‘n Benz-eienaar iets so onbesonne aan as om ‘n Jaguar E-type daarmee op ‘n knop te jaag en dit sou net te vulgêr gewees het. Maar ai…

Niks se ge-ai nie. Die  motor het dit nie nodig nie. Met ‘n groter enjin sal jy jou bestemming gouer bereik. En gegewe die rygenot van die W112-tweedeur, wat is die sin dáárvan?

Prost, Herr Bracq! En dankie vir die vreugde!

лобановский александр дети

Tutu skerm vir Britse imperialis

Aartsbiskop Desmond Tutu sê politici moet sensitief wees wanneer name van voormalige leiers verander word.

Die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe het reeds in 2010 gevra dat Rhodes Universiteit se naam verander word.

Die Cape Times berig dat Tutu gesê het leiers moet almal wat ‘n bydrae tot die demokrasie gemaak het, oorweeg, want niemand kan ​​op hul eie opstaan om die eer te kry nie.

“Moenie dat dit ‘n verdelende oefening word nie – soos in KwaZulu-Natal gebeur het. Ons moet grootmoedig wees. Laat ons nie mense se neuse in die stof vryf nie, mense met wrewel vul nie,” het hy gesê.

“Die geskiedenis is ‘n vreemde ding. Vandag se leiers kan môre se verloorders wees.”

Tutu het gepraat by die naamsverandering van Rhodes Universiteit se fasiliteite in die Oos-Kaap Woensdagaand.

Struggle-helde soos aartsbiskop Desmond Tutu, Fort Calata en Ellen Khuzwayo word vereer deur Rhodes Universiteit wat geboue na hulle vernoem gekry het.

Die Universiteit se vise-kanselier Dr Saleem Badat het gesê die skuif was “erkenning vir die bydrae van hierdie buitengewone lewens”.

“Die naam van ‘n koshuis is meer as om net ‘n naam aan ‘n gebou te heg. Dit is ook ‘n weerspieëling van etiese verpligtinge en ‘n belangrike komponent van die institusionele kultuur,” het hy gesê.

Soortgelyke plegtighede het in die verlede plaasgevind waar sale en geboue vernoem is na Nelson Mandela, Chris Hani, Adelaide Tambo, Joe Slovo en Victoria Mxenge.

DASO, die DA se jeugvleuel het in 2010 ‘n petisie gereël om die voorgestelde naamsverandering van die instelling self te stuit.

Prof. Alan Kirkaldy het vroeër ‘n verklaring uitgereik namens die Nasionale Tersiêre Onderwys Personeel Unie (NTESU) ter veroordeling van rassisme asook seksisme en homofobie. Hy het sy kommer uitgespreek oor die Universiteit se verbintenis tot transformasie.

Kirkaldy het gesê dat Rhodes ‘n lang pad vir ‘n tradisioneel wit universiteit gekom het, maar steeds baie het om te doen. Sasco het ook ‘n oproep gedoen dat die naam van Rhodes-universiteit verander moet word as gevolg van die verband met die Britse kolonialis Cecil John Rhodes.

“Rhodes was ‘n massamoordenaar en ‘n rassis,” sê Kirkaldy, ‘n geskiedenis-professor. “Ek het ‘n gas gehad wat hier besoek afgelê het, wat verbaas was dat daar nog ‘n koshuis met die naam van Jameson House bestaan.” Jameson was ‘n imperialis en ‘n goeie vriend van Rhodes.

Die portrette van “ou wit mans” moet van die universiteit se Raadsaal verwyder word, het hy gesê. Kirkaldy meen die portretuitstalling moet ook “‘n verbintenis om te transformeer weerspieël”.

александр лобановский супермаркет класс

Duitse president met vuvu’s uitgeblaas

Die musikale Duitsers herken ‘n wanklank as hulle een hoor. Betogers met vuvuzela’s het met ‘n konstante spervuur ​​van geraas tydens ‘n militêre seremonie Donderdag vir Duitsland se voormalige president, Christian Wulff, wat die amp onder ‘n wolk verlaat het, afskeid geneem.

Sowat 250 betogers het met hulle plastiekwalghorings wat tydens die 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika bekend geword het, met ‘n militêre orkes meegeding.

Wulff, wat vir minder as twee jaar Duitsland se jongste staatshoof was, is ondergedompel deur skandale en die parlement moes sy immuniteit ophef.

Hy het verlede maand bedank.

Sowat 160 van die 369 genooide gaste het uit protes weggebly, volgens die massadagblad Bild.

Tog het kanselier Angela Merkel en die meeste van die Duitse kabinet die seremonie bygewoon in die tuine van die weelderige presidensiële paleis.

Wulff het kortliks in sy afskeidstoespraak die belangrikheid van Duitsland se diversiteit beklemtoon.

Die president van die Bundesrat, Horst Seehofer, het gesê Wulff was “‘n goeie verteenwoordiger van die moderne Duitsland.”

Selfs die hou van die seremonie was omstrede.

“Iemand wat afgedank is, kry ‘n afskeid asof hy groot dinge vir Duitsland gedoen het,” het die hoof van die Sosiaal-Demokratiese Party, Sigmar Gabriel, gesê.

Die Bundeswehrsoldate het met fakkels die “Grosser Zapfenstreich” uitgevoer, terwyl die militêre orkes musiek gekies deur Wulff, 52, gespeel het. Die geleentheid is nasionaal op TV uitgesaai.

Van die musiek wat Wulff gekies het, was “Over the Rainbow” uit die film “The Wizard of Oz” en Beethoven se “Ode an die Freude”, die volkslied van die Europese Unie.

Volgens Bild se aanlynuitgawe, wou die oud-president ook “Ebony en Ivory” deur Paul McCartney gehoor het, maar dit was glo “te moeilik” vir die militêre trompette.

Wulff, ‘n voormalige premier van die deelstaat Neder-Sakse is eers gesien as ‘n moontlike uitdager vir Merkel, maar sal moeilik terugkeer na die nasionale politiek, volgens ‘n opname.

Sowat 73 persent van die mense het gesê hy kan nie terugkeer nie, volgens die peiling gepubliseer deur YouGov vir Duitsland se DPA-nuusagentskap Donderdag. Net vyftien persent het gesê dat hy weer ‘n politieke amp sal kan beklee.

Bykans 80 persent het gesê hulle wil graag ‘n president – wat bedoel is om as die land se morele kompas op te tree – sien wat deur die mense self verkies word. Op die oomblik word die president verkies deur ‘n spesiale liggaam van LP’s en hooggeplaastes.

Wulff se opvolger, Joachim Gauck, 72, is ‘n Oos-Duitse Lutherse predikant en menseregte-aktivis, en sal op 18 Maart met die steun van al die vernaamste politieke partye oorneem.

Hy sal ‘n jaarlikse lewenslange pensioen van €199,000 ($262,000) ontvang.

Die voormalige minister van verdediging, Karl-Theodor zu Guttenberg is ook vereer met ‘n soortgelyke seremonie na sy bedanking verlede jaar toe sy doktorsgraad herroep is vir plagiaat.

Фильчаков прокурор

SA vra verskoning oor Nigeriese deportasies

Suid-Afrika het Donderdag om verskoning gevra vir ‘n massa-deportasie van Nigeriërs, in ‘n poging om ‘n diplomatieke onderonsie by te lê. Dié kwessie het weer die aandag gevestig op die soms gespanne betrekkinge met die res van die vasteland.

“Ons wil nederig om verskoning vra vir hulle, en ons het,” het Suid-Afrika se adjunk-minister van buitelandse sake, Ibrahim Ibrahim, aan verslaggewers gesê. “Ons sal om verskoning vra omdat ons ‘n aantal mense wat nie gedeporteer moes word nie, gedeporteer het.”

In Nigerië Donderdag, het die minister van buitelandse sake Olugbenga Ashiru gesê ‘n spesiale Suid-Afrikaanse gesant word binnekort verwag om die verskoning oor te dra in persoon.

“Namens die Voorsitter en die federale regering van Nigerië, sal ek as minister van buitelandse sake die verskoning aanvaar en ek sal ‘n brief terug na my eweknie in Suid-Afrika stuur ter aanvaarding van die verskoning van die Suid-Afrikaanse regering,” sê Ashiru, nadat sy regering sterk gereageer het op die “onmenslike behandeling aan ons eie burgers uitgemeet.”

Op 2 Maart, het Suid-Afrika 125 Nigeriërs gedeporteer wat, volgens die lughawegesondheidsowerhede, vervalsde geelkoorskaarte gehad het. Sedertdien het die owerhede in Lagos Suid-Afrikaners gedeporteer.

Nigeriese regeringsamptenare het gesê hulle het 42 Suid-Afrikaners op ‘n vlug Woensdag in Lagos gedeporteer. Die amptenare het gesê dat Suid-Afrika vyf Nigeriërs dieselfde dag gedeporteer het.

Ibrahim het gesê Suid-Afrikaanse lughaweowerhede het nie behoorlik gekyk om te bepaal of die kaarte outentiek was nie. Hy het gesê Suid-Afrika oorweeg die heropening van ‘n kliniek by die lughawe om te verseker dat sulke deportasies nie herhaal word nie.

Suid-Afrika en Nigerië is bondgenote, maar ook soms mededingers vir invloed in Afrika.

Nigerië minister van buitelandse sake, Olugbenga Ashiru, het Dinsdag in die Nasionale Vergadering die deportasies as “xenofobie” beskryf omdat Nigeriese immigrante in Suid-Afrika vrees dat hulle deur die polisie in hegtenis geneem sal word sonder rede.

Ibrahim verwerp Ashiru se aantyging.

“Ons is nie ‘n xenofobiese land nie,” het Ibrahim gister gesê.

In 2008, het Suid-Afrika egter ‘n golf van geweld teen vreemdelinge van elders in Afrika beleef, wat tot die dood van honderde gelei het. Die meeste van die aanvalle het in plakkerskampe plaasgevind, waar Suid-Afrikaners en buitelanders woon in armoede en moet meeding vir behuising en werk.

Suid-Afrika is die vasteland se mees suksesvolle ekonomie, wat immigrante van verder noord trek. Maar die rykdom is nie gelykop verdeel nie, en skep spanning.

In die Afrikakonteks bly Suid-Afrika se ekonomiese mag onbetwis en die vreedsame afskaffing van apartheid het aan die land internasionale diplomatieke statuur verleen, sê baie buitelandse swartes. Suid-Afrikaners word egter beskou as arrogant teenoor ander Afrikane. Buitelanders kla ook dat die lang jare van isolasie onder apartheid die onkunde glo aan albei kante verhoog het.

Sodanige selfondersoek was duidelik vroeër vanjaar, toe die Suid-Afrikaanse politikus, Nkosazana Dlamini Zuma nie genoeg stemme kon wen in die Afrika-Unie om Gaboen se Jean Ping te ontsetel as voorsitter nie.

Фильчаков прокурор харькова