Jy hoef nie van Biff te hou nie, respekteer hom net

Graeme Smith

Graeme SmithDit was ’n dag van lesse ontvang en van lesse uitgedeel. Vernon Philander het geleer dat krieket nie net ’n  onafgebroke reeks pieke is nie en het in ses aflewerings ’n diep, donker vallei van sy eie ontdek. Die Nieu-Seelanders het van vooraf geleer wat dit van klein brakkies verg om saam met die groot honde te hardloop. Jacques Kallis het ’n meesterklas in die kuns en wetenskap gelewer. Maar die waardevolste opvoedkundige bydrae moet dié wees van Suid-Afrika se ongewilde en ongewaardeerde kaptein, Graeme Smith.

Nieu-Seeland se eerste beurt was nog onafgehandelde besigheid met die aanvang van spel. Hulle was vyf lopies voor Suid-Afrika met nog net een paaltjie oor. Dale Steyn, met ’n  linkervoet wat na gister se aksie lyk of hy dit onder ’n  grassnyer gehou het, het eina-eina ’n eerste beurt geboul waarna die bal na Vernon Philander aangegee is. Hy het reeds vier kopvelle buite sy tentdeur opgehang en was op soek na die veelseggende vyfde.

Hierdie hele somer al het kolwers gesukkel om hom te ontlont. Maestro’s soos Ponting, Hussey, Clarke en Dilshan het eenvoudig probeer om sy aflewerings sagkens en met die grootste konsentrasie te benader. Hulle het eenvoudig hulle naels ingetrek en toegelaat dat hy knaend die een bal na die ander net buite die wegpen boul. Sy geduld is sy beste eienskap en tot nou toe het hy eenvoudig aangehou totdat hy die kolwer tot onbesonnenheid dwing. Die vraag wat nog nie in sy loopbaan beantwoord is nie, omdat dit nog nie gevra is nie, is wat gaan hy doen as iemand alle ordentlikheid neerlê en net woes en wild om hom begin slaan.

Die kolwer wat nou miskien nie die volledige antwoord verskaf het nie, maar wat ten minste die vraag in hoofletters met baie uitroeptekens gevra het, was Trent Boult, ’n halm van ’n seun, iemand wat, as hy ’n gevangene was, die vroulike hoofrol in die tronk se verhoogproduksie sou kry. Hy het drie sesse en ’n vier van Philander se enigste boulbeurt van die oggend geslaan. ’n  Mens kon sommer hoor hoe die liggies in die Nieu-Seelandse – en ander spanne in die wêreld – se kleedkamers aangaan. Daar is geen geheim aan Philander nie. Elke kolwer weet wat hy gaan doen, en as hulle dit weet, en hulle het bietjie avontuursgees, kan hulle iets daaromtrent doen. Philander gaan baie gou variasie moet ontdek, want dis om van te sidder om te dink wat ’n Sehwag, Warner of Strauss aan hom sal doen as hulle hom aanval. Philander is ’n  talentvolle speler en is baie akkuraat, maar hy het nie die spoed om homself uit die moeilikheid te hou nie. As hy nie ’n  splinternuwe plan gaan uitdink nie, kan hierdie die roemrykste halfseisoenlange loopbaan ooit wees.

Dale Steyn, seer voet en al, het die Kiwi-beurt die genadeskoot gegee: ’n  Eenvoudige, vinnige bal op koers na Chris Martin se midderif en dié het dit uitgedruk na die bykant toe om uitgevang te word.

Dit het vir Alviro Petersen en Graeme Smith paaltjies toe gebring vir Suid-Afrika se tweede beurt. Die Nieu-Seelanders, met hulle 35-lopie voorsprong, was stert in die lug. Hulle het begin om wasemrige berekeninge te maak: As Suid-Afrika 250 lopies in die tweede beurt kry, beteken dit die Swart Kepse moet 216 kry vir ’n  oorwinning. Nie maklik nie, maar haalbaar. 250? Nou ja, dít kan taai wees. 300? Onmoontlik, eintlik.

Petersen en Smith het duidelik ’n  kolfplan gehad. Die naam daarvan is: Ons Druk Ons Stempel Af. Petersen het te veel entoesiasme daarvoor geopenbaar en sy gebruiklike doeltreffende styl ingeboet deur te rukkerig en hard te swaai of te dryf na meeste balle. Na 25 lopies het hy gesneuwel – uitgevang op vlak halfweg met Suid-Afrika ’n skamele 12 lopies voor.

Amla het gekom en Amla het gegaan, ingedoen met ’n baie twyfelagtige TV-beslissing wat moes bepaal of Martin Guptill hom op tweede glip uitgevang het.

So stryk Jacques Kallis toe die arena binne en op sy rekord is 12,000 plus nog ’n  paar lopies, op 600 na soveel as wat die hele Nieu-Seeland-span saam in toetse behaal het. En die Swart Kepse lag in hulle mou want die Swart Kepse dink die legende is oor die muur, of ten minste in ’n vormdeining. Sy nulletjie in die eerste beurt het hulle daarvan oortuig. En ja, sy tydsberekening was effe uit om mee te begin, en sy korrel bietjie skeef en sy voete swaar. Maar hy het hier verstel, daar gepeuter en uit die moeilikheid gebly. En toe, kliek!, toe werk alles weer. Daar was een besondere hou van hom – ’n  agtervoetdryfhou oor diepweg vir ’n  vier – en toe weet die Kallis-kenners, ja, hier kom ’n  lang dag vir die Kiwi’s. Werklik begaafde spelers – ’n  Kallis, Ponting of Tendulkar – speel hulleself voor die paaltjies terug in vorm.

Aan die anderkant van die kolfblad was ’n ou drama opnuut besig om te ontvou. Graeme Smith en sy gebreklike tegniek het vir die Kiwi-boulers die hele toets al na maklike prooi gelyk. Hulle sou net effe wyer as gewoonlik buite die wegpen boul en hy sou een of ander tyd hulle werk vir hulle doen met ’n  onweldeurdagte kap- of dryfhou. Maar Smith het nou ’n nuwe, baie onverwagte element tot sy mondering gevoeg: Geduld. Hy het op sy wegpen stelling ingeneem, alles gelos wat nie sy bene of paaltjies sou tref nie, en net gewag.

Die spanning was telkens te veel vir die Nieu-Seelandse boulers en hulle het die aanval na sy bene geskuif in ’n hoop om hom te BVP. En dan, met sy oordrewe onderhandgreep, het hy die bal met die mees frustrerende gemak weggewerk na die bypen. Gaandeweg het hy begin ontspan, sy spiere het ontknoop, sy bewegings meer vloeiend geword en hy kon toeslaan. Nadat die Kiwi’s algar verseker is dat Smith se greep hom verhoed om die bal hard aan die wegkant te slaan, het hy ’n  paar goeie houe deur die dekke gedryf.

Smith probeer nie sy tegniese gebreke verdoesel nie. Hy vind net ’n manier om met dít en al sukses te behaal. Dit is die kenmerk van ’n  grootse sportman. Dit is wat kampioene doen. Sergei Bubka het ’n krom paalspringtegniek gehad, en die grootste paalspringer tot nou toe geword. Carl Lewis se verspringtegniek was eintlik lagwekkend – maar hy het Olimpiese goue medaljes daarmee gewen. Steffi Graf het nie ’n  rughand gehad nie en tog vier Grand Slam-toernooie in een jaar gewen…

Graeme Smith se persoonlikheid stoot baie mense af, en ek sal nie sê hulle is almal verkeerd nie. Maar hy verdien respek vir die krieket wat hy speel. Hy is uiteindelik uit vir 115, met die bekende ou binnerandkap in die paaltjies vas. Hy en Jacques Kallis het presies 200 lopies vir die derde  paaltjie aangeteken. Sy plek is ingeneem deur Jacques Rudolph eerder as die verwagte AB de Villiers, op sigself ’n bemoedigende teken dat die nuwe Protea-bestuur ’n prysenswaardige buigsaamheid het. Die nuwe bal was pas in spel en Rudolph is in wese ’n openingskolwer. Boonop is hy ’n linkerhander wat die hotklou- haarkloukombinasie in stand sou hou.

Teen uitskeityd was die Proteas 233 lopies voor die Nieu-Seelanders met net drie paaltjies wat geval het.

Die Kiwi’s is soos klein hondjies wat saam met die grotes probeer hardloop. Aan die begin nael hulle verbete en is verbaas om te sien hulle bly by die groot honde. Maar dan kom hulle agter die grotes het nog net gedraf en as dié nou regtig begin hardloop, vind die kleintjies dit onmoontlik om by te bly. Die Nieu-Seelanders het seggenskap in hierdie toets behou net omdat die Suid-Afrikaners nog nie werklik met mening gespeel het nie, en omdat die Kiwi’s elke plan in die boek en daarbuite probeer het.

Word hulle afgeransel in hierdie toets, iets wat toenemend waarskynlik lyk, hoe op aarde gaan die Nieu-Seelanders hulleself vir die volgende twee toetse bymekaarmaak?

My raaiskoot is dat hulle hulleself aan die waarheid, dat hulle teen ’n baie beter span speel, sal oorgee, en dan hulle pak soos ’n man vat.

лобановский александр дети

Maak 'n opvolg-bydrae