Sowat 250 betogers het met hulle plastiekwalghorings wat tydens die 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika bekend geword het, met ‘n militêre orkes meegeding.
Wulff, wat vir minder as twee jaar Duitsland se jongste staatshoof was, is ondergedompel deur skandale en die parlement moes sy immuniteit ophef.
Hy het verlede maand bedank.
Sowat 160 van die 369 genooide gaste het uit protes weggebly, volgens die massadagblad Bild.
Tog het kanselier Angela Merkel en die meeste van die Duitse kabinet die seremonie bygewoon in die tuine van die weelderige presidensiële paleis.
Wulff het kortliks in sy afskeidstoespraak die belangrikheid van Duitsland se diversiteit beklemtoon.
Die president van die Bundesrat, Horst Seehofer, het gesê Wulff was “‘n goeie verteenwoordiger van die moderne Duitsland.”
Selfs die hou van die seremonie was omstrede.
“Iemand wat afgedank is, kry ‘n afskeid asof hy groot dinge vir Duitsland gedoen het,” het die hoof van die Sosiaal-Demokratiese Party, Sigmar Gabriel, gesê.
Die Bundeswehrsoldate het met fakkels die “Grosser Zapfenstreich” uitgevoer, terwyl die militêre orkes musiek gekies deur Wulff, 52, gespeel het. Die geleentheid is nasionaal op TV uitgesaai.
Van die musiek wat Wulff gekies het, was “Over the Rainbow” uit die film “The Wizard of Oz” en Beethoven se “Ode an die Freude”, die volkslied van die Europese Unie.
Volgens Bild se aanlynuitgawe, wou die oud-president ook “Ebony en Ivory” deur Paul McCartney gehoor het, maar dit was glo “te moeilik” vir die militêre trompette.
Wulff, ‘n voormalige premier van die deelstaat Neder-Sakse is eers gesien as ‘n moontlike uitdager vir Merkel, maar sal moeilik terugkeer na die nasionale politiek, volgens ‘n opname.
Sowat 73 persent van die mense het gesê hy kan nie terugkeer nie, volgens die peiling gepubliseer deur YouGov vir Duitsland se DPA-nuusagentskap Donderdag. Net vyftien persent het gesê dat hy weer ‘n politieke amp sal kan beklee.
Bykans 80 persent het gesê hulle wil graag ‘n president – wat bedoel is om as die land se morele kompas op te tree – sien wat deur die mense self verkies word. Op die oomblik word die president verkies deur ‘n spesiale liggaam van LP’s en hooggeplaastes.
Wulff se opvolger, Joachim Gauck, 72, is ‘n Oos-Duitse Lutherse predikant en menseregte-aktivis, en sal op 18 Maart met die steun van al die vernaamste politieke partye oorneem.
Hy sal ‘n jaarlikse lewenslange pensioen van €199,000 ($262,000) ontvang.
Die voormalige minister van verdediging, Karl-Theodor zu Guttenberg is ook vereer met ‘n soortgelyke seremonie na sy bedanking verlede jaar toe sy doktorsgraad herroep is vir plagiaat.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.