Krieket: Twee strydrosse kom tuis

Jacques Rudolph

Jacques RudolphVanoggend, Boeretyd, het twee half-ongewenstes in die Suid-Afrikaanse span bymekaargekom vir ’n onoorwonne 47-lopievennootskap, ’n veelseggende samewerking van die soort wat ware krieketkenners snoesig en tevrede laat voel. Mark Boucher en Jacques Rudolph het albei as jong sterre verskyn, maar wyduiteenlopende loopbane beleef, en tog is beide onbetwisbaar toetsstoffasie. Nietemin is hulle posisies in die span al hierdie hele seisoen in die gedrang.

Boucher is reeds vir bykans vyftien jaar deel van die ruggraat van die Suid-Afrikaanse span. Hierdie is sy 145ste toets en hy hou die Suid-Afrikaanse rekord van 76 ononderbroke toetsverskynings. Hy is eers as ’n kolwer gesien wat homself agter die penne kon handhaaf, maar met sy gewone onwrikbare deursettingsvermoë het hy in bloedige harde werk belê om een van die wêreld se beste handskoenmanne te word. Sy 546 slagoffers sluit 523 vangskote in – die meeste ooit ter wêreld. Deur die jare het hy ook ’n betroubare oog agter die paaltjies ontwikkel en hy is gereeld betrek in die mini-konferensies tussen kaptein, bouler en spanstrateë op die veld.

Die moderne paaltjiewagter kan egter nie net vanweë sy handskoenwerk in ’n span bly nie. Hy moet ’n bepaalde rol met die kolf speel. Boucher se kolfkarakter was as die hardnekkige, omgesukkelde Nommer Sewe. Hy was nog nooit flambojant nie, maar hy is dwarsdeur sy loopbaan as ’n gedugte lopiemaker beskou. Geen span kon die Proteas as verslane beskou terwyl Boucher nog daar was nie. Die gedagtebeeld wat meeste kriekettoeskouers van hom het, is met die oë wat stip onder ’n frons uitstaar, spiere wat onder stoppelbaardwangvelle maal en ’n bittereinderhouding.

Sy kolfgemiddeld is net oor die 30, aanvaarbaar vir ’n paaltjiewagterkolwer, maar statistieke dui nie aan hoeveel keer hy die laaste hardnekkige wal was wat in die Suid-Afrikaanse saak gegooi is nie. Male sonder tal het hy kosbare kastaiings uit die vuur gekrap, die stertkant gemobiliseer vir ’n laaste, deurslaggewende versetaksie, en het hy beslissende lopies uit die greep van die boulspan gewring.

Boucher se loopbaankrisis is dat hy as ’n ou speler gesien word in ’n Suid-Afrikaanse span wat besig is met ’n proses van vernuwing. Hy is ’n oorblyfsel uit ’n era van Donald, Pollock, Adams, Kirsten, Cronjé en Cullinan. Hy is bykans 36; benewens Jacques Kallis, sy boesemvriend, die oudste speler in die span. Tog is hy fiks en so beweeglik soos altyd, dus die fokus van kritiek is nou geruime tyd al op sy bydrae met die kolf. In alle waarheid gaan hy deur ’n dor strook as kolwer, en dit het hom reeds sy plek in die korter variëteite van die spel gekos. Na amper vyf-en-half-duisend lopies, veg ’n ware krieketheld, miskien nou nie vir oorlewing nie, maar ten minste vir die bevrediging om die spel as eerlike, waardevolle bydraer te verlaat.

Die ander speler ter sprake, Jacques Rudolph, is sedert kaalvoetdae as die ware Jakob gesien, met sy elegante, vloeiende hotkloukolfstyl, konsentrasie en temperament. Nadat sy promosie tot die toetsspan eers onsmaaklik versper is deur arrogante administrateurs wat in ’n misplaaste transformasieywer op die insluiting van die Kleurling Justin Ontong in Rudolph se welverdiende plek aangedring het, het die jong Jacques uiteindelik die toetsveld geneem teen Bangladesj waar hy summier 222 lopies in sy debuut aangeteken het. Hy het homself gevestig as ’n integrale lid van die span, maar weens swak toere Engeland, Indië en Wes-Indië toe, waar hy teen minder as 20 lopies per beurt gekolf het, is sy gemiddeld afgedruk na die middel-dertigs, wat nie die paal haal vir ’n toetskolwer nie.

Tog het hy in daardie tyd gewys dat, sy onaanstootlike persoon ten spyt, daar baie gruis in hom is. Sy rooiletterbeurt was in ’n wegtoets teen die Australië van Hayden, Langer, Gilchrist, Ponting en McGrath. En Shane Warne. Nadat dié blonde goëlbouler die hart uit die Suid-Afrikaanse kolflys geruk het, het Rudolph geduldig, verbete en vir baie lank voortgekolf om die toets te red. Die eerste persoon wat hom daarmee gelukgewens het, was Warne self.

Ná sy ontslag uit die toetsspan, het Rudolph sy pak gevat en aan die werk gespring om homself nie soseer te herontwerp nie, maar om net beter te word. Hy het na die taaiste leerskool – Engelse graafskapkrieket – gegaan en geleer om lopies in alle omstandighede te maak. So baie het hy daarvan gekry dat hy uiteindelik gevoel het hy kan ná jare uit sy selfgemaakte ballingskap terugkeer. Sy hertoetrede het by sy ou tuisunie, die Titane van Pretoria, begin. Daar het hy sy nuwe vakmanskap op die beste moontlike manier geïmplementeer: Tonne lopies op ’n baie bestendige manier. Uiteindelik was die absolute oormaat van sy lopies sodanig dat die keurders hom in die span móés betrek, en dit om die turksvyposisie as aanvangsmaat vir Graeme Smith te vul.

Sy terugkeer was nie ’n ramp nie, maar ook nie heeltemal bevredigend nie. Hy het in sy ballingskap albei aansigte van sy kolfwerk verbeter: Hy kan aanvallend wees, maar kan ook soos ’n Suid-Afrikaanse Dravid ’n muur naboots. Sy herontplooiing het meegeval met Gary Kirsten se eerste toets in beheer van die span en dit was moeilik om Rudolph se rol te definieer. Uiteindelik is daar besluit op Rudolph die Stempelafdrukker, daar om die Proteas op die voorvoet te kry en te hou. Hy het gereeld teen die Australiërs vinnig lopies gekry, maar gou uitgegaan. (In die bisarre toets in Kaapstad het hy die sonderlike onderskeiding behaal om sy kolfbydrae en veldwerk in beide beurte in ’n enkele dag af te handel.)

In Durban, teen die Aussies, het hy sy ander mondering aangetrek en ’n stoere, stadige aanvangsbeurt gespeel. Die rang was nie tevrede nie en Alviro Petersen is betrek om te open. Rudolph se brood was die ontslag van Ashwell Prince wat geruime tyd nie meer na toetsgehalte gelyk het nie. Hy is afgeskuif na die deurslaggewende nommer-6 posisie waar van die speler vereis word om óf steeks te kan verdedig, óf om weifelende aanvalle kis te slaan. Die Pretorianer het ’n bevredigende reeks teen die Sri Lankane gehad. Maar sy plek was geensins ’n gegewe nie.

In die huidige toets het die Proteas hulle beurt vanoggend hervat met die Jacques’e, Kallis en Rudolph, in die tuig. Die sending van die dag was om gou ’n wye genoeg voorsprong op te bou om tyd te hê om die tien Nieu-Seelandse paaltjies vir ’n oorwinning te neem. Kallis, reeds met ’n honderdtal, het min bygedra voordat hy op middebaan deur Nicol van Boult uitgevang is. AB de Villiers het kom kolf en gelyk asof hy al lankal daar was. Hy het fluks gekolf maar uiteindelik sy paaltjie vir die saak opgeoffer in ’n poging om te versnel.

Die volgende vennootskap was tussen Rudolph en Boucher, elkeen met sy eie agenda, sy eie stryd binne ’n stryd. En beide het ’n duidelike verklaring gemaak. Rudolph het ongehinder gekolf, meesterlik aan die wegkant gedryf en venynig gehaak en getrek, te midde van ’n baie digte verdediging. Voor etenstyd het hulle stadig gekolf – Rudolph om die beurt te anker en Boucher om sy voete te vind. Ná ete het hulle behoorlik aangeskakel. Rudolph het met oorleg en flair gespeel, goeie balle gestuit en middelmatiges gestraf. Die oomblik wat die Protea-telling 435 was – 400 voor die Kiwi’s – het Smith verklaar met Boucher op ’n stewige 34 en Rudolph op 105. Wat meer bevredigend was, was die manier waarop hulle die tellings gekry het: Rudolph met swier en sekerheid en Boucher op sy ou bekende, omgesukkelde manier.

Dit was ’n triomf vir dié twee en een kan nou sy loopbaan in vrede afsluit en die ander kan ’n tweede krieketlewe bou.

Nieu-Seeland is die taak gestel om 401 vir ’n oorwinning aan te teken. Dit lyk na ’n onhaalbare telling, maar hierdie is ’n wedstryd wat uiteindelik in die Proteas se greep kan ontplof. Guptill en Nicol is weliswaar goedkoop uit, maar McCullum en Ross Taylor het moeiteloos gekolf vir ’n indrukwekkende vennootskap van 82 teen bykans vier lopies per boulbeurt. Hulle kort net 264 lopies en het agt paaltjies om dit mee te doen.

Suid-Afrika se aanval lyk skielik slagtandloos. Dale Steyn het ’n vergruisde groottoon en is nie naastenby sy gebruiklike dodelike selwers nie. Beslissende, skeppende en aggressiewe kapteinskap gaan môre vir die Proteas nodig wees, en Graeme Smith begin verstok lyk in dié rol. Miskien is dit tog tyd om na die energieke, strydlustige AB de Villiers as opvolger te kyk.

прокурор харьковской области

Maak 'n opvolg-bydrae