Cosatu kap DA oor befondsing deur Israel-lobby

Die Demokratiese Alliansie het bewerings ontken dat die party befondsing van die Israeliese “lobby” ontvang.

“Die DA het nog nooit verklaar dat ons enige geld ontvang het [van die lobby] nie,” het woordvoerder Mmusi Maimane gesê.

Hy het gereageer op Cosatu se sekretaris Tony Ehrenreich, wat gesê het die DA sal nie teen die Israeliese regering optree nie, want hulle ontvang geld uit dié land.

“As die DA gekant is teen rassisme en apartheid en diskriminerende praktyke in beginsel, hoekom is hulle nie teen die apartheidpraktyke van Israel in Palestina nie?” het Ehrenreich in ‘n verklaring gesê.

“Die realiteit is dat die DA ‘n klomp geld van die Israeliese lobby kry, en daarom sal hulle nie teen die praktyke in Palestina protesteer nie.”

Ehrenreich het reageer op die party se “Ken Jou DA”-veldtog wat die rol beklemtoon wat DA-lede, of mense wat geaffilieer is by die party, gespeel het in die stryd teen apartheid.

Maimane het gesê Cosatu se opmerkings is “jammer en in swak smaak” en het gesê die vakverbond probeer om politieke punte aan te teken.

“Ons dink dat daar ‘n twee-staat-oplossing [tussen Palestina en Israel], en ‘n vreedsame oorgang moet wees soos hier in Suid-Afrika om demokrasie te bevorder.”

Ehrenreich het gesê die DA en sy leier Helen Zille moet verklaar wanneer hulle gaan “ophou om die rassisme van Israel se regering te steun en die mense van Palestina te ondersteun”.

Die twee-staat-oplossing behels die vestiging van ‘n onafhanklike Palestynse staat naas die staat van Israel in die betwiste gebied van die voormalige Britse mandaat van Palestina.

Miljoene van Bieber-konsert gesteel

Miljoene rande is gesteel tydens ‘n rooftog by die FNB-stadion, suid van Johannesburg, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.

“‘n Werknemer van die stadion het na bewering ná die Justin Bieber-konsert geld in die instapkluis gesit en omstreeks 23:00 gisteraand [Sondag] huis toe gegaan,” het lt. kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, gesê.

Mogale het gesê Maandagoggend toe die vrou by die werk aankom, is daar met verskeie deure wat lei na die hoofkluis gepeuter.

Volgens Mogale het die rowers toegang verkry deur ‘n toiletdak wat lei na die muur van die kluis en die kluis oopgebreek.

“Die verdagtes het toe toue gebruik om toegang vanaf die dak na die kluis te beweeg en miljoene rande kontant gesteel.”

Mogale het gesê beeldmateriaal van die rooftog word bestudeer en ‘n ondersoek is aan die gang.

DA wonder waarom ‘Al-Kaida’ in SA sluit

Dianne Kohler-Barnard, DA-woordvoerder, het Maandag gesê die Demokratiese Alliansie “soek antwoorde oor hoekom ‘n ondersoek na Al-Kaida-bedrywighede in Suid-Afrika gestaak is”.

“Suid-Afrikaners verdien ‘n verduideliking hoekom dit gebeur het en hoekom die ondersoek gestaak is,” het sy gesê.

Kohler-Barnard, wat nie Afrikaans magtig is nie, is klaarblyklik nie bewus van berigte wat aandui dat die VSA, NAVO en Israel Al Kaida in Libië sowel as Sirië aktief ondersteun nie.

Sy het ‘n versoek gerig dat Chris Ngcobo, waarnemende hoof van misdaadintelligensie en Nathi Mthethwa, minister van polisie, dringend die kwessie met die parlementêre portefeuljekomitee bespreek.

“Dit is baie ernstige bewerings met implikasies vir nasionale veiligheid en internasionale betrekkinge, en kan nie geïgnoreer word nie. Minister Mthethwa moet in die parlement verskyn om duidelikheid oor die situasie te verskaf.”

Die Valke weier om kommentaar te lewer oor ‘n berig dat die polisie en die staatsveiligheidsagentskap (SSA) die opleiding van Al-Kaïda-“terroriste” in Suid-Afrika gemonitor het, maar niks daaromtrent gedoen het nie.

“Geen kommentaar. Dit is nie ons beleid om kommentaar te lewer oor ondersoeke wat aan die gang is nie,” het kapt. Paul Ramaloko Maandag gesê en benadruk wat hy aan Daily Maverick, wat die berig gepubliseer het, gesê het.

Die Daily Maverick berig dat die Valke se eenheid vir misdade teen die staat en die SSA aktiwiteite op ‘n plaas “naby Vlakplaas” buite Pretoria en op ‘n afgeleë plaas in die Klein Karoo gemonitor het.

Dit is nie duidelik waarom Vlakplaas relevant is tot die sogenaamde opleiding nie. Bronne het aan Praag gesê die ligging word slegs gegee om die omstredenheid te probeer verhoog.

“Operasie Kanu” is volgens die berig op die been gebring om “ekstremistiese Moslem-aktiwiteite” in Suid-Afrika te ondersoek. Dít was kort ná die aanvalle op 11 September 2001 in die VSA.

Die operasie het dieselfde tyd begin as ‘n ondersoek na sogenaamde verregse aktiwiteite, genaamd “Operasie Waco”, wat gelei het tot die Boeremag-hoogverraad-verhoor.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die sogenaamde Boeremag ‘n intelligensie-operasie was.

Daar word dus betoog dat die staat in hierde verhoor deurgaans aan ongrondwetlike optredes skuldig is. Die billikheid van die regsproses in die Boeremagverhoor is daarom tans in gedrang en sal in die howe getoets word.

Britse en Amerikaanse intelligensie-agentskappe was uiters gretig dat die Suid-Afrikaanse regering optree teen “Moslem-terreurdreigemente”. Ingeligte bronne het aan Praag gesê dat dié lande graag terreur uitvoer sodat hulle militêr betrokke kan raak.

“Die feit dat geen bomme tot dusver in die land ontplof het nie, beteken nie die dat die bedreiging nie binne Suid-Afrika se grense bestaan nie,” het die lande gewaarsku.

Wat egter baie kommerwekkend is, is dat hierdie lande nou self aktief by Moslemterreur betrokke is in Libië en Sirië.

Volgens Daily Maverick is verskeie lede van die “invloedryke Dockrat-familie die middelpunt van die beweerde terroriste-netwerk”.

Die Dockrats het enige verbintenis met Al-Kaida of enige ander militantegroepe ontken.

Bengazi: Obama se doppie kan klink

Amerikaanse presidente verloor in hul tweede termyn heeltemal kontak met die werklikheid: Volgelinge en vertrouelinge span saam om die leier van die “vrye wêreld” te isoleer van wat in die wêreld gebeur. Die slegte nuus, en erger persdekking, word nie oorgedra nie en hulle knik instemmend vir sy elke opmerking, hoe absurd ookal.

Obama het slegs ‘n paar betroubare volgelinge, en lekkasies uit die westelike vleuel wys ‘n paranoïese president wat byna almal rondom hom van iets verdink. Uiters vol vertroue, oortuig deur die kruiperige volgelinge aan sy voete dat hy onaantasbaar is, verwerp Obama alle omstredenheid as partydige aanvalle deur ‘n oorywerige opposisie.

Elke president in die afgelope 60 jaar moes ‘n groot skandaal in Termyn 2 trotseer: Dwight Eisenhower die U-2 “voorval”, Richard Nixon Watergate; Ronald Reagan die Iran-Contra; Bill Clinton vir Monica (letterlik); George W. Bush Katrina (en die wapens-van-massavernietiging wat nooit gevind is nie). Hierdie president staar Benghazi in die gesig.

Maak geen fout nie: Benghazi is ‘n groot skandaal. Benghazi is ‘n skande van voor, tydens en ná die aanval deur die VSA se eie sekuriteit waarin vier Amerikaners dood is, insluitende ‘n ambassadeur.

Daar was meer as genoeg waarskuwings oor swak sekuriteit by die Amerikaanse konsulaat in Libië. Tydens die aanval, terwyl Amerikaners gesmeek het om hulp, het die Withuis hul pleidooie geïgnoreer en die weermag verhoed om in te gryp.

En daarna? Gekonfronteer met ‘n krisis, het die Obama Withuis paniekbevange verklaar: “Ons kan nie ‘n terroriste-aanval twee maande voor die verkiesing hê nie, dus … laat ons nie ‘n terroriste-aanval twee maande voor die verkiesing hê nie.”

So min is bekend oor wat gebeur het in Benghazi: Waar was die bevelvoerder? Geen foto’s van die situasiekamer nie. Waar was die Pentagon? Militêre spesialiste sê hulle was gereed – het gebrand – om te gaan.

En daardie berugte “spontane protes” oor ‘n anti- Islam video wat opgelaai is op YouTube?

Karnavalkeffer en Withuiswoordvoerder Jay Carney het amper asvaal gelyk Vrydag op die podium: “Die gesprek was gegenereer deur die intelligensiegemeenskap, deur die CIA.”

Kennelik ‘n CIA wat nog nie begryp het nie dat die meeste mense nou al weet dat Ambassadeur Stevens daarmee gemoeid was om wapens aan Al Kaida, die “terreurgroep” te verskaf. Bengazi is gebruik om die vermoorde kol. Ghadaffi se wapentuig na Sirië te skuif, en Stevens moes dit afhandel.

Dit is duidelik nogal ‘n gevaarlike werk, hierdie dubbelspel van die VSA om diegene wat hulle graag aan die wêreld as “terroriste” voorhou, van wapens en ammunisie te voorsien om nog ‘n land in die Midde-Ooste, hierdie keer Sirië, te gaan destabiliseer.

Soos Senator Rand Paul (Rep.) dit prontuit stel: “Obama werk saam met anti-Amerikaanse globaliste wat teen ons Grondwet komplotte smee.”

Kapitalisme is ‘van die duiwel’

Die kapitalistiese stelsel is die ware vyand in Suid-Afrika, het Cosatu se sekretaris-generaal Zwelinzima Vavi Vrydag gesê.

Probleme soos xenofobie, korrupsie, geslagsgeweld en dwelmmisbruik is gewortel in ekonomiese ellende, het hy gesê in Johannesburg.

“Al hierdie is gewortel in ‘n ander stel van drie selfs groter duiwels;. Werkloosheid, armoede en ongelykheid, wat ‘n vrugbare teelaarde vir al die ander is.”

Vavi het gepraat by ‘n seminaar aangebied deur die Universiteit van die Witwatersrand se Afrika-sentrum vir migrasie en die samelewing.

Hy het gesê die jongste syfers oor werkloosheid het aangedui dat dinge “nog erger” gaan raak.

Statistiek Suid-Afrika het vandeesweek berig dat die amptelike werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van die jaar gestyg het tot 25,2 persent van 24,9 persent in die laaste kwartaal van 2012.

Vavi het gesê dit weerspieël nie die volle omvang van die probleem nie, omdat ontmoedigde werksoekers en diegene wat “hare op die hoek van die straat sny” nie ingesluit is nie.

Suid-Afrika het ook die mees ongelyke samelewing in die wêreld, het hy gesê.

Die “duiwel” en “ware vyand” is die kapitalistiese stelsel, wat sosiale samehorigheid ondermyn.

Hy het kommer dat ‘n voorgestelde nasionale minimum loon sal lei tot werkverliese as “propaganda en leuens” afgemaak.

“‘n Nasionale minimumloon sal ‘n beduidende stap in die rigting wees om groter sosiale samehorigheid te verseker,” het hy gesê.

Bees Roux bepeins sy toekoms

Gewese Bloubul- en Bulls vaskopstut, Bees Roux, se toekoms is onder die vergrootglas.

Roux het hoofopskrifte gehaal toe hy in Augustus 2011 ‘n metropolisieman, die 38-jarige sersant Johannes Mogale, met die kaal hande doodgemaak het ná ‘n omstrede insident in ‘n straat in Hatfield, Pretoria.

Rugbyliefhebbers was vroeër vandeesweek verbaas om Roux se naam te sien onder die groep spelers wat gekies is vir die Suid-Afrikaanse Barbarians wat volgende week op 16 Mei teen die top Engelse klub, Saracens, in aksie gaan wees.

Dié Suid-Afrikaanse Barbarians span, wat spog met top spelers in hul geledere, sal deur die voormalige Springbok afrigter, Nick Mallet, gebrei word. Onder Roux se spanmaats in dié span tel gewese SupeRugby spelers soos Ethienne Reynecke, Gerrit-Jan van Velze, Jacques-Louis Potgieter en Doppies la Grange.

Roux is tot aan die einde van die huidige Europese seisoen gekontrakteer by die top Italiaanse klub, Treviso, nadat hy Suid-Afrika aanvanklik in Oktober 2011 verlaat het om vir die Franse klub Bordeaux te speel. Volgens berigte speel hy tans baie goeie rugby.

Hy het kort voor hy die land verlaat het, ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, waarvolgens hy ‘n opgeskorte vonnis vir strafbare manslag sou kry. As deel van die ooreenkoms het hy ‘n bedrag van R750 000 aan Mogale se familie betaal.

Roux se saak, waarvoor hy aanvanklik van moord aangekla is, het in 2011 groot opslae gemaak omdat dit uiteindelik die kollig baie skerp laat val het op korrupsie in die metropolisie. Roux was destyds laataand op pad huis toe nadat hy saam met vriende by ‘n klub in Hatfield gekuier het. Mogale het hom glo weens bestuur onder die invloed van drank voorgekeer, maar wat presies daarna gebeur het, is nooit met sekerheid vasgestel nie.

Die vermoede is dat Roux die slagoffer van korrupsie van Mogale se kant was en dat hy daarna met hom handgemeen geraak het, waarna Mogale aan sy beserings gesterf het.

Roux se bankkaarte is later deur ‘n derde party gebruik vir verskeie aankope.

Volgens berigte is Roux en sy agent tans besig om opsies te oorweeg oor sy toekoms. Hoewel daar berig is dat hy ook na moontlikhede in Suid-Afrika kyk, is dit te betwyfel of hy weer hier sal rugby speel. Behalwe vir die politieke risiko wat dit inhou, is dit ook bekend dat top voorymanne, en veral vaskopstutte, baie gesog is in Europa.

Die 31-jarige Roux, wat eers in Desember 32 word, kan maklik nog drie top seisoene in Europa beleef as hy beseringsvry bly. Omdat spelers in Europa in Euros of ponde betaal word, kan Suid-Afrikaanse spanne in elk geval moeilik kompeteer met die aanbiedings wat spelers in Europa kry.

Boeremusiek-legende oorlede

Die Afrikaanse musieklegende Nico van Rensburg is Sondagoggend by die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria oorlede, het sy vrou gesê.

Lydia van Rensburg het gesê haar man, 76, is vroegoggend dood ná hy Saterdag weens ‘n hartaanval in die hospitaal opgeneem is.

“Ons was 10 jaar saam en dit was die beste tyd van ons lewens. Dis baie moeilik om so iemand te verloor.”

Sy het gesê begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Van Rensburg, wat die konsertina gespeel het, het verskeie toekennings vir sy boeremusiek gewen.

Kempton steeds in duister

Dele van Kemptonpark, oos van Johannesburg, was teen Maandagoggend steeds sonder krag ná ‘n kabel in die gebied beskadig is, het die Ekurhuleni-munisipaliteit gesê.

Tegnici het nog ‘n dag nodig om die skade te herstel, het Sam Modiba, ‘n woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

Dele van Van Riebeeckpark, Terenure, Birch Acres en Edleen het sedert Sondagmiddag nie krag nie, ná ‘n kontrakteur ‘n kabel by ‘n kruising beskadig het.

Die kabel, ‘n voerkabel wat met olie gevul is, neem langer om te herstel as gewone kabels.

Modiba het gesê die krag sal na verwagting weer Dinsdagmiddag aangeskakel word.

Die Ekurhuleni-munisipaliteit het vir die ongerief om verskoning gevra.

“As die kragtoevoer nie herstel word in die gegewe tyd nie… verseker die [Ekurhuleni-munisipaliteit] verbruikers dat hy sal voortgaan met werk tot alle gebiede weer elektrisiteit het,” het hy gesê.

Nog ‘n Markana-getuie doodgeskiet

‘n Streeksorganiseerder van die vakbond Amcu in Noordwes is Saterdag by ‘n sjebeen naby Amplats se Khomani-myn in Rustenburg doodgeskiet.

Die man sou ook na verwagting in die Marikana-saak getuig.

Vier verdagtes het die man in die sjebeen genader waarna hy vier keer geskiet is, het die polisie aan eNCA bevestig.

Sy naam sal nie bekend gemaak word voor sy familie nie ingelig is van die voorval nie.

‘n Tradisionele geneesheer wat ook glo by die Marikana-voorval betrokke was, is in Maart doodgeskiet.

Die vakbond, AMCU, het ‘n pleidooi by sy lede gelewer om nie die dood van ‘n vakbondlid te wreek nie. 

Die moord volg te midde van spanning wat hoog loop weens werkverliese en salarisonderhandelings. AMCU is van plan om vandag ‘n nuuskonferensie te hou.

Die vakbond het verlede jaar duisende ontevrede lede van die N.U.M weggerokkel.

Meer as 50 mense is verlede jaar in arbeidsverwante geweld by platinummyne dood. Waarnemers is bekommerd dat die jongste moord geweld kan aanblaas nadat Anglo American Platinum Vrydag werksverliese aangekondig het.

Kerkman met dwelms vir gevangenes betrap

‘n Wes-Kaapse pastoor is vasgetrek omdat hy na bewering dwelms probeer smokkel het by die Buffeljags-gevangenis in Swellendam.

‘n Woordvoerder vir die department van korrektiewe dienste, Simphiwe Xako, het Sondag gesê wagte het Saterdagaand dagga, Mandrax-tablette en ses pakkies tik op die pastor gekry tydens ‘n roetine-ondersoek voor hy die tronk sou binnegaan.

Die predikante was deel van ‘n geestelike rehabilitasieprogram in die tronk.

Die groep waarvan hy deel was, besoek sowat agt korrektiewe fasiliteite in die Swellendam-omgewing.

Tronkbewaarders het die man aangehou totdat die polisie hom kon wegneem.

Hy sal na verwagting Maandag in die Swellendamse landdroshof verskyn.