Kapitalisme is ‘van die duiwel’

Die kapitalistiese stelsel is die ware vyand in Suid-Afrika, het Cosatu se sekretaris-generaal Zwelinzima Vavi Vrydag gesê.

Probleme soos xenofobie, korrupsie, geslagsgeweld en dwelmmisbruik is gewortel in ekonomiese ellende, het hy gesê in Johannesburg.

“Al hierdie is gewortel in ‘n ander stel van drie selfs groter duiwels;. Werkloosheid, armoede en ongelykheid, wat ‘n vrugbare teelaarde vir al die ander is.”

Vavi het gepraat by ‘n seminaar aangebied deur die Universiteit van die Witwatersrand se Afrika-sentrum vir migrasie en die samelewing.

Hy het gesê die jongste syfers oor werkloosheid het aangedui dat dinge “nog erger” gaan raak.

Statistiek Suid-Afrika het vandeesweek berig dat die amptelike werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van die jaar gestyg het tot 25,2 persent van 24,9 persent in die laaste kwartaal van 2012.

Vavi het gesê dit weerspieël nie die volle omvang van die probleem nie, omdat ontmoedigde werksoekers en diegene wat “hare op die hoek van die straat sny” nie ingesluit is nie.

Suid-Afrika het ook die mees ongelyke samelewing in die wêreld, het hy gesê.

Die “duiwel” en “ware vyand” is die kapitalistiese stelsel, wat sosiale samehorigheid ondermyn.

Hy het kommer dat ‘n voorgestelde nasionale minimum loon sal lei tot werkverliese as “propaganda en leuens” afgemaak.

“‘n Nasionale minimumloon sal ‘n beduidende stap in die rigting wees om groter sosiale samehorigheid te verseker,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae