Miljoene rande is gesteel tydens ‘n rooftog by die FNB-stadion, suid van Johannesburg, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.
“‘n Werknemer van die stadion het na bewering ná die Justin Bieber-konsert geld in die instapkluis gesit en omstreeks 23:00 gisteraand [Sondag] huis toe gegaan,” het lt. kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, gesê.
Mogale het gesê Maandagoggend toe die vrou by die werk aankom, is daar met verskeie deure wat lei na die hoofkluis gepeuter.
Volgens Mogale het die rowers toegang verkry deur ‘n toiletdak wat lei na die muur van die kluis en die kluis oopgebreek.
“Die verdagtes het toe toue gebruik om toegang vanaf die dak na die kluis te beweeg en miljoene rande kontant gesteel.”
Mogale het gesê beeldmateriaal van die rooftog word bestudeer en ‘n ondersoek is aan die gang.
