Almal van hulle het skuldig gepleit en het erken dat hulle gelieg het dat hulle werkloos was terwyl hulle voltyds in diens van die staat was. Weens hul valse verklarings het hulle behuisingsubsidies wat vir die armes bestem is, verkry.
Dis onbekend of die amptenare hul werk verloor het maar hulle moet die uitbetaalde bedrae in maandelikse paaiemente terugbetaal.
Duisende staatsamptenare is by die bedrog betrokke en dertig van hulle sal elke maand tot Desember in Pietermaritzburg in die hof verskyn.

'n Nuwe inisiatief is van stapel gestuur deur die Amerikaanse nasionale swemliggaam, USA Swimming. Die rede daarvoor is dat swart kinders in die VSA teen 'n tempo van amper drie keer soveel as die gemiddelde koers verdrink.
Die Rus, Maria Sharapova, is weer eens nommer een op die WTA se wêreldtennisranglys, en het Justine Henin onttroon. Henin se besluit om uit te tree uit professionele tennis met onmiddelike effek, beteken dat sy van die ranglys verwyder sal word.
Die Zimbabwiese reserwebank het Donderdag ’n Z$500 miljoen banknoot, wat ongeveer vyftien rand werd is, bekendgestel. Dit volg slegs ’n week nadat die Z$250 miljoen noot in gebruik geneem is. Met die nuutste banknoot kan mens ongeveer twee brode koop.