Leon Lemmer: Kulturele trauma en die Afrikanerdom

Trauma, die Griekse woord vir wond, beteken die verwonding van die mens se gees. Trauma is die gevolg van gebeurtenisse wat geestelike letsels gelaat het. Die HAT definieer trauma as: “Blywende geestelike steurnis veroorsaak deur hewige geestelike of emosionele spanning of fisiese besering.” Die fisieke of liggaamlike aspek kom egter net in die prentjie in soverre die gees daardeur beïnvloed word. Byvoorbeeld, as iemand ‘n ledemaat verloor, kan dit ernstige geestelike verwonding veroorsaak, dus die subjek se hele lewenswyse ingrypend verander en berusting bemoeilik, selfs onmoontlik maak.

Maar trauma vind nie net in individue neerslag nie omdat ‘n groep mense ook trauma kan ervaar. Daar is dus iets soos kollektiewe trauma. ‘n Groep mense kan bv verarm of deur vreemde elemente oorheers word of uit hulle vaderland verdryf word. Ontheemding kan weens emigrasie plaasvind maar ook wanneer mense geografies in dieselfde plek bly woon maar daardie land feitlik onherkenbaar verander/getransformeer word. Dink aan die geestelike letsels wat die Anglo-Boere-oorlog (ABO) in die Afrikanerdom se psige gelaat het (vir Hélène Opperman se vertolking hiervan: “‘n Sielkundige ontleding van Afrikaners,” Praag 22.04.2017). Maar die ABO-nederlaag het na ‘n drie jare lange heroïese stryd gekom. Veel moeiliker is die verwerking van die mandaatlose, algehele, politieke magsoorgawe in 1994. Dit is op ‘n onetiese, immorele en uiters laakbare manier deur ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes bewimpel.

Daar is min twyfel dat die 1990/94-gebeure die grootste skandvlek in die geskiedenis van die Afrikanervolk sal bly. Swartes het toe die reg verwerf om tot in die oneindige suiwer rassisties teen blankes te diskrimineer, terwyl die groot grief teen die vorige politieke bedeling ironies juis rassediskriminasie was. Die aanvaarding van algemene stemreg in ‘n eenheidstaat, sonder dat enige kwalitatiewe vereistes, behalwe burgerskap en ouderdom, aan kiesers gestel word, het dit vir die al hoe groter wordende swart meerderheid moontlik gemaak om mettertyd enigiets te verander waarop tydens die grondwetlike onderhandelings ooreengekom is, bv eiendomsreg. Die vraag is of 1994 dié laagtepunt in die Afrikanervolk se geskiedenis is, of is dit veel eerder die Afrikaner-apatie wat daarop gevolg het?

“An event traumatizes a collectivity because it is ‘an extraordinary event,’ an event that has such ‘an explosive quality’ that it creates ‘disruption’ and ‘radical change … within a short period of time'” (Jeffrey C Alexander, Trauma: A social theory, Cambridge: Polity Press, 2012, 241p, Amazon Kindle $22.79, 198). ‘n Uitsiglose bestaan is vir die blankes geskep sonder dat hulle daaraan aandadig was, behalwe dat die meerderheid blanke kiesers op grond van allerhande beloftes, waarvan bitter min tereg gekom het, naïef tot onderhandelings ingestem het. Die blankedom is nie effektiewe inspraak in die onderhandelings of die uitkoms daarvan gegun nie. Die hoofstroom-inligtingsmedia het die blankes lank mislei oor die implikasies van dit waarop onbekwame enkelinge namens hulle ooreengekom het. Onder diegene wat in leidende posisies beheer oor die staat en die land en al sy inwoners verkry het, was en is daar talle veroordeelde misdadigers.

Die nuwe maghebbers misbruik in baie gevalle hulle posisies vir eie gewin. Terselfdertyd word ‘n propaganda-oorlog gevoer om hulleself so goed moontlik voor te stel en die blankes moreel en andersins te verdoem. Hierdie nuwe opset, wat nie van wraakgierigheid vry te pleit is nie, kan effektief tot die einde van ‘n beduidende blankedom in Suid-Afrika lei en in die besonder op die lange duur die uitwissing van die Afrikanerdom veroorsaak. Die land het ‘n haas onverbeterlike kweekplek vir regverdigbare en sekerlik verstaanbare blanke trauma geword. Dit is by uitstek Afrikaners wat die spit moet afbyt.

Daar is verskillende soorte trauma. In die konteks van die Afrikaner is kulturele trauma van wesenlike belang. “Cultural trauma occurs when members of a collectivity feel they have been subjected to a horrendous event that leaves indelible marks upon their group consciousness, marking their memories forever and changing their future identity in fundamental and irrevocable ways” (Kindle 156). “Wounds to social identity” is die oorsaak van kulturele trauma (97). Dat die Afrikanerdom in 1990/94 onverdiend blywende skade aangedoen is, behoef geen betoog nie. Dat dit ernstige geestelike skade is, blyk uit die apatie (futloosheid, lamheid, onverskilligheid) wat na verloop van meer as twee dekades steeds kenmerkend van seker die meerderheid Afrikaners is. Daar is eintlik geen teken van breë verset nie, hoewel daar die afgelope tyd ‘n opflikkering te bespeur is. Die gebrek aan kollektiewe verset by blankes kan deels toegeskryf word aan Europeërs of Westerlinge se voorkeur vir individualiteit terwyl swart Afrikane by uitstek groep- of massa-mense is.

Die skeiendste onreg word oënskynlik sonder daadwerklike teenstand geduld. Boere en ander blankes kan maar een na die ander afgemaai word. Plase kan nie net onteien word nie, maar selfs sonder vergoeding deur die swart heersers gesteel word. Die nuwe heersers beweer dat al het hulle nie kaart en transport om te bewys dat die grond aan hulle voorgeslagte behoort het nie, hulle geregtig daarop voel om blankes goedsmoeds van hulle plase te ontneem. Die groot verskil tussen barre grond en ontwikkelde plase word gerieflikheidshalwe geïgnoreer. As grond, soos beweer word, deur blankes gesteel is, is dit ‘n feit dat waarskynlik nie ‘n enkele plaas deur blankes van swartes gesteel is nie.

Onderliggend aan hierdie onverkwiklike gebeure is daar hierdie traumabarende wete: Dat van al die wigte en teenwigte wat in 1990/94 in die vooruitsig gestel is, net die booswigte springlewendig is. “In die aanloop tot die finalisering van die Grondwet het oudpresident FW de Klerk die boere belowe: ‘Julle kaart en transport is veilig'” (Louis Changuion en Bertus Steenkamp, Omstrede land: Die historiese ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse grondvraagstuk, 1652-2011, Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, p 272). Wanneer begin die klippe uitroep dat groot onreg teen blankes gepleeg is en steeds straffeloos gepleeg word?

“‘Experiencing trauma’ can be understood as a sociological process that defines a painful injury to the collectivity, establishes the victim, attributes responsibility, and distributes the ideal and material consequences. Insofar as traumas are so experienced, and thus imagined and represented, the collective identity will shift. This reconstruction means that there will be a searching re-remembering of the collective past, for memory is not only social and fluid but also deeply connected to the contemporary sense of the self. Identities are continuously constructed and secured not only by facing the present and future but also by reconstructing the collectivity’s earlier life” (Alexander 574).

Hier volg enkele opmerkings oor die vorige paragraaf. Die slagoffers van die 1990/94-gebeure is by uitstek die blankes en veral die Afrikaners, wat sedert 1948 aan die bewind was en geen ander vaderland het nie. Hoe revolusionêr die gebeure was, blyk uit die 2017-ANC-konferensie toe feitlik uitsluitlik swartes kon besluit oor watter kamerade vorentoe in beheer van die land gaan wees. Tradisioneel was dit die blankes se alleenreg om hieroor te besluit. Algemene stemreg het glo gelykheid gebring. In werklikheid het swartes in buitensporige mate politieke mag verkry. Die minderheidsgroepe (blankes, bruines, Asiate) het minimale politieke mag en is in ‘n hoogs ongelyke situasie gedwing.

Die politieke ontmanning van die blankes is bykans volledig. Wie is hiervoor verantwoordelik? FW de Klerk en sy groepie medepligtiges. Afgesien van politieke magteloosheid, wat is die gevolge? Dat Afrikaners die ideaal van selfbeskikking in ‘n eie vaderland bly koester; ‘n vaderland geskoei op tradisionele Europese waardes. Die materiële gevolge is dat die blankes weens blatante rassediskriminasie kollektief verarm en dat selfs hulle eiendomsreg al hoe meer bevraagteken en in die geval van plase selfs ontken word. Sulke onreg behoort daadwerklik bestry te word, maar daarvoor is die voorvereiste dat Afrikaners opreg trots moet wees op wat hulle is. Om trots op jouself te wees, sluit sekerlik die wil tot selfbehoud in. As Afrikaners hulle selfbeeld ooreenkomstig die ANC se propaganda sou vorm, is hulle so sleg dat hulle liewer in hulle swernoot moet gaan.

Die kollektiewe identiteit van Afrikaners het sedert 1994 merkbaar verskuif, bv weg van ‘n naïewe navolging van politici asook weg van valse profete in die kerk. Geestelike sake word in die subjekte verwerk en vind by uitstek uitlewing in huise en in die sosiale media; nie in die kruipsugtige hoofstroomkoerante en op radio- en televisiesenders nie. Dit is veral in familie en vriende wat vertroue gestel word. Meer as ooit is daar ‘n duidelike onderskeid tussen “ons” en “hulle” – al word in die propaganda betoog dat so ‘n onderskeid nie mag bestaan nie. Dit gaan vir Afrikaners eerder om eksklusiwiteit as die identiteitslose inklusiwiteit wat gepredik word. Diversiteit word ook nie deur Afrikaners veridealiseer nie; eerder eiesoortigheid. Afrikaners word al hoe meer bewus van die kultuur wat eie aan hulle is, met Afrikaans, verkieslik Standaardafrikaans, as die kern daarvan. ‘n (Nostalgiese) herwaardering van die verlede, ‘n “re-remembering,” kom al hoe meer voor as reaksie teen die amptelike herskrywing en vervalsing van die geskiedenis. In die propaganda word ons gemaan dat die simbole van die verlede, die goeie ou dae, nie opgediep en vertoon mag word nie juis omdat omstandighede toe soveel beter was as wat die hede is en waarskynlik ook beter was as wat die toekoms sal wees.

Anders as die HAT (soos hier bo aangehaal) onderskei Alexander tussen blywende en verbygaande trauma. Byvoorbeeld, in Suid-Afrika gebeur dit dat skoolklaskamers afgebrand word as daar te min klaskamers is. “In die apartheidstryd van die tagtigerjare was daar ‘n sterk neiging [by swartes] om te glo: om te bou, moet ek eers afbreek; met die afbrand van skole en poskantore, stakings en sanksies wat die bestaande ekonomie vernietig, bou ons die nuwe deur die oue uit te wis” (Attie van Niekerk, Anderkant die reënboog, Kaapstad: Tafelberg, 1996, p 9; ook Praag 8.04.2017) … “die slegte bring die goeie, die slegste bring die beste, probleme [uitdagings?] skep oplossings, vernietiging dwing vernuwing af” (10). Dit is ‘n nie-Westerse Afrika-manier van dink. Sedert die ANC die politieke mag grootliks onverdiend bekom het, het hy darem agtergekom dat dit makliker is om af te breek as om op te bou.

Die probleem is dat die destruktiewe gedragspatrone wat deur die ANC en PAC gevestig is, steeds uitdrukking in bv die afbrand van skole vind. Die brandstigters en hulle meelopers kom daarna met ‘n skok agter dat daar nou nog minder klaskamers is. As so iets gebeur, word daar berig dat die kinders berading sal ontvang. Die verskaffing van berading van owerheidsweë was (feitlik) onbekend in die ou Suid-Afrika. Ek wonder oor die aard, kwaliteit of effektiwiteit van daardie berading en wat die (formele) kwalifikasies van die beraders is. Eintlik al wat sinvol vir die brandstigters en hulle aanhitsers gesê kan word, is dat hulle optrede dom was. Dit kan as ‘n voorbeeld van verbygaande trauma beskou word. Die ironie is dat sulke skynbaar irrasionele optrede deesdae die verlangde resultate lewer. Meesal word die misdadigers nie veroordeel nie; nie verbaal nie en ook nie in die howe nie. Die klaskamers word herbou en nuwes bygevoeg.

Voorbeelde van gebeurtenisse wat ongetwyfeld grootskaalse trauma veroorsaak het, is die Holocaust, die atoombomme wat op Hiroshima en Nagasaki gewerp is en die 9/11-gebeure in Amerika. Maar hulle gevolge sal met verloop van tyd al hoe minder trauma veroorsaak. Daar bly immers steeds Duitsers, Jode, Japannese en Amerikaners oor. Die 1990/94-gebeure is in ‘n ander klas. Dit kan die algehele uitwissing van die Afrikanerdom tot gevolg hê. FW de Klerk en sy groepie medepligtiges sal dan vermag wat die Britte nie met bv die ABO kon regkry nie. Die 1990/94-gebeure word dan, wat Afrikaners betref, in die letterlike en absolute sin volksmoord.

Alexander verwys na Suid-Afrika as ‘n land waar trauma voorkom (616), maar hy dink aan die veelgeprese “slagoffers” van apartheid (530) en nie aan diegene wat weens die “vreedsame 1990/94-skikking” fundamenteel benadeel is nie. Die terreur-era, wat tot ten minste 1994 voortgeduur het, het ongetwyfeld trauma by blankes veroorsaak, toe daar bv geen vullisdromme en openbare sitplekke in winkelsentrums was nie en kopers gewaarsku is om bedag op terreur te wees en liefs uit openbare plekke weg te bly. In 1990/94 het die situasie vererger toe die funksionering van die veiligheidsmagte aan bande gelê en grensbeheer verslap is en gewapende terroriste op groot skaal die land binnegesypel het.

Daar is natuurlik diegene, bv in Amerika en Suid-Afrika, wat slawerny transgenerasioneel tot ‘n hedendaagse traumawekkende gebeurtenis probeer opgradeer ten einde skuldgevoelens by blankes te wek en bevoordeling vir swartes af te dwing. Maar dit is eintlik hoogs opportunistiese gekerm wat by geen rasionele mens inslag behoort te vind nie. Slegs die destydse verslawing van swartes deur blankes word opgehaal. In die konteks van blanke eienaarskap is slawerny geslagte gelede afgestel en kan dit kwalik ‘n bron van hedendaagse trauma wees. Dit is veel eerder ‘n blatante poging tot emosionele afpersing.

In die sosiale wetenskappe en by name in die sosiologie word daar deesdae sterk klem op die sosiale konstruksie van begrippe en gebeure gelê. Alexander is geen uitsondering nie. “When social groups do construe events as gravely endangering, suffering becomes a matter of collective concern, cultural worry, social panic, gut-wrenching fear, catastrophic anxiety. Individual victims react to traumatic injury with repression and denial, gaining relief when these psychological defenses are overcome, bringing pain into consciousness so they are able to mourn. For collectivities, it is different. Rather than denial, repression, and ‘working through,’ it is a matter of symbolic construction and framing, of creating stories and characters, and moving along from there. A ‘we’ must be constructed via narrative and coding, and it is this collective identity that experiences and confronts the danger” (97).

Konstruksie vind noodwendig plaas. Dit is op hierdie manier dat ‘n terroris en ‘n vryheidsvegter selfs ‘n vredesikoon word. “Even mass murders can be understood according to drastically varying accounts and imply sharply antithetical prescriptions” (125). Wat egter dikwels in die politieke literatuur gebeur, is dat alles waarvan polities byderwets nie gehou word nie, soos die terme “terroris” en “ras”, as konstrukte afgemaak word. Die ontologiese werklikheid van sulke verskynsels word daarmee afgewater en selfs ontken. Daar is egter werklik so iets soos terroriste wat mense en eiendom op ‘n gewelddadige manier vernietig. Daar is iets soos ras anders sou daar nie in die apartheidsbeleid so doeltreffend tussen blankes, bruines, Asiate en swartes onderskei kon word nie. Dit is op grond van ras dat die ANC-regering swartes buitensporig bevoordeel en blankes uitermate benadeel. Ná die 1990/94-gebeure was dit so duidelik soos daglig dat veral die blankes benadeel is. Dit was nie nodig om daardie “we” (vorige paragraaf) moeitevol te konstrueer nie.

Andersins vind konstruksie wél plaas. Dit het bv lank geneem voordat dit duidelik geword het waartoe FW de Klerk en sy medepligtes ingestem het. Byvoorbeeld, dit was aanvanklik onduidelik hoe gemeenskappe op plaaslike vlak getransformeer sou word. Ingevolge die kommunistiese beginsel van die sentralisering van politieke mag is die munisipaliteite van ‘n streek saamgevoeg. Op hierdie manier is verseker dat daar geen plaaslike owerheid sou wees waar blanke kiesers in die meerderheid is nie. Sommige nuwe makro-munisipaliteite, net soos stede en dorpe, sou ook name kry wat onaanvaarbaar, selfs afstootlik, vir blankes is. Selfs funksioneel ongeletterde raadslede is verkies. Geld word deesdae veral aan salarisse en nie-wit armlastiges bestee, nie aan die verbetering van infrastruktuur nie. Dienslewering het duurder en ondoeltreffender geword. Sommige blanke pensionarisse ly honger en ontbeer baie omdat hulle nie hulle buitensporig hoë munisipale rekenings kan betaal nie. Nie-wit nie-betalers word geduld en behou hulle stemreg en kan deurslaggewend bepaal watter raadslede verkies word. Terseldertyd word toegegee aan die eise wat nie-betalers vir voorkeurbehandeling stel, want as eise afgewys word, hou dit die gevaar van onrus, vandalisme en geweldpleging in.

Geen rasionele mens sou tot so ‘n finansieel nie-volhoubare en ondoeltreffende opset ingestem het nie. Bowenal word skreiende onreg gepleeg. “Actors describe themselves as traumatized when the environment of an individual or a collectivity suddenly shifts in an unforeseen and unwelcome manner” (169). Soos die sentrale en provinsiale regering is plaaslike regering in die nuwe Suid-Afrika ‘n klassieke geval van “bad things happen to good people” (183). Diegene wat hulle lewe lank gewerk en pensioen en ander middele vir aftrede bymekaar gemaak het, word te kort gedoen omdat hulle verplig word om nie net by te dra tot ondoeltreffende en korrupte owerheidsfunksionering nie, maar ook tot die onderhoud van bv werkloses en onwettige inkommers.

Alexander onderskei tussen ‘n gebeurtenis en sy voorstelling/”representation” (373). Hierdie voorstelling is ‘n konstruksie wat, anders as die gebeurtenis, wysigings kan ondergaan; vandaar bv “revisionist historical scholarship” (1560). In hoofstuk 2 toon hy aan in hoe ‘n mate die populêre voorstelling van die Holocaust ‘n Amerikaanse maaksel is. Dit is Amerikaners wat die eerste berigte oor die Nazi-uitwissingkampe die wêreld ingestuur het. Dit is die verwerkings van Ann Frank se dagboek vir die verhoog en rolprente wat die publiek se beeld van die Holocaust grondig beïnvloed het. Die voorstelling sou heeltemal anders gewees het as die Nazi’s die oorlog gewen het. Dink aan hoe bv slawerny, kolonialisme en apartheid deur swartes in propaganda opsetlik oordrewe en foutief voorgestel word.

Terme soos “Nazi,” en “Holocaust” word deesdae metonimies gebruik vir wat sleg of boos is. Plaaslik word sulke terme dikwels in die konteks van apartheid gebruik. Dit gaan om voorstellings, want die destydse gebeure in Duitsland en Suid-Afrika verskil hemelsbreed. Ek het die hele apartheidsera deurleef en weet dat daardie tydvak in propaganda erg vervals word. Soos die Holocaust word apartheid sonder meer as boos beskou. Soos die Holocaust het apartheid ‘n “bridging metaphor” (1819) geword. Byvoorbeeld, Jimmy Carter, een van die swakste Amerikaanse presidente (1977-1981, hy het net een termyn gedien – selfs Barack Obama is twee termyne gegun), het ‘n boek geskryf, Palestine: Peace not apartheid (2006). Apartheid was egter op blanke selfbehoud ingestel; nie op die benadeling van ander nie. Apartheid was ‘n verstaanbare en regverdigbare hulpbron vir blankes en het (ten minste in sekere opsigte) ook die land bevoordeel. Daar was in Suid-Afrika bv veel meer wet en orde en voorspoed en Westerse beskawing as tans. Apartheid as “commodification” het sedertdien in “comedization” (1863) ontaard. Apartheid word deesdae as belaglik, selfs as malheid, afgemaak. Blankes is in werklikheid ‘n onontbeerlike hulpbron vir die land, maar weens swart bewustheid/nasionalisme vind ‘n noodsaaklike herwaardering van blankes se positiewe nalatenskap en vermoëns glad nie plaas nie.

“Collective traumas are not found; they are made. Something awful usually did occur, but how it is represented remains an open question, subject to whirling spirals of signification, fierce power contests, simplifying binaries, subtle stories, fickle audiences, and counter-narrations. Individuals do not respond to traumas but to trauma constructions. How they come to reflect upon them is certainly a matter for individual conscience, but it is also a massively collective thing. Individuals experience the pain and suffering of defeat, and the hopes for future emancipation, in terms of collective stories that engulf and instruct them, sometimes in positive, sometimes in frightening, ways” (2081).

In hoofstuk 3 toon Alexander aan hoe die Palestyne die Nakba of Katastrofe (2066, 2152), die Israeli-besetting, as trauma ervaar. Terselfdertyd ervaar Israeli’s hulle eie verblyf as traumaties omdat hulle van alle kante deur vyandige Arabiere bedreig voel en hulle internasionaal geïsoleer word (2152). Soos tydens die Holocaust staar uitwissing hulle in die gesig. Israeli’s probeer om hulle selfbehoud met “cognitive militarism” te verseker (2313); anders as in Suid-Afrika toe die doeltreffende funksionering van die veiligheidsmagte in 1990/94 aan bande gelê is, met katastrofiese gevolge. Vandag kan Israeli’s steeds sê wat Afrikaners weens verraad in eie geledere nie meer kan sê nie: “We have a state, a flag and army” (2388). In Israel is daar ‘n gesonde kern (“Block of the Faithful”) wat voortgaan met “building, settling and developing” (2372).

In hoofstuk 4 word aandag geskenk aan die gebeure in Nanjing in China in 1937 toe na bewering ‘n kwartmiljoen Chinese deur die Japannese afgemaai is. Hoewel dit sekerlik ‘n traumatiese gebeurtenis vir sommige van die oorlewendes was, het dit andersins nie kollektiewe trauma ontlok nie. Die rede hiervoor is dat die nasionalistiese Kuomintang in ‘n politieke magstryd met die kommuniste gewikkel was. Albei partye het eerder die wandade van die ander party as dié van die Japannese aan die groot klok gehang. Van 1927 tot 1949 is baie massamoorde tydens die Chinese burgeroorlog gepleeg. In 1949 het die kommuniste die bewind oorgeneem en is in bv museums en skoolhandboeke begin om die oorlogsgebeure eensydig voor te stel; soos deesdae in Suid-Afrika in bv die Apartheidsmuseum en in skoolhandboeke. “It is no wonder that a memorial museum for the massacre at Nanjing was not built until 1985, and that this dark day of human history has remained relatively unmarked up to the present day” (2781). Die Nanjing-museum is die resultaat van “the current, highly fraught process of negotiating and constructing a new collective Chinese identity” (2810). In Suid-Afrika is daar ook pogings tot nasiebou, maar dit geskied ten koste van die aansien van blankes, veral Afrikaners, soos duidelik blyk uit bv museums in Kaapstad wat die slawe en die inwoners van Distrik 6 huldig en die museum in Johannesburg wat apartheid verdoem.

Hoofstuk 5 handel oor die gewelddadige skeiding van Indië en Pakistan. Albei lande het in 1947 polities onafhanklik geword. In 1971 het Oos-Pakistan as Bangladesj onafhanklik geword. Indië het ‘n oorwegend Hindoe- en Pakistan en Bangladesj ‘n oorwegend Moslembevolking. Hierdie 80+% religieuse meerderhede het ná grootskaalse bevolkingsverskuiwings gevolg. Dit gaan hier hoofsaaklik om die aanvanklike skeiding tussen Indië en (Wes- en Oos-)Pakistan. “Die mass migrations of the Partition were hardly voluntary, they were, in fact, conducted against a backdrop of immense brutality and violence and in an atmosphere inflamed with passions” (3140). Die nuwe opset in hierdie lande, soos in die tragiese nuwe Suid-Afrika, “failed to deliver the future” (3022). “Otherness was hardly confined to colonialism” (3052). Religieuse groepe bevind hulle “on opposite sides of the partition line” (3169). Die grens tussen Indië aan die een kant en Pakistan en Bangladesj aan die ander kant, is ‘n “cultural marker” en is eerder uitsluitend as insluitend (3169).

Die traumatiese gevolge van hierdie menseslagtings is grootliks geïgnoreer (3052). Byvoorbeeld, “Women’s bodies became sites of violence where different ethnic communities sought to establish their dominance over each other” (3184). Die skeiding van die subkontinent in drie lande word as “a regretable but necessary catastrophe” beskou (3067). Dít kan nie van Suid-Afrika se 1990/94-katastrofe gesê word nie. Indië, Pakistan en Bangladesj het na ‘n groter mate van homogeniteit beweeg, terwyl die nuwe Suid-Afrika in die teenoorgestelde rigting beweeg. Plaaslik is daar al hoe groter diversiteit (dink aan die miljoene inkommers van dwarsoor Afrika en Asië) en gevolglik al hoe meer wrywing.

Die onderwerp van die sesde en laaste hoofstuk is: “Globalization and trauma: The dream of cosmopolitan peace” (3239). Ná die Eerste Wêreldoorlog en veral ná die Tweede Wêreldoorlog is wegbeweeg van mono-etniese nasionale state. Dink aan die Volkebond, Verenigde Nasies en die Europese Unie, maar ook die samevoegings van uiteenlopende kulture in bv die Sowjetunie en Indonesië. Daar word gepoog om ‘n al hoe groter metodologiese of kunsmatige nasionalisme (3239) te kweek, wat eintlik op die ontkenning van tradisionele nasionalisme neerkom. Die bestaan van “a supra-national life” word veronderstel (3411). Om dit te bewerkstellig word die verskille tussen mense by voorkeur ontken. Dit lei noodwendig tot kulturele trauma. Daar word uitgegaan van veronderstellings soos die (moontlike) bestaan van ‘n wêreldstaat en dus wêreldburgerskap en selfs iets soos ‘n wêreldmening (3397) en ‘n wêreldgewete (1777). Geen wonder dat verskynsels waarvan ingevolge die tydsgees nie gehou word nie, tot misdade teen die mensdom opgegradeer word. “Civilization was becoming world-wide” (3352). Klein mensies het groot begin dink. Selfs die Universiteit Stellenbosch verkeer deesdae in die waan dat hy sy studente vir wêreldburgeskap bekwaam, gevolglik wil hy nie meer ‘n Afrikaner- en Afrikaanse universiteit wees nie.

‘n Fundamentele probleem is die Afrikaner se “dilemma of uniqueness” (1806). In ‘n klimaat van gelyk- en eendersverklaring, van wêreldburgerskap, is daar nie simpatie met blankes nie; veral nie met Afrikaners in Afrika nie. Ons word in ‘n blik gedruk as beweerde bevoordeeldes en onderdrukkers. Ons verkeer vasgedruk in ‘n hoek en dit hang uitsluitlik van ons af of ons oorleef. Dit is ons verantwoordelikheid om die blankedom in Afrika in weerwil van die 1990/94-katastrofe in stand te hou. Oor kulturele trauma skryf Alexander: “This new scientific concept … illuminates an emerging domain of social responsibility and political action” (156). Van daadwerklike, effektiewe aksie om die Afrikanerdom van ondergang te red, is daar nog weinig sprake. Weens toenemende verengelsing word Afrikaans ook vir die wolwe gegooi. Meer as ooit het ons ‘n goeie herder nodig om ons na ‘n Afrikanertuisland te lei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.