Dan Roodt: Die slegte en die goeie van die munisipale verkiesing

Ek het nie ‘n perd in die resies gehad met dié munisipale verkiesing nie. Toenemend voel ek dat verkiesings eintlik irrelevant raak sover dit die Afrikanerminderheid aanbetref. ‘n Mens kan verkiesings gebruik om bietjie hoofstroompublisiteit te verkry, maar sodra jy werklik deel daarvan word, word jy ingetrek by die onverbiddelike logika van Suid-Afrikanisme en alles wat daarmee saamhang.

Hier in Johannesburg het dit vir my gelyk asof die Engelssprekende blankes taamlik fluks gaan stem het in die waan dat ‘n stem vir die DA ‘n verskil gaan maak om die ANC-hegemonie te verbreek. Uiteindelik het die DA heelwat beter gedoen was wat ‘n mens verwag het sodat daar nou die moontlikheid van koalisieregerings in Johannesburg, Pretoria en Port Elizabeth bestaan. Iewers het ek al voorheen geskryf dat stede in die twintigste eeu ‘n groter rol as lande gaan speel, en daarom is beheer oor ‘n stad ontsettend belangrik. Trouens, die Afrikaner se demografiese besetting van Pretoria, asook die meer as miljoen Afrikaners in Gauteng bly politieke feite wat van die allergrootste belang is.

Sodra ‘n mens egter van “koalisies” praat, is daar maar een ander groterige party naas die ANC en DA, en dit is Julius Malema se EFF. Byna soos in die Franse roman deur Michel Houellebecq, Onderwerping, waar die Sosialistiese Party in 2022 ‘n koalisie met die Moslem-broederskap aangaan om van Frankryk ‘n Islamitiese staat te maak, kom enige samewerking met die EFF insgelyks op ‘n onheilige alliansie neer.

En dit is vir my die slegte nuus van die munisipale verkiesing: dat die Suid-Afrikaanse politiek al hoe verder na links verskuif. Die kieser by die stembus het ‘n keuse tussen links-liberale sosialisme (die DA), demokratiese kommunisme (die ANC) of revolusionêre kommunisme (die EFF). Gaan kyk gerus op die webblad van die EFF wat dié party se beleid is en in welke mate hy hom uitdruklik as “marxisties-leninisties” definieer. Die EFF som self sy beleid só op:

The EFF is a South African movement with a progressive internationalist outlook, which seeks to engage with global progressive movements. The EFF draws inspiration from the broad Marxist-Leninist tradition and Fanonian schools of thought in their analyses of the state, imperialism, culture and class contradictions in every society.

Net soos die kalkoene vir Kersfees gestem het tydens FW de Klerk se fameuse referendum van 1992, het al die Engelse juppies van Johannesburg en die Afrikaanse juppies van Pretoria verlede Woensdag gestem vir samewerking met die marxisme-leninisme! Hoe presies dinge beslag gaan kry, sal ons oor die volgende week of twee verneem. Daar moet binne veertien dae plaaslike regerings saamgestel word of die grootste minderheidsparty sal kan regeer, alternatiewelik sal daar weer gestem moet word. Julius Malema het reeds te kenne gegee dat hy tydens onderhandelinge oor koalisie met sy party wat in die groot stede tussen agt en tien persent van die stemme behaal het, hardekwas gaan wees. Dalk gaan Malema aandring op een of ander simboliese onteiening van blanke grond of bates as voorwaarde om in enige koalisie te dien.

Terwyl daar in die noordelike halfrond ‘n opkoms van Regs te bespeur is, met Donald Trump (VSA), Geert Wilders (Nederland), Marine Le Pen (Frankryk), Frauke Petri (Duitsland), Norbert Hofer (wat binnekort dalk president van Oostenryk kan word) en selfs Jimmie Åkesson (Swede), volg Suid-Afrika die teenoorgestelde glybaan na links en ekstreem-links. G’n wonder die EFF vergelyk ons land met Kuba nie; tesame met Noord-Korea, Venezuela en ‘n paar ander, verteenwoordig ons een van die antipodes van die geskiedenis.

Selfs die Vryheidsfront Plus, wat hom op ‘n stadium geposisioneer het as ‘n regse, nasionalistiese party wat ten gunste van Afrikanerselfbeskikking sou wees, het ‘n liberale, multikulturele party geword wat tans baie gretig is om met die sosialistiese DA in ‘n koalisie te tree, veral in Pretoria. Dit sou geen oodrywing wees om te sê dat die regtervleuel in Suid-Afrika ingeplof het en geen rol meer speel nie. Voorlopig, altans. Want net so min as wat Suid-Afrika kon ontkom aan die nagevolge van die Amerikaanse “burgerregte”-beweging met sy swart onluste, regstellende aksie en gedwonge integrasie, gaan ons die gevolge van ‘n regse beweging in die VSA en Europa ontwyk.

Oor die kort termyn gaan die verskuiwing na links eintlik versnel. Die EFF gaan waarskynlik mag begin proe in die gestalte van deelname aan plaaslike regering en in elk geval geniet die party groot steun onder die land se aartslinkse joernaliste wat feitlik deur die bank anti-blank, anti-Westers en marxisties georiënteer is. Die EFF se publisiteitsmasjien werk reeds oortyd en uit die publisiteit sal die stemme voortvloei. Vandaar ook Malema se huidige houding van: “Kom ons gaan ‘n tweede keer stembus toe!” Hy dobbel daarmee dat die EFF van nou af aan net beter kan vaar.

Ook die DA wat finaal van die oorblywende oud-NP’s in sy geledere ontslae geraak het, is besig om al hoe vinniger na links te beweeg. Indien die party in Johannesburg of Pretoria met ‘n koalisie aan bewind kom, gaan hy baie vinnig moet bewys hoeveel huise vir die “agtergeblewenes” hy kan bou, hoeveel gratis water en elektrisiteit hy kan verskaf en hoe getrou hy aan die “ideaal van Mandela” kan wees, iets wat hy reeds tydens sy verkiesingsveldtog omhels het. Nie veniet nie, het ons ‘n paar jaar gelede al na die DA as die “ANC Lite” begin verwys, iets wat intussen posgevat het, en in die praktyk gaan daar weinig verskil tussen ANC- en DA-beleid wees, ten minste op munisipale vlak. Reeds is Kaapstad, waarop die DA hom roem, se erfbelastings van die hoogste in die land. Die middelklashuiseienaar daar word swaar belas sodat die DA sy (meesal gratis) “dienslewering” in Langa en Kayalitsha kan voortsit.

Die DA onderskat ook hoe vinnig hy van korrupte amptenare in Johannesburg, Pretoria en Port Elizabeth ontslae sal kan raak. “Kaderontplooiing” het in dié stede reeds die volle siklus deurgemaak en waarskynlik is al die metro’s behalwe Kaapstad reeds van bo tot onder met korrupte ANC-lojaliste gelaai. Danksy ons sosialistiese arbeidswetgewing is dit baie moeilik om enigiemand te ontslaan, soos Hlaudi Motsoeneng van die SAUK onlangs uitgevind het toe hy ‘n paar joernaliste wou afdank. Die ANC het waarskynlik steeds groot invloed in die vakbonde. Verwag allerlei rusies en magstryde, ten minste vir die volgende vyf jaar.

Dít alles aan die negatiewe kant. Aan die goeie kant, verteenwoordig die verkiesingsuitslae die eerste tekens van verdeeldheid in die linkse front wat Joe Slovo, Nelson Mandela, Thabo Mbeki en al hanteerders agter die skerms sedert die vroeë negentigerjare gebou het. Nes die NP ineengestort het nie te lank ná die HNP- en KP-skeurings nie, word die regerende party nou deur twee mededingers aan albei kante verswak. Die werklose swart jeug stem vir Malema, veral in die stedelike gebiede, sodat steun vir die radikale swart party net kan toeneem.

Op ‘n manier is die Afrikaner se toekoms twee keer in die twintigste eeu gesteel: een keer toe ons namens die mynhuise en die banke “Bantoe-administrasie” moes toepas tussen 1948 en 1994, asook ‘n tweede keer toe ons in 1994 vir alle praktiese doeleindes ontkieser is. Sedertdien kyk ons hulpeloos toe hoe Links deur die geslaagde monstering van swart rassenasionalisme ons van feitlik al ons regte ontneem: ons eiendomsreg, ons taal- en kultuurregte, ons vryheid van assosiasie, selfs die reg op lewe.

Terugskouend, het ons Bantoe-administrasie – ook op plaaslike vlak – ontsettend goed gedoen, teen ‘n breukdeel van die koste wat nou geld. Afrikaneramptenare het meesal teen baie lae vergoeding, sonder korrupsie en met die minimum aan tegnologie, die miljoene migrante van binne en buite ons land geadministreer, asook van basiese opleiding, mediese en veiligheidsdienste, ens., voorsien. Vergeleke met die huidige opset, was dit ‘n wonderwerk van doeltreffendheid en eerlike regering.

Bantoe-administrasie is – soos soveel ander – nie meer ‘n polities korrekte term nie. Maar die begrip “dienslewering” wat tans feitlik sinoniem met plaaslike regering is, is niks anders nie: dit gaan oor die verskaffing van behuising, water en elektrisiteit aan die swart meerderheid waarvan meeste nie daarvoor kan betaal nie. Ook ID-kaarte, motorlisensies, bestuurslisensies, padwaardigheidsertifikate, ens. Hier in Johannesburg het dit meesal al in duie gestort, daarom ry ek liewers Krugersdorp toe indien ek sulke dienste benodig.

Soos wat die swart bevolking toeneem – ook weens ons oop grense – gaan die behoefte aan “administrasie” en “dienslewering” dienooreenkomstig vermeerder. Goddank dat ons nie meer aan dié burokratiese toring van Babel hoef deel te neem nie, en as verdrukte minderheid met oorlewing besig is.

Ons politieke vyande het hul nou met Bantoe-administrasie opgesaal en ‘n mens kan hulle net alle voorspoed toewens. Gaan besoek die naaste staatshospitaal of die Randburgse lisensiekantore om te sien hoe dit lyk.

Bevry hiervan, asook van politieke invloed of deelname in die algemeen, het daar ‘n hele nuwe ruimte vir ons oopgegaan. Ons kan aan die privaatekonomie deelneem soos nog nooit tevore nie, hier en internasionaal. Teenoor die “konserwatiewe revolusie” (‘n term van Carl Schmitt) wat hom in die noordelike halfrond afspeel, kan ons ons posisioneer as lojale Westerlinge aan wie daar ‘n groot onreg gedoen is en steeds word.

Indien die DA in Pretoria gaan regeer, verstout ek my om te sê dat ons soveel te meer krities en aktivisties met straatnaamveranderings, asook die aaklige term “Tshwane”, sal omgaan. Dalk is die DA ‘n aangenamer vyand om te hê as die ANC! Ten minste verstaan ‘n paar DA’s darem nog Afrikaans, dus sal hulle ons petisies en betogings beter begryp.

Terwyl politieke nasionalisme oënskynlik onder Afrikaners dormant is – anders as in die meeste Westerse lande – bruis kulturele nasionalisme steeds onder ons mense. Die taalstryd is vir ons die belangrikste kwessie wat daar is, asook die opvoeding van ons kinders op skool en op universiteit, juis omdat ons almal besef dat goeie opleiding selfs anti-wit wetgewing en maatreëls troef. Net soos wat Stalin op ‘n stadium sy fabrieksbase moes doodmaak om hulle te kry om nie voorrade te midde van die algemene skaarste in Rusland op te gaar nie, sal die ANC of die DA of die EFF uiteindelik maatskappybestuurders tronk toe moet stuur of moet ophang om hulle te keer om blankes in diens te neem. Ek is ook beïndruk met hoe ons kinders se geslag op die internet woeker, internasionaal vriende maak en dikwels terwyl hulle nog op universiteit is hul eie ondernemings begin.

Die staat en die munisipaliteite kan nie anders as om aanhoudend te verswak nie. Nóg die ANC, nóg die DA beskik oor die vermoë om hul revolusie of sogenaamde “transformasie” deur te voer. Dit is ons behoud. Die ANC en SAKP dreig al twintig jaar vanonder die hamer en sekel met die eerste of tweede revolusies, maar u en ek woon nog steeds in ons huise, ry met ‘n motor, stuur ons kinders na Afrikaanse skole toe, en so meer. Ek wil nie blasé klink nie, maar as dit Europese kommuniste was met wie ons te make had, sou ons nou al lankal les opgesê het.

Wat ons te doen staan, is “metapolitiek”: om ons eie mense, asook die elite, met idees te probeer beïnvloed. Die meeste “altregse” denkers oorsee het tot dieselfde slotsom gekom. Solank as wat die globale media en die universiteite in die hande van die kultuurmarxiste verkeer, is alle gewone partypolitiek tot mislukking gedoem, met die uitsondering van daardie lande waar daar reeds onstuitbare regse of nasionalistiese bewegings bestaan.

Daarmee saam moet ons vlugvoetige nuwe ondernemings bou wat in die skadu van ANC-wetgewing kan floreer, dog nie sonder meer aan die staatsmag onderwerp kan word nie. Voeg daarby die veiligheidskwessie, om fisiek te midde van die geweld en wanorde te kan oorleef, en ons kan sien dat daar baie werk te doen is.

Die Leeus het Saterdag die rugby teen die Hurricanes verloor, en dalk is die uitslag van die munisipale verkiesings nie meer of minder belangrik nie. Maandagoggend gaan ons weer met ons lewens voort.

En dalk is dít rede tot optimisme: dat ons in weerwil van die stortvloed revolusie- en transformasiepraatjies in die media en elders steeds daarin slaag om met ons lewens voort te gaan.

Ons Afrikaanse lewens!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.