Leon Lemmer: Leon de Stadler: Afrikaans as euwel

Deel op

Afrikaanssprekende blankes gaan onverpoos voort om Afrikaans te benadeel, onder meer aan die Universiteit Stellenbosch (US). Leon de Stadler is die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Hy was voorheen ‘n dosent in die US se departement Afrikaans en het heel moontlik steeds ‘n verbintenis daarmee. Maar sedert hy met die Taalsentrum gemoeid is, gaan dit vir hom oor taal as sodanig. Hy maak homself wys dat hy vrygestel is van enige poging om vir die beleërde Afrikaans in die bres te tree. Hy het Chris Brink se tweetalige en Russel Botman se meertalige US sonder meer ondersteun. Oor Wim de Villiers se militante pogings om die US te verengels het hy, sover bekend, nog geen kritiek in die openbaar uitgespreek nie.

By ‘n vorige geleentheid (Praag 7.11.2012) het ek De Stadler verkwalik omdat hy (opsetlik) geradbraakte Afrikaans praat, terwyl hy seker poog om (altyd) goeie Engels te besig. Sy vrou, Amanda, neig in dieselfde rigting deur eerder Kaaps as Standaardafrikaans te bevorder, in haar hoedanigheid as direksielid van die Afrikaanse Taalraad en as uitvoerende hoof van Vriende van Afrikaans (Praag 16.02.2014). Veral in geleerde, akademiese geledere behoort korrekte taal gekoester te word.

Na my genoemde skrywe oor Leon de Stadler het Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013), verskyn. Daarin word vertel hoe De Stadler die deurlopende agteruitgang van Afrikaans aan die US probeer ontken of kamoefleer het deur te roem op hoe goed taal aan die US bestuur word. Veral openbarend is dat hy hom net een keer verwerdig het om met die bestuur van die Konvokasie te skakel (p 156); blykbaar omdat daardie liggaam hom teen die verengelsing van die US verset het. De Stadler “het selfs die openhartige en eerlike debat as ‘n gevaar vir Afrikaans beskryf en gespog dat die US se taalbeleid ‘die leiding neem onder Suid-Afrikaanse universiteite’ want dit is ‘n ‘unieke, innoverende taalbeplanningsprogram’. Hy spreek egter nie ‘n enkele probleem aan wat die beleid skep nie” (180). Die deuntjie wat De Stadler graag saam met polities linkses sing, is: “Hy veg vir mense, en nie vir ‘n taal nie” (185). Die mense wat as hoofoorweging geld, is ongetwyfeld die swartes. Wat afwesig is, is grondige agting vir Afrikaans en Afrikaners. Daarom is die “swak diversiteitsprofiel” van die US vir De Stadler so ‘n belangrike oorweging. “Maar die US volg ‘n goed bestuurde model wat sal verseker dat probleme billik hanteer word” (220).

Dit lyk asof hier ‘n mens is met enersyds ‘n politieke agenda ten koste van Afrikaans en andersyds ‘n praktiese agenda ter moontlike persoonlike bevoordeling in die vorm van kruipery by die rektor; agtereenvolgens Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers. Uit die oogpunt van die stryd om Afrikaans het ons hier met die verkeerde persoon in die verkeerde posisie op die verkeerde tyd te make. Hoe kan hy sy gedrag versoen met wat hy as Afrikaanssprekende blanke van huis uit was?

De Stadler se akademiese agtergrond in Afrikaanse taalkunde en sy pos aan die US maak hom teoreties uitnemend geskik om oor Afrikaans as akademiese, wetenskaplike en kulturele bate te skryf, maar hy doen dit nie. Hoewel hy op grond van eerstehandse ervaring dit maklik kan doen, stel hy ook nie die deurlopende agteruitgang van die stand van Afrikaans aan die US op skrif ten einde mense bedag daarop te maak en hulle met praktiese voorstelle te help om wal te gooi nie. Hy beywer hom eerder vir die teenoorgestelde deur voor te gee dat alles wel is; dat danksy sy bekwaamheid en ywer taalsake moers goed bestuur word.

Sy jongste vergryp teen Afrikaans is ‘n artikel oor ‘n opname wat aan die US gedoen is wat rugsteun aan die rektor se verengelsingsmanie verleen (Die Burger, 10 deser, p 15). Navorsing toon glo “dat Afrikaanssprekende studente toenemend ‘n voorkeur ontwikkel om in Engels te studeer.” Pleks van Unesco se moedertaaldag op 21 Februarie te vier, bv die viering van Afrikaans deur Afrikaners, “vier ons die diversiteit van tale”. Daar word toegegee dat moedertaal onderrig “veral in ‘n kind se eerste skooljare” (hy sê nie hoeveel jare nie) goed is. Dan begin hy kant vir Engels ten koste van Afrikaans kies: “Dit is egter ‘n ope vraag – hoe ongemaklik ook al – of almal ewe geredelik die volskaalse gebruik van ons moedertale in hoër onderwys kan of wil propageer. En dit is nie ‘n vraag wat net in Suid-Afrika gestel word nie, maar sekerlik ook in ander wêrelddele, soos Europa, waar die gebruik van Engels as internasionale akademiese taal steeds meer veld wen.”

Waarvoor De Stadler hier skerm, is die Wimistiese dogma van wêreldburgerskap. As De Stadler en De Villiers se gesindheid anders was, sou ‘n Afrikaanse en Afrikaner-US, soos die US in die vorige eeu was, nie as bedenklik parogiaal beskou word nie, maar as ‘n trotse akademiese, wetenskaplike en kulturele bate, met ‘n veilige kampus wat nie ‘n gepunderde puinhoop is nie, waar verkragtings onbekend is en waar sake van die gees dag en nag ongehinderd aandag geniet. In Europa is daar ook al hoe sterker aandrang op die gebruik van moedertale, toenemende trots op die volkseie en verset teen verswelging deur vreemdelinge.

Op kenmerkende manier wil De Stadler hom nie by die taalstryd laat betrek nie. Hy wil net op nugtere wyse sekere navorsingsresultate uitlig. Hy beperk sy aandag tot twee sake: “die groeiende en veral ook noodsaaklike diversiteit op ons eie en ander kampusse, en die veranderde en steeds veranderende houdings van ons studente en personeel.” Die noodsaaklikheid van diversiteit kan myns insiens bevraagteken word, veral die oordrewe vorm wat dit aan die US aanneem. ‘n Universiteit vir ‘n bepaalde geslag, taal of kulturele groep is nie noodwendig akademies ongewens nie. Wat ongetwyfeld akademies ongewens is, is wanneer die toelating van studente en die aanstelling en bevordering van dosente primêr ras- en geslagsgedrewe is, soos tans aan die US.

“Van 2015 se nuweling-eerstejaars was slegs 43,5% Afrikaanstalig, en in baie klasse is Afrikaanse studente nie meer die meerderheid nie.” Maar toe Afrikaanse studente jare lank die meerderheid was, het De Stadler dit nie as argument gebruik om Afrikaanse lesings te regverdig nie; eerder dat daar al hoe meer Engelse lesings moet wees. Die liegfaktor word ook nie in ag geneem nie. Toe Kalie Heese in die jare sestig en sewentig as studentedekaan aan die Universiteit van Wes-Kaapland gefunksioneer het, het daar by hom telkens bruin studente van plekke soos Garies en Koekenaap aangekom wat beweer het dat hulle eintlik Engels is. Dan het Heese gevra: “Maar as jy baie kwaad is, in watter taal vloek jy?” As al die bruin studente eerlik oor hulle moedertaal rapporteer, is die meerderheid studente aan die US heel moontlik steeds Afrikaanssprekend.

Volgens De Stadler is daar ‘n behoefte “aan ‘n gemeenskaplike taal wat die akademiese en ander gesprekke op die kampus fasiliteer, en daardie taal is natuurlik [!] Engels” Deel van studentwees en ‘n kernaspek van die akademie en die beroepslewe is vaardigheid in (of ten minste ‘n mate van kennis van) ander tale. As ‘n nie-Afrikaanse student kies om na ‘n nie-eentalig Engelse universiteit te gaan, kan met reg van hom verwag word om Afrikaans baas te raak. Van my is verwag om vir ‘n vierjarige beroepsgraad kursusse in Afrikaans, Engels, Frans en Duits te slaag. Van enige US-student, ook dié wat as oorbenadeel getakseer word, kan suiwer akademies verwag word om genoemsame kennis van sowel Afrikaans as Engels te bekom. Voorheen is leeskennis van Duits deur die US vir MBChB-studie vereis. Die toelatingstandaarde vir nie-wittes het sedertdien dermate gedaal dat kennis van net Engels as akademies voldoende geag word. Die punt is: Engels hoef nie en behoort nie die enigste gemeenskaplike US-taal te wees nie. Met die nodige insig en wil kan Afrikaans (ook) ‘n (selfs dié) gemeenskaplike US-taal wees.

Met vraelyste is inligting van 308 dosente en 511 derdejaarstudente verkry. Hou in gedagte dat bruin studente teen hulle derde studiejaar feitlik almal tot Engelssprekend getransformeer het. “In die studie het 59,49% hul huistaal as Afrikaans aangedui, 32,88% as Engels … Byna twee-derdes van die studente verkies Engels as akademiese taal, en slegs 33,66% verkies Afrikaans. Van die Afrikaanse studente het 43,09% hulle uitgespreek ten gunste van Engels as akademiese taal, terwyl 55,92% Afrikaans verkies” Dit hang natuurlik af hoe die vrae ingeklee is. Verwys “akademiese taal” na doseertaal of publikasietaal? Vir die wydste moontlike verspreiding van inligting is Engels as publikasietaal uiteraard ‘n beter medium as Afrikaans. Maar Afrikaans kan steeds deur diesulkes as doseertaal verkies word. Die meerderheid Afrikaanse studente verkies glo Afrikaans as akademiese taal. Waarom gebruik die Afrikaanssprekende De Stadler dit nie as grondslag vir ‘n kruistog ten behoewe van ‘n (meer) Afrikaanse US nie? Omdat dit nie polities korrek sou wees nie?

De Stadler verkies egter om tot ‘n heeltemal ander gevolgtrekking te kom. In vergelyking met vorige statistiek word dit vir hom “duidelik dat Afrikaanssprekende studente toenemend ‘n voorkeur ontwikkel om in Engels te studeer. By Engelse studente lê dit voorspelbaar anders: 98,81% kies Engels en 1,19% Afrikaans.”

“Steeds meer Afrikaanse studente woon ook Engelse klasse by in ‘n parallelmedium-opset omdat hulle dit onder meer interessanter vind – hulle wil nie afgesonder wees van die rykheid van ‘n uitwisseling van diverse idees nie.” Dit kom neer op ‘n pleidooi vir rasse-integrasie. Aan die US is daar in elk geval sterk beperkings op “diverse idees”. Wim de Villiers wil almal op die kampus bv indoktrineer om transformasie (onkrities) aan te hang. As onderrig in parallelle Afrikaanse en Engelse klasse aangebied word, beteken dit in die praktyk dat die Afrikaanse klasse hoofsaaklik deur wittes en die Engelse klasse hoofsaaklik deur nie-wittes bygewoon word. Hierteen maak integrasioniste heftig beswaar terwyl dit suiwer akademies ‘n veel beter opset as gesamentlike Afrikaanse en Engelse klasse is. In gesamentlike klasse kan die hoeveelheid onderrig wat verskaf word teoreties met die helfte daal. In die praktyk vind daar egter dikwels dermate intimidasie plaas dat sulke klasse oorwegend (indien nie uitsluitlik nie) in Engels aangebied word.

‘n Belangrike faktor wat bepaal of Afrikaanse of Engelse bygewoon word, maar (feitlik) nooit genoem word nie, is die tye waarop die klasse geskeduleer word. Aan ‘n universiteit soos die US, waar die bestuur sterk pro-Engels gesind is, kan Afrikaanse klasse op ongerieflike tye, bv baie vroeg of baie laat, geskeduleer word sodat Afrikaanse studente gerieflikheidshalwe eerder die Engelse klasse bywoon. Engelse klasse word op gerieflike tye geskeduleer omdat ‘n mens mos nie reeds benadeeldes verder mag benadeel nie. Daarom word voorheen benadeeldes eerder bevoordeel. Op hierdie manier bekom die universbestuur “bewyse” dat die meeste studente Engels verkies. Dit is een van die redes waarom onverwyld ontslae geraak moet word van diegene wat nie die US-raadsbesluite oor die gelyke status van Afrikaans en Engels wil uitvoer nie.

“Nie-Afrikaanstalige studente is egter negatief teenoor Afrikaans, veral as dit deur beleid aan hulle opgedwing word en as hulle voel hulle word daardeur benadeel. Wat beteken dit vir die bevordering van ons minderheidstale in hoër onderwys? Die antwoord is dalk dat ons moet afstand doen van die idee dat ons hulle kan bevorder deur beleid af te dwing, en eerder verbeeldingryke maniere vind om meertaligheid – waaroor studente wel positief is – te bevorder deur dit te herverpak vir diegene wat dit wil hê.”

De Stadler verf hom onnodig in ‘n hoek vas en moet dan op “verbeeldingryke maniere” en met herverpakking daaruit kom, maar hy vertel ons nie hoe nie. Minderheidstale, bedoelende Afrikaans, mag nie opgedring word nie, maar die koloniale taal Engels, wat die swart meerderheid verkies, mag maar aan almal, insluitende Afrikaanssprekendes, opgedring word, soos nou aan die Universiteit Vrystaat (UV). Maar De Stadler, ‘n Afrikaanssprekende Afrikaansdosent, het, sover bekend, nog nie ‘n woord van kritiek hierteen uitgespreek nie. Afrikaanse studente en dosente word op ‘n gruwelike manier aan die UV benadeel, maar polities korrektes redeneer dat vorige sogenaamde bevoordeeldes nou maar benadeel mag word. De Stadler se pleidooi vir meertaligheid is ook misplaas omdat daar ondubbelsinnig eerder vir Afrikaans as vir meertaligheid geveg moet word; onder meer omdat meertaligheid nie noodwendig Afrikaans insluit nie. As studente werklik positief teenoor meertaligheid is, hoef hulle nie negatief jeens Afrikaans te wees nie en behoort hulle ‘n tweetalige en selfs ‘n Afrikaanse US (soos die US voorheen was) te aanvaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.