Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Hanskakiebedrywighede

Deel op

“Hanskakie” is ‘n “minagtende benaming vir ‘n Afrikaner wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog [1899-1902] na die Britse kant oorgeloop het” (HAT). Die voor die hand liggende vraag is: Is so iemand werklik ‘n Afrikaner of bloot ‘n Afrikaanssprekende? Die term “hanskakie” is egter ook toepaslik op ons huidige situasie waar Afrikaanssprekendes die leiding in die bevordering van Engels en die benadeling van sowel Afrikaans as Afrikaners neem. In universiteitsverband beteken hierdie beheptheid met Engels deesdae veral die bevordering van swart belange, wat in die praktyk sekerlik ten koste van blanke belange geskied. Die pro-Engelsveldtog is deel van pogings ter massaverswelging van Afrikaners; die afdwinging van die wil van die meerderheid.

Die verwysing na die Tweede Vryheidsoorlog is ook verouderd. Volgens die ANC het hy plaaslik die eintlike bevrydingstryd met sy terrorisme gevoer. Dit kan dus nie sommer maar net die Derde Vryheidsoorlog genoem word nie. Die benaming “Anglo-Boere-oorlog” is ook nie goed genoeg nie, want dan lyk dit asof net die Britte en die Boere oorlog gevoer het. Die swartes se aandeel, hoofsaaklik ter ondersteuning van die Britte, moet glo ook erkenning kry. Vandaar die jongste voorkeurbenaming, Suid-Afrikaanse Oorlog, met as ironie dat Suid-Afrika eers sedert 1910 staatkundig bestaan. Die populêre beeld wat plaaslik van die Britte en Engels gefabriseer word, is dié van onverdunde voortreflikheid. Maar daardie voorbeeldige Britte praat by voorkeur van die Boer War.

Die aanleiding vir my skrywe is Sandra Liebenberg en AJ van der Walt se artikel, “Afrikaans ‘verdien nie spesiale behandeling'” (Netwerk24, 22 deser; ook Die Burger, p 13.). Albei outeurs het eerbare Afrikanervanne. Maar as ‘n kleinseun van Hendrik Verwoerd dit sy missie maak om hom van Afrikaners te distansieer, is dit moontlik dat Liebenbergs en Van der Walts dieselfde kan doen. “Prof Sandra Liebenberg beklee die HF Oppenheimer-leerstoel in menseregte aan die US en prof AJ van der Walt is ‘n professor aan die US se regsfakulteit. Hierdie artikel het op theconversation.com verskyn.” ‘n Vraag wat gevra kan word, is: Waarom het Die Burger dit nodig geag om hierdie teks te herpubliseer? Om verskillende menings oor hierdie saak te belig, is nie ‘n geldige antwoord nie, want Die Burger sal myns insiens deesdae nooit ‘n sterk pleidooi ten gunste van Afrikaans en/of Afrikaners, soos dié op Praag, (her)publiseer nie.

“Die behoefte aan onderrig in en deur Afrikaans/Hollands was trouens die vernaamste enkele rede om ‘n universiteit op Stellenbosch tot stand te bring. In hierdie betekenisvolle jare het ook Die Burger om dieselfde rede as die universiteit op Stellenbosch tot stand gekom” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 7). Vanjaar is dit ‘n eeu gelede dat Jannie Marais* dood is. Die bemakings in sy testament het die ontstaan van die US in 1918 moontlik gemaak. Die Burger het in 1915 met publikasie begin, weereens danksy Marais se vrygewigheid. Sowel die US as Die Burger het egter juis vanjaar uitgemunt in hulle anti-Afrikaansgesindheid. Die aanloop hiertoe het jare gelede begin.

[* Sover ek weet het niemand aan die US vanjaar ‘n poging aangewend om die amptelike en openlike miskenning van Marais se stigtingsvoorwaarde (dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie) te regverdig nie; bv nie hierdie twee wetsgeleerde outeurs nie, ook nie Wim de Villiers nie en ook nie die kampusgewete en etiekkolos Anton van Niekerk nie. As ‘n mens met oorgawe en onkrities in die dampkring van die ANC, wat homself graag as moreel voortreflik voordoen, beweeg, hoef ‘n mens jou skynbaar nie te verknies oor ‘n ernstige etiese kwessie soos hierdie een nie. Marais is dood en die lewende oortreders ignoreer gerieflikheidshalwe ‘n probleem wat met ouwêreldse ordentlikheid aangespreek behoort te word.]

Die ondergang van Afrikaans aan die US het daadwerklik ‘n aanvang geneem met die aanstelling van Chris Bink as rektor (2002-2007). Pleks van ‘n Afrikaanse universiteit te wees, het die US “‘n meertalige universiteit wat Afrikaans bevorder” geword (8). Die US-konvokasie het tevergeefs daarop aangedring dat die US eerder “‘n Afrikaanse universiteit wat meertaligheid bevorder” moet wees (86). Eintlik sou die beste gewees het as daar nooit met Engelse onderrig begin is nie. Die Engelssprekende blankes, wat veral sedert 1990 na die US gestroom het, was heeltemal geneë met Afrikaanse onderrig. Dit was die groeiende getal swartes op die kampus wat op onderrig in Engels aangedring het. Aan hierdie myns insiens onredelike eis is progressief toegegee. Dit is ‘n onredelik eis omdat die aanleer van ander tale ‘n redelike akademiese eis is wat dwarsoor die wêreld aan universiteitsstudente gestel word. Universiteitstudente mag ‘n mate van inspraak hê, maar nóg die studente nóg elemente in die regering behoort toegelaat te word om akademiese voorskrifte uit te reik.

Die Burger se rol in die Afrikaansstryd op Stellenbosch is glad nie eerbaar nie. Die ampstermyn van Russel Botman as US-rektor (2007-2014) het saamgeval het Henry Jeffreys se redakteurskap van Die Burger (2006-2011). Die eerste “swart” US-rektor en die eerste “swart” redakteur van Die Burger het gemeenskaplike grond in hulle anti-Afrikaans-ingesteldheid gevind. Van die eerste besoekers wat Jeffreys as redakteur ontvang het, was Chris Brink, wat sekerlik versekering vir gunstige koerantpublisiteit vir sy veldtog teen Afrikaans gesoek het. Jeffreys het “verduidelik dat hy neutraal staan” (221). Dit toon nogeens dat ‘n “swarte” nie kan inskakel by ‘n institusionele kultuur wat tradisioneel blank was nie. In die praktyk was Jeffreys se taalbeleid nie neutraal nie; eerder anti-Afrikaans. Hy het net lof vir Botman se afskaling van Afrikaans gehad. Kapp verwys na Die Burger wat in Jeffreys se tyd “onrus gesaai” het (199). Dan is daar Ampie Coetzee wat in 2010 “Die Burger daarvan beskuldig het dat hy geen hulp verleen vir die bestendiging van Afrikaans aan die US nie” (203). In ‘n poging om transformasie te bevorder, het die koerant in dieselfde jaar selfs op ‘n hoogs onetiese manier ingemeng in die verkiesing van US-raadslede (207).

Die situasie van Afrikaans aan die US het dramaties verswak weens die ingesteldheid van drie rektore wat van huis uit Afrikaans was: Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers. Die Burger se onverskilligheid teenoor Afrikaans was ook nie beperk tot die redakteurskap van Jeffreys nie, soos Kapp se relaas duidelik maak. Vanjaar, met Bun Booyens jr as redakteur, is geen twyfel gelaat dat die koerant voorkeur aan transformasie bo die bevordering van Afrikaans gee nie. “‘n Duidelike aanduiding dat Die Burger se simpatie by De Villiers se taaltransformasie lê, is gegee toe Joan Hambidge se pro-Afrikaansstandpunt met ‘n duim wat afwaarts wys en Stan du Plessis se vertrapping van Afrikaans met ‘n duim wat opwaarts wys, geïllustreer is (Die Burger, 19 November, p 9). Dieselfde laai is uitgehaal toe [Johan] Hattingh se anti-Afrikaansstandpunt (duim op) naas Ebbe Dommisse se pro-Afrikaansstandpunt (duim af) gepubliseer is (Die Burger, 26 November, p 23)” (Praag 28 November). Kapp noem tereg dat Afrikaans in Jeffreys se termyn minder steun as tydens die redakteurskap van Dommisse ontvang het (221). In 1997 het Dommisse “daarop gewys dat ten spyte van Nelson Mandela se paaiery belangrike faksies in die ANC vyandig teen Afrikaners en Afrikaans staan” (68).

Blankes is deesdae grondwetlik en in die praktyk amptelik tweedeklasburgers en Afrikaners word daarbenewens vir kritiek en verguising uitgesonder. Net so min as wat Afrikaners bevoorregtes is, het Afrikaans steeds ‘n bevoorregte posisie aan die US. Maar presies dit word valslik in die newe-opskrif van Liebenberg en Van der Walt se artikel beweer. Die voorstanders van Afrikaans wil glo die bevoorregte status van Afrikaans behou, maar daar is geen sprake dat Engels as ‘n bevoorregte taal aan eentalig Engelse universiteite geëtiketteer word nie. Voorts word verwys na die US-bestuur se voorstel dat Engels die primêre onderrigtaal moet wees. Dit word ‘n “besluit” genoem, sonder om by te voeg dat die US-raad hierdie voorstel afgekeur het. Afrikaans het glo ‘n “problematiese geskiedenis.” Myns insiens het nóg Afrikaans nóg Afrikaners ‘n meer problematiese geskiedenis as die Engelse of Britte, maar dit pas die outeurs om nie ‘n woord hieroor te rep nie.

Die twee outeurs het regskwalifikasies maar in die artikel gaan dit vir hulle uitsluitlik om ‘n vertolking van die grondwet. Hulle blyk eerder wets-* as regsgeleerdes te wees. Geen poging word aangewend om reg aan Afrikaans en Afrikaners te laat geskied nie. Die grondwet wat in 1996 in ‘n ANC-oorheersde parlement aanvaar is, is ongekwalifiseerd evangelie vir hulle. Hulle neem nie in ag dat die meerderheid kiesers in die 1992-referendum vir magsdeling gestem het nie, maar op die uitdruklike voorwaarde dat die finale grondwetlike ooreenkoms vir goed- of afkeuring tydens ‘n daaropvolgende referendum aan hulle voorgelê moet word. Die beloofde magsdeling het in algehele magsoorgawe ontaard. Dit is dus redelik om te beweer dat sowel die 1993-oorgangsgrondwet as die 1996-grondwet en dus ook die ANC-bewind streng gesproke onwettig is. [* Wetties: “Oordrewe stip, streng na die wet” (HAT).]

In die 1996-grondwet se taalartikels word woorde soos “redelikerwys”, “doenlik”, “redelike”, “billikheid” en “doenlikheid” gebruik en daarbenewens is daar die skynbaar onvermydelike sug na regstelling, wat wesenlik ‘n eufemisme vir swart bevoordeling is. As die outeurs daarop ingestel was om wat reg is te bepleit en nie agter wettiese truuks geskuil het nie, sou hulle daarop gewys het dat die vyf woorde genoem aan die begin van hierdie paragraaf vir hoogs subjektiewe vertolkings vatbaar is. Ook dat in die nuwe Suid-Afrika kwalik met reg van ‘n regbank onafhanklik van die ANC-regering gepraat kan word, want daar word openlik erken dat die aanstelling van regters nie suiwer na verdienste geskied nie omdat ingevolge regstelling/transformasie groot gewig aan etnisiteit (spesifiek nie-witheid) en geslag (vrouheid) geheg word. Die US streef daarna om hierdie wanbeleid in sy personeelbeleid te weerspieël. Daarmee kan die doel van sowel howe as universiteite ernstig in die wiele gery word. Die nuwe Suid-Afrika is ook in hierdie opsig nie ‘n normale samelewing nie. In groter mate as in normale samelewings bestaan die moontlikheid dus van subjektiewe, onregdeurweekte vertolkings van wette.

Die outeurs betrek dan ander hoogs omstrede woorde soos “gelykheid” en “geregtigheid”, wat eweneens baie verskillend vertolk kan word. Hulle kies die maklike uitweg deur die mode na te volg, dus sake vanuit die oogpunt van die ANC en swartes te bekyk. “Gelykheid word gedefinieer as die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede.” Myns insiens is gelykheid iets wat in die nuwe Suid-Afrika nie vir blankes beskore is nie; ook nie aan die US nie. “Dit beteken almal moet gelyke toegang tot die reg op hoër onderwys geniet sonder enige vorm van onbillike diskriminasie.” Male sonder tal is al tereg daarop gewys dat daar nie gelyke toegang tot bv MBChB-onderrig (insluitende aan die US) is nie; dat daar onbillik teen blankes gediskrimineer word. “Dit moet op ‘n manier aangebied word wat gelyke deelname vir almal moontlik maak.” As Afrikaanssprekendes in Afrikaans en Engelssprekendes in Engels onderrig ontvang, kan dit “gelyke deelname” genoem word. Maar die outeurs bepleit juis De Villiers se verengelsing, wat veroorsaak dat Afrikaanssprekendes in vergelyking met Engelssprekendes benadeel word.

“‘n Diverse personeel- en studentekorps maak blootstelling aan ‘n verskeidenheid van wêreldsienings en ervarings moontlik.” Suiwer teoreties kan dit ‘n sinvolle stelling wees. Die praktyk verskil egter hemelsbreed hiervan. Blanke dosente, ook aan die US, kan fanaties aktivisties wees en deurgaans doelbewus eensydige onderrig oor bv ideologiese kwessies aanbied. Konkrete sodanige gevalle is al dikwels op Praag aan die kaak gestel. Spesifiek aan die US word hierdie soort eensydigheid, dus gebrek aan akademiese vryheid, openlik deur Wim de Villiers gesteun met sy voorgestelde verpligte indoktrinasiekursusse in transformasie. Soos Wim de Villiers steun die twee outeurs klaarblyklik Open Stellenbosch (OS) se versugting na swart dosente. Die OS-doel is myns insiens nie om aan “‘n verskeidenheid van wêreldsienings en ervarings” blootgestel te word nie, maar juis om as stapelvoedsel ‘n dieet van swart en Afrikakultuur gevoer te word.

Die twee outeurs is in hulle benadering net so naïef en eensydig soos OS, bv Afrikaans/Afrikaners het politieke bagasie maar nie Engels/Britte nie. Aan die beweerde slegte verlede van Afrikaans/Afrikaners word ons telkens herinner. In hierdie opsig word die verlede lewend gehou. As dit egter by bv standbeelde en plekname kom, moet herinneringe aan die verlede vernietig word. ‘n Suiwer Afrikaanse US het die potensiaal om ingevolge akademiese vryheid “‘n verskeidenheid van wêreldsienings” aan sy studente te bied. Selfs ‘n suiwer blanke US het die potensiaal om ‘n “verskeidenheid … ervarings” moontlik te maak. Die kern van die huidige probleem aan die US is nie Afrikaans of blankes of Afrikaners nie. Die pit van die akademiese verrotting is verknogtheid aan die ANC, wat akademiese vryheid en universitêre outonomie al hoe meer beduiwel.

“As ‘n taalbeleid die skepping van ‘n diverse, inklusiewe kampusgemeenskap op enige [!] manier ondermyn, word die universiteit se akademiese lewe daardeur verarm.” Toe die US eentalig Afrikaans was, was dit ‘n inklusiewe gemeenskap in soverre Engelssprekendes vrywillig en sonder protes of oproer daarby ingeskakel het. Soos De Villiers redeneer die outeurs dat die uitsluiting van Afrikaans inklusiwiteit bevorder. Vir my lyk dit asof uitsluiting teenstrydig met inklusiwiteit is. “Die breë gemeenskap se belange moet in ag geneem word.” Deurgaans lê die outeurs die klem op die meerderheid, die massa, terwyl dit onder die leiding van die blanke minderheid en spesifiek die Afrikaners is dat die land, insluitende die US, ontwikkel is. Nêrens vertolk die outeurs billikheid op so ‘n manier dat reg aan hierdie minderheid geskied nie.

Pleks van om te beweer, soos die mode geword het, dat die verlede net sleg was, het die blanke minderheid en veral die Afrikaners, in sy geheel beskou, in werklikheid ‘n trotse geskiedenis. Wat hulle vermag het grens aan die onmoontlike. Hulle het eeue lank ver van Europa in Suidelike Afrika ‘n Europese beskawing gevestig en voortreflik uitgebou. Deur verraad het dwase politici dit van hulle ontneem. Die outeurs beweer egter: “Ná meer as 20 jaar van ‘n demokratiese bestel getuig swart studente steeds van hul pynlike ervarings weens die gebruik van Afrikaans op die US-kampus, in koshuise en in die dorp om hulle uit te sluit en te marginaliseer.” Pleks van hierdie swartes se pyn as evangelie te aanvaar, moet hulle daarvan bewus gemaak word dat daar ‘n diversiteit van menings oor hierdie onderwerp bestaan. Die bestaan van blanke universiteite is ontoelaatbaar verklaar, maar etnies homogene swart universiteite mag onbelemmerd voortbestaan. Swart studente het dus ‘n opsie wat nie meer vir blanke studente beskore is nie: Swartes het die keuse van talle kampusse waar hulle nie dieselfde pyn as aan die US hoef te ervaar nie en waar hulle in die koshuise en dorpe/stede nie gemarginaliseerd sal voel nie.

Oor die US van weleer skryf die outeurs: “Die ongeregtighede van apartheid is nie bevraagteken nie.” Dit is ‘n oningeligte of moedswillig foutiewe stelling. Gedurende apartheid is hierdie politieke stelsels deurgaans deur talle US-dosente (heftig) gekritiseer. Daar was toe in baie groter mate tekens van akademiese vryheid as tans. Van hoeveel openlike kritiek op transformasie deur US-dosente kan die outeurs getuig? Dit is asof (al) die US-dosente hulle neerlê by die wense van die outokratiese ANC-regering. Dit is asof die ANC-kamerade (in die regering en op die kampus) met hulle oorgewilligheid om enige kritiek as rassisme af te maak, (feitlik) alle kritiek in die kiem gesmoor het. Die outeurs toon onderdanigheid hieraan, wat ongetwyfeld kruipwaarde by die huidige US-bestuur het.

“Die toelating van aansienlik meer swart studente en die aanstelling van meer swart personeellede moet die hoogste [!] prioriteit wees – nie net om ‘n diverse kampusgemeenskap te skep nie, maar omdat dit uitvoering gee aan die grondwetlike opdrag om die rasseongeregtighede van die verlede reg te stel.” Dit is ‘n oorbekende deuntjie wat musiek in die ore van die De Villiers-US is. Volgens De Villiers moet transformasie iedere vesel van die US binnedring. Ongelukkig is die outeurs se hoogste US-prioriteit van ‘n politieke pleks van ‘n akademiese aard. Dit vloek teen die wese van die universiteit as akademiese inrigting. Studente en dosente/navorsers behoort suiwer akademies geëvalueer te word. Vergun my die vryheid om hier ‘n sin van die die outeurs vir my doeleindes te gebruik: “Dit is die wese van die onderwysprojek van enige uitmuntende universiteit.” Was daar na die Anglo-Boere-oorlog enige universiteite wat die “ongeregtighede van die verlede” probeer regstel het? Waarom word ‘n politieke agenda nou aan universiteite opgedring; inrigtings wat veronderstel is om ideologies neutraal te wees? Ek hoop om by ‘n volgende geleentheid in besonderhede oor ideologiese neutraliteit en akademiese vryheid te skryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.