Leon Lemmer: Universiteit van Wes-Kaapland: Die studente-opstand van 1976

Deel op

‘Ruim vergoeding vir onwettige of misdadige gedrag is ongelukkig nie uitsonderlik in die nuwe Suid-Afrika nie.’

Deel op

Die bestaan van Cornelius C Thomas se boek, Wakker wakker en aan die brand: Waarneminge van ‘n studente-aktivis, UWK, 1976 (Bellville: Mayibuye Books, 1997, 181p), gepubliseer deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), is glad nie algemeen bekend nie. Ek het eers onlangs ‘n eksemplaar bekom. Die teks interesseer my omdat dit handel oor die kampus-onrus wat ek in 1976 daagliks eerstehands meegemaak het. Wat ontstellend is, is die duidelike afbeelding van ‘n petrolbom op die boekomslag, asof dit nie verdere misdadigheid sou aanmoedig nie. Dit is gewoon sosiaal onverantwoordelik om so ‘n illustrasie te publiseer. Dit gee seker ‘n aanduiding van die mate waarin die UWK sedert die jare sewentig getransformeer is.

wakker_en_aan_die_brandJakes Gerwel, die UWK-rektor in die jare negentig, noem die boek ‘n “half-gefiksionaliseerde stukkie plaaslike geskiedenis” en noem die onrus “‘n beslissende episode in die ontwikkeling van ‘n inrigting (UWK) wat ‘n groot bydrae sou lewer in die stryd teen apartheid.” Toe Kader Asmal as minister van onderwys sy dwase samesmelting van universiteite en technikons deurgevoer het, het hy die UWK en die Universiteit Fort Hare daarvan vrygestel weens die rol wat albei in die stryd teen apartheid gespeel het. ‘n Duideliker erkenning dat die ANC-regering tersiêre onderwys eerder ideologies as akademies benader, sal ‘n mens seker nie kry nie.

In soverre Thomas se teks ‘n historiese rekord is, het dit sekerlik waarde. Ek kon die gebeure herleef. Die outeur het sy eerstehandse kennis, wat kort na die gebeure neergeskryf is, aangevul met die herinneringe van ander aktiviste en bv persberigte. “Die grootste deel … is egter outentiek die angstige werk van Oktober-November 1976” (p 181). Thomas noem sy teks ‘n “kunswerk” (p 7), maar dan ‘n hoogs onvolmaakte een. Geen eerbare akademiese inrigting sal so ‘n slordige teks publiseer nie. Dit lyk asof (feitlik) geen redigering of proefleeswerk gedoen is nie.

Hein Willemse, een van die “onbesonge helde van UWK, 1976” (p 178), het die Afrikaanse voorwoord geskryf en ‘n historikus, RH du Pré, in Engels die “historical positioning” van die gebeure. Du Pré beweer verkeerdelik dat NJ Sieberhagen die eerste UWK-rektor was (p 12), terwyl dit JG (Gans) Meiring was. Du Pré is van mening dat “inferior education” voorsien is; dat “under-educating the non-white peoples” Nasionale Party-beleid was (p 12). Volgens hom was selfs die Afrikaanse universiteite vir blankes sleg: “Afrikaner universities churned out hordes of poorly-educated en poorly-prepared graduates” (p 12).

Dít het die UWK direk beïnvloed, want baie van sy dosente was van die Universiteit Stellenbosch afkomstig. Van die UWK se begin in 1960, as ‘n universiteit uitsluitlik vir bruin studente, was dit glo ‘n geval van “staffing the university with Afrikaner Nationalists who were eager to apply government policy in the education of Coloured students; and by using the security police to stop or inhibit political activity on the campus” (p 13).

“The majority of the lecturers diligently carried out Verwoerd’s blueprint of education and considered it their duty to indoctrinate students with their warped history” (p 14).

Perspektief is hier nodig. In die ou Suid-Afrika, dus onder blanke bewind, was daar nie die huidige ANC-manie dat die demografie oral en op alle vlakke weerspieël moet word nie. Engelssprekende blankes is vryelik toegelaat om in bv die handel en nywerheid uit te munt en Afrikaners in bv die landbou en onderwys. Nie net aan die UWK nie, maar ook aan al die ander universiteite (vir Afrikaans- en Engelssprekende blankes, asook dié vir nie-blankes) was daar baie Afrikaanssprekende blanke dosente. Daar was nooit sprake dat dosente aan universiteite vir nie-blankes opdrag gekry het om hulle posisie te misbruik om studente ideologies te indoktrineer nie. Die veiligheidsmagte (polisie en weermag) het ook geen (beduidende) teenwoordigheid op die UWK-kampus gehad voor die 1973- en veral die 1976-onrus nie.

In 1973 het CJ Kriel, ‘n NGK-sendeling en teoloog, Sieberhagen as rektor opgevolg, maar hy het na studente-onrus in dieselfde jaar bedank. Ek sal nooit vergeet hoe ontsteld Kriel, toe reeds bejaard, oor die studente se snode ondankbaarheid* was nadat hy sy lewe daaraan gewy het om bruines te probeer ophef en opvoed nie. In 1974 het Wynand Mouton, ‘n uitgelese fisikus en akademikus, ‘n jaar lank as rektor waargeneem. In 1975 het die eerste bruin rektor, Richard van der Ross, ‘n opvoedkundige, oorgeneem.

[*’n Voorbeeld van snode ondankbaarheid was Percy Sonn, ‘n student wat glad nie in Thomas se boek genoem word nie. Sonn was een van min studente in die regte. In die jare sewentig het die regte net ‘n departement (met twee uitstekende, toegewyde blanke dosente) gehad; dit was nog nie ‘n fakulteit nie. ‘n Buitengewoon groot deel van die biblioteekbegroting is jaarliks aan die regsversameling toegeken. Sonn het egter met die verwyt gekom dat hy soms (dalk een of twee keer?) vir sy studie op bronne van die Universiteit Stellenbosch aangewese was.]

Van der Ross was die rektor tydens die 1976-onrus en is deur die studente gewantrou omdat hy voorheen as onderwysbeplanner in diens van die Departement Kleurlingsake was. Koos du Toit het destyds as sekretaris van die Erika Theron-kommissie goeie kontak met die Departement Kleurlingsake gehad. (Dié verslag oor die Kleurlingbevolking is in 1976 ter tafel gelê. Die HAT beweer dat kleurling/Kleurling ‘n rassistiese term is. Die HAT etiketteer verbasend baie woorde as “rassisties”.) Du Toit het gesê dat in die Departement Kleurlingsake geredeneer is dat Van der Ross besig gehou moet word deur hom as UWK-rektor aan te stel omdat hy andersins (dalk) kwaad sou doen. Van sowel regerings- as studentekant was daar dus bedenkinge oor Van der Ross. Soos ook uit Thomas se teks blyk, was Van der Ross tydens die 1976-onrus voortdurend in die spervuur, want hy moes bemiddel tussen, aan die een kant, die studente en bruin personeel, wat in sommige gevalle onrus en anargie wou saai, en, aan die ander kant, die blanke personeel en Nasionale Party-regering, wat van die UWK ‘n suksesvolle akademiese inrigting wou maak.

Die boek bevat ‘n mengsel van Afrikaans en Engels. Treffende beskrywings soos die volgende een is skaars: “‘n Koerant hier, ‘n koerant daar lê oopgevlek soos ‘n slegte meid” (p 86). As die blanke bewind beskryf word, is daar tot vervelens toe die bekende retoriek van fascisme, polisie-staat, Broederbond, laager, ens. Blankes word telkens boere, pienknekke, rassiste, varke, honde, ens, genoem. Die veiligheidspolisie word beskryf as “snotgat-melkbaard boertjies in bosbaadjies” (p 67), “dom pote” (p 88), “gattas” (p 127), “diere” (p 158) of, voorspelbaar, die Gestapo (p 124). Die aktiviste heet broers, susters, kamerade, martelare, vryheidsvegters, ens, en die beloofde land Azania. Die studente het geteer op die kommunistiese idees van bv Karl Marx en die swartbewussynsretoriek van bv Frantz Fenon.

In die hoofstuk “Voorspel” verwys Thomas, soos verwag kon word, na Ingrid Jonker se gedig, “Die kind” (1960), wat handel oor ‘n (nie-wit) kind wat deur die veiligheidsmagte gedood is. Thomas dik dit aan as “die honger kind wat onder apartheid se knarsstewels sterf” (p 22; ook p 142-143). Jakes Gerwel het sy Afrikaansstudente tot vervelens toe na hierdie gedig verwys. Dit is waarskynlik ook Gerwel wat die misbruikbaarheid van die gedig onder die aandag van Nelson Mandela gebring het. Mandela het die gedig in 1994 in die parlement voorgelees. Die Burger het hierdie gebeurtenis naïef en kritiekloos as amptelike erkenning van Afrikaans geloof.

Die aanleiding vir die UWK-opstand was die onluste in Soweto in 1976. Aktiviste op die UWK-kampus het gemeen dat hulle iets moet doen om hulle solidariteit met hulle swart broers en susters, hulle “medeverdruktes”, te toon. Thomas verwys na die “Soweto-kinderopstand” (p 28, 33), terwyl dit baie duidelik is dat geslepe volwassenes die opstand haarfyn beplan en Afrikaansonderrig in swart skole as ‘n voorwendsel misbruik het.

Tydens die UWK-onrus word die studente toegespreek/opgesweep deur die politikus Peter Marais oor “Spotlight on UWC” (p 51) en Allan Boesak oor “The role of the Church in the Black Struggle.” Boesak het “resistance – passive or active-, strikes, boycotts, etc, for the good cause” bepleit (p 130). Twee Afrikaansdosente, Jakes Gerwel (p 61 – later die UWK-rektor) en Ikey van der Rheede (p 75 – later ‘n UWK-viserektor) het die studente ook opgesweep. Al vier dra hulle toespraak in Engels voor, al is net 20% van die studente Engelssprekend (p 13). Die studente se plakkate is ook by voorkeur in Engels.

In sy voordrag het Van der Rheede soms na Afrikaans oorgeslaan. Oor Afrikaans het hy gesê: “Afrika-taal pynlik gebaar in die setlaar-kombuise (en in slawe- en werkers-kwartiere) deur die verslane, dog gladdebek Wes-Kaapse nasate van die Khoi-koning Ngounema, Sheik Yusuf, Maleis-Portugese matrose, belustige Duusmanne” (p 77). Gerwel en Van der Rheede se Engelspratery toon onteenseglik die aard van die Afrikaansdepartement, wat destyds telkens deur Die Burger geloof is as die grootste Afrikaansdepartement wat daar bestaan. Die rede waarom so baie studente Afrikaans as vak gekies het, was weens die linkse politiek wat in dié klasse deur Van der Rheede en veral Gerwel gepredik is, maar hierdie feit is nooit wêreldkundig gemaak nie.

Polities uittartend het Gerwel jare later sy intreerede as Afrikaanshoogleraar in Engels gelewer. Pas het Jason Lloyd verwys na “die heersende persepsies dat Afrikaanssprekendheid agterlik en remmend voorkom” (LitNet 10 deser). Lloyd noem dat Gerwel bekommerd oor “die beeld van Afrikaanssprekendheid” was en haal hom soos volg aan: “Daar is ‘n onverfynde brutaliteit, amper ‘n agterlikheid aan die gedurige aggressiewe bitterbekkigheid en kleinlike keffery wat ongelukkig nog deur te veel toonaangewende en beeldvormende Afrikaanse forums gevoer word.” Hierdie oordrewe kritiek het gekom van die mens wat die hoofaanspreeklikheid moet aanvaar vir die transformasie van die UWK van ‘n hoofsaaklik Afrikaansmedium-universiteit na ‘n eentalige Engelse inrigting.

In 1976 was Sosiologie waarskynlik die linkste UWK-onderrigdepartement. Daardie dosente “klink okay” (p 63). Vir onderrig was daar ‘n departement sosiologie, maar daar was ook ‘n sentrum vir sosiologiese navorsing. As deel van ‘n navorsingsprojek is vraelyste soms aan studente-vrywilligers uitgedeel. Die idee was dat die studente teen ‘n vasgestelde vergoeding per voltooide vraestel bruin huishoudings sou besoek ten einde betroubare eerstehandse inligting te bekom. Pleks van eerlike veldwerk te doen, was van dié studente moreel en akademies so onverantwoordelik dat hulle na bv die swembad op die UWK-kampus gegaan en sommer self na willekeur die vraelyste voltooi het. Op grond van die inligting wat met die vraelyste ingesamel is, het die sosiologiese navorsers dan allerhande nuwe tendense in die bruin gemeenskap ontdek.

Een van die sosiologie-dosente, Basil Kivedo, het die opstandige studente in Engels toegespreek (p 74). Hy het ‘n MK-vegter geword en is daarna as die DA-burgemeester van die Breedevallei (Worcester) aangestel voordat hy deur die DA in die Kaapse provinsiale parlement herontplooi is. Kivedo het finansieel seker nie sleg gevaar vir iemand wat kwaad gedoen het deur bv die land onwettig te verlaat en opleiding as “vryheidsvegter” te ondergaan nie, maar ruim vergoeding vir onwettige of misdadige gedrag is ongelukkig nie uitsonderlik in die nuwe Suid-Afrika nie.

Onder die blanke personeel was daar diegene wat sterk standpunt ten gunste van beskawing ingeneem en wet en orde probeer handhaaf het, al moes hulle tydens die onrus daagliks gewapen na die kampus toe kom. In die administrasie was daar Johan Stassen en Pottie Potgieter (‘n reus wat op jeugdige ouderdom oorlede is) en dosente soos George Delpierre (chemie) en Pieter Pistorius (opvoedkunde – ook bekend as die skrywer PG Hendriks). Minstens twee van hierdie mense se motors is doelbewus beskadig. Hulle standvastige voorbeeld het die blanke dosente geïnspireer om sover moontlik ongesteurd met hulle klasse voort te gaan.

Die studente het op groot skaal die motors van blankes in Modderdamweg met klippe bestook. Op die kampus is baie ruite gebreek en klaskamers, ‘n hostelkamer en die kafeteria is aan die brand gesteek. Twee tydelike houtgeboue is heeltemal afgebrand. Aan die begin van die opstand en veral later was dit ‘n klein minderheid studente wat amok gemaak en die meerderheid geïntimideer het, bv deur klasse te ontwrig, onder meer deur die studente met ‘n brandslang nat te spuit. Vandalisme het sonder gewetensbesware voortgestu. Niemand het agterna verskoning gevra nie en geeneen van dié wat later groot salarisse as “strugglehelde” ontvang het, het enige poging aangewend om die skade te vergoed wat hulle aan private en staatseiendom aangerig het nie. In sy outobiografie roem Van der Ross daarop dat hy as rektor nooit met die polisie saamgewerk het wanneer gepoog is om misdadigers vas te trek nie.

Tydens die opstand was Leonardo Appies aanvanklik die voorsitter van die UWK-studenteraad, gevolg deur Henry Matthys en later Eric Theys. Leiding in die opstand het hoofsaaklik van teologie-studente uitgegaan. Hulle is veral deur Jaap Durand beïnvloed, wat jaar na jaar die naïewe gedrag van Dietrich Bonhoeffer in Nazi-Duitsland as voorbeeld vir sy studente voorgehou het. Die idee vir die Belhar-belydenis, aanvanklik geformuleer deur Dirkie Smit (1982), het van Durand gekom, maar hy/hulle kry (feitlik) geen erkenning vir die groot verdeeldheid wat hierdie belydenisskrif sedertdien in die NG Kerk veroorsaak nie.

[Lees gerus Jean Oosthuizen se onderhoud met die moderatrise van die VGK (LitNet 10 deser), waarvolgens ongekwalifiseerde aanvaarding van die Belhar-belydenis ‘n ononderhandelbare voorwaarde vir eenheid van die NGK en VGK is; asof die laste (finansieel, polities, taalgewys, bv anti-Afrikaans-elemente) wat die VGK vir die NGK gaan meebring iets is wat soos ‘n uiters gesogte artikel nagejaag behoort te word. Lidmate word glo nie deur die VGK tot Belhar-aanvaarding gedwing nie, maar daartoe begelei. Die Heilige Gees en die VGK word as vroulik geëtiketteer. Wat ingevryf word, is dat apartheid onreg, rassisme en sonde is. Die hele besigheid lyk vir my na die dogmatiese viering van liefdelose, linkse politiek.]

Russel Botman was in 1976 ‘n studenteraadslid en sy naam word ‘n aantal kere in Thomas se boek genoem (p 30, 35, 38, 39, 60, 92, 178), maar daar is geen sprake dat hy werklik veel gedoen het nie. Hy is wel op ‘n keer deur die polisie opgesluit (p 124). In Botman se CV, soos gepubliseer op die webwerf van die Universiteit Stellenbosch, staan onder “activities” die volgende (in Engels natuurlik): 1976: “Leading university students in the Human Rights Protest against the forces of Apartheid in solidarity with the Soweto Revolt.” Dit klink sterk oordrewe. Botman was klaarblyklik maar net nog ‘n ANC-kameraad wat sy CV aangedik het.

Dit was gewis nie altyd maklik om ‘n universiteit vir bruines as akademiese inrigting uit te bou nie. Afgesien van die weerstand in linkse politieke geledere was daar ook teenstand in die akademiese milieu, bv van die Universiteit Kaapstad. Bruines kon daar met die minister se goedkeuring inskryf as die studierigting nie deur die UWK aangebied is nie. Wat die UK-dekane toe gedoen het, ten einde die regeringsbeleid te ondermyn, was om bruin studente vir die skyn vir ‘n nie-UWK-studierigting (bv staatsleer) te registreer, die minister se goedkeuring te kry en dan die registrasie te verander na kursusse wat wel aan die UWK aangebied word. Die kursusse waarvoor daar skynbaar ‘n aanvraag by bruin studente bestaan het (bv staatsleer, ‘n werklike voorbeeld), is na aanleiding van hierdie slenter in baie gevalle spoedig deur die UWK aangebied. Dit het meegehelp om die akademiese aanbod van die UWK uit te bou, maar teen groot koste vir die staat.

Van der Ross is in 1987 deur Gerwel as rektor opgevolg, met Jaap Durand as viserektor. Daarna is begin om nie-bruines, selfs dié sonder matrikulasievrystelling, as studente toe te laat. Die idee was dat die UWK ‘n ope universiteit (etnies en selfs wat skoolprestasie, of die gebrek daaraan, betref), moet wees. Die instroming van swart studente het egter aanvanklik nie sonder die teenstand van baie bruin studente verloop nie. Die Nasionale Party-regering se idee van die UWK as ‘n universiteit uitsluitlik vir bruines was nie in alle opsigte sonder verdienste nie. Van 1960 tot 1986 het bruin kultuur gedy soos nooit tevore of sedertdien nie – vra maar vir Richard van der Ross en Adam Small, as hulle eerlik wil wees. (Hoewel daar oorvleueling is, is bruin kultuur sekerlik onderskeibaar van blanke kultuur, bv wat logika/manier van dink en gesindheid jeens taal betref.)

‘n Ander feit wat verswyg word, is dat feitlik al die studente (dus ook die gesubsideerde vandale, bv klipgooiers) wat aan die “apartheids-UWK” studeer het, studiebeurse van die “apartheidsregime” ontvang het. Vra maar vir (in alfabetiese volgorde): Allan Boesak, Jonathan Jansen, Nico Koopman, Michael le Cordeur, Llewellyn MacMaster, Danny Titus, Christo van der Rheede, Hein Willemse en sulke snare. Maar daar is geen dankbare erkenning hiervoor van enigeen van hulle nie. Nogeens snode ondankbaarheid.

Henry Jeffreys het die vermetelheid om blankes daarvan te beskuldig dat hulle ‘n “gevlekte verlede” het (Die Burger, 26 November, p 10), terwyl hy bruines kritiekloos met enigiets laat wegkom. Nico Koopman predik in rubriek na rubriek in Die Burger dat mense siek is en genesing/heling nodig het. Dit is baie duidelik dat hy nie sy etniese groep, bruines, in sy visier het nie, maar hom aanmatig om wittes te veroordeel. Vir die UWK-studente-opstand van 1976 het mense soos Jeffreys en Koopman net lof. Klaarblyklik hoef daardie vandale en misdadigers nie vir hulle dade verskoning te vra of die skade te vergoed nie. Hulle hoef ook nie erkentlik en dankbaar te wees vir die universiteitsgeriewe, onderrig en studiebeurse wat hulle so mildelik ontvang het nie. My diagnose is dat daar in hierdie opsig ‘n geestessiekte in (ontwikkelde) bruin geledere woed wat genesing/heling nodig het. Dit is allermins ‘n vergesogte gevolgtrekking.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.