Russel Botman oor skuld en hoop

Deel op

Ons leef in ‘n tyd waarin bevrydingsteoloë vergoed word vir die meesal nadelige gevolge wat hulle politieke dade het. Aan Desmond Tutu is onlangs die Templeton-prys ter waarde van $1.7 miljoen toegeken. Die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Russel Botman, het pas die Abraham Kuyper-prys vir uitnemendheid in gereformeerde teologie en openbare lewe aan die Princetonse teologiese seminarium ontvang.

Die Kuyper-prysgeld is ‘n vulletjie in vergelyking met wat Tutu in sy sak steek, maar die simboliek is nie minder betreurenswaardig nie. Die Suid-Afrikaanse bevrydingsteoloog, Charles Villa-Vicencio, het die Kuyper-prys in 2005 ontvang en die Amerikaanse swartmag-aktivis, Andrew Young, in 2003. Op die US-webwerf word Botman geloof met onder andere ‘n aanhaling van Martin Luther King jr, die swartmag-aktivis wat weens blatante plagiaat ‘n doktorsgraad ontvang het. Dit is duidelik in watter geselskap Botman hom bevind. Dít is die mens wat na inperkings as UDF/ANC-aktivis in 2007 as US-rektor aangestel en in 2012 vir nog vyf jaar heraangestel is.

Die Boston-bomontploffing het op 15 April verwoesting gesaai. Botman het op 18 April sy rede in Princeton, glad nie ver van Boston af nie, gelewer. Op 25 April het Die Burger (p 17) die teks van Botman se toespraak gepubliseer, met nie ‘n woord oor die bomontploffing nie. Dit herinner sekerlik te veel aan die ANC se verlede, wat in die geweldskultuur van die hede voortgesit word.

Toe op die US-webwerf aangekondig is dat Botman die Kuyper-prys gaan ontvang, het hy hom as ‘n African beskryf en heel onbeskeie gereken dat sy “multi-dimensional leadership” bekroon word. Hy is immers in sowel die politiek as die akademie betrokke, met die klem op eersgenoemde. Daarom verklaar hy dat dit vir ‘n universiteit nie net om (akademiese) uitnemendheid gaan nie, maar ook (in die US se geval, veral) om (politieke) relevansie.

ANC-gedienstigheid maak deure vir die US oop. Nadat Jakes Gerwel vroeër vanjaar oorlede is, het Botman vertel hoe hy dit geniet het toe die kommunis, Gerwel, die marxis, Antonio Gramsci, in ‘n direksievergadering aangehaal het. Botman se transformasiestrategie is musiek in die ore van die plaaslike hoofkommunis en minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, wat daarvoor bekend is dat hy universiteite met die terughouding of vermindering van staatsubsidies afdreig as hulle nie maak soos hy voorskryf nie. Botman noem nooit akademiese kernbeginsels soos universitêre outonomie, akademiese vryheid en ideologiese neutraliteit (in die sin dat enige ideologie op die kampus geduld word) nie. Dit is vir Botman voldoende as hy die US ideologies aan die sorg van die ANC toevertrou.

As rektor het Gerwel, met die hartlike samewerking van sy visie-rektor, Jaap Durand, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) van ‘n tweetalige maar oorwegend Afrikaanse inrigting spesifiek vir bruin studente tot ‘n eentalige Engelse inrigting vir hoofsaaklik swart studente getransformeer. Daarby het Gerwel en Durand die UWK tot die tuiste van linkse, spesifiek ANC-, politiek verklaar. Dit het Gerwel met staatsgeld afkomstig van die “apartheidsregime” gedoen. Daarvoor is Gerwel in sy persoonlike hoedanigheid deur die ANC en Naspers met hoogs lonende poste vergoed. Hieruit spreek daar myns insiens nie net ‘n anti-akademiese gesindheid nie, maar ook ‘n onetiese ingesteldheid. Kader Asmal het as minister van onderwys sonder omhaal van woorde gesê dat hy die UWK en die Universiteit Fort Hare vergoed vir die pro-ANC-rol wat hulle gespeel het, gevolglik het hy hulle nie belas met sy (sotlike) beleid waarvolgens universiteite en technikons moet saamsmelt nie.

Botman se beleid van totale transformasie het die UWK, waar hy student en dosent was, as model. Hiervolgens sal die blanke teenwoordigheid op die US-kampus myns insiens tot die demografiese minimum afgeskaal en Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal mettertyd afgeskaf word. Na sy ampstermyn as rektor sal Botman sekerlik soortgelyke persoonlike vergoeding as Gerwel van die ANC en sy meelopers verwag.

In die jongste uitgawe van die alumnitydskrif Matieland (somer 2012/2013) is daar ‘n foto (p 8-9) wat die fotograaf Anton Jordaan in opdrag van die US in 2012 van Matiestudente geneem het. Dit vul glo die hele muur van die AmaMaties-gebou (let op die Afronaam). In sy kommentaar spreek Botman sy ontevredenheid oor die foto uit; daar is te veel wittes en te min swartes. Botman kan klaarblyklik nie suiwer akademies na ‘n student kyk nie. Hy sit altyd sy ras- of kleurbril op: “Oor vier jaar [dus wanneer sy huidige termyn as rektor verstryk] wil ons nog meer divers wees” (p 9). Botman se transformasiebeleid word deur die US-studenteraad gesteun. Eintlik wil hulle vinniger “vordering” hê. Daardie uitgawe van Matieland het my finaal moed vir die US as respektabele akademiese inrigting laat opgee.

Botman se Kuyper-toespraak word in die koerant onder die opskrif, “Ons skuld die jeug hoop”, aangebied. “Skuld” en “hoop” is woorde wat telkens deur die bevrydingsteoloog Botman gebruik word. Die wittes het skuld en diegene wat deur die wittes veronreg of agtergestel is, moet hoop gegee word. Heel aan die begin word in swart druk na die Soweto-opstand in 1976 verwys. In ANC-geledere word dit as ‘n spontane opstand deur skoolkinders teen Afrikaans voorgestel. In werklikheid was dit fyn georkestreerde onrusstoking deur volwassenes wat die propagandavoordeel wat die PAC met Sharpeville behaal het, wou uitwis. Dit is waarom die pers vooraf ingelig en verderflike berigte en foto’s wêreldwyd versprei is.

Afrika word deur die Afro-optimis Botman as een van die snelgroeiendste streke voorgestel. Hy noem nie die lae basis vanwaar daardie groei gemeet word nie. Daar is diegene wat droom van ‘n beter, ryker en gelukkiger lewe vir Afrikane, maar Botman wil nie net materiële welvaart vir hulle hê nie. Globalisering bedreig na bewering die morele welstand van die mensdom en armes word glo deur globalisering uitgesluit en gemarginaliseer. In hierdie proses is dit die rykes wat oorleef en selfsugtige indiwidualisme wat floreer. Botman bepleit solidariteit; ongetwyfeld van die nie-wit, nie-Westerse elemente.

Die 1976-opstand is volgens Botman deur die jeug onderneem en teen onderdrukking en ongeregtigheid gemik. By die na-geskiedenis hiervan sluit Botman die Belhar-belydenis en die Kairos-dokument in. Laasgenoemde het tot gevolg gehad dat enige geweldadige gedrag deur die “bevryders” goedgepraat en enige teenoptrede deur die “apartheidsregime” verdoem is. Botma het ‘n aandeel aan sowel Belhar as Kairos gehad. Hy klop homself op die skouer: “Ons [het] namens die moedelose jeug van ons land gedroom, gehoop en opgetree.” Vorentoe moet ons “eties en hoopvol” leef.

Dit is nie meriete of ander kwalitatiewe oorwegings wat vir Botman as spoorslag vir die toekoms dien nie, maar die demografie. Hy waarsku teen ekstreme regse en fanatiese linkse groepe. Hy onderskei tussen groei en ontwikkeling. Ek lei af dat groei deur die ontwikkeldes bewerkstellig word en dat hulle moet sorg vir ontwikkeling by die onderontwikkeldes. Dit werk myns insiens soos ubuntu: die een groep gee (na eie inspanning) en die ander groep ontvang (dikwels/meesal sonder teenprestasie). In die retoriek oor versoening doen ‘n soortgelyke situasie hom voor: die een groep moet met versoeningsgebare vorendag kom, terwyl die ander groep onophoudelik verwyte mag slinger.

Ontwikkeling sluit in “om in … ander se behoeftes en begeertes te voorsien.” Let op Botman se opportunistiese insluiting van nie-lewensnoodsaaklike begeertes. Dit gee stukrag aan swartes wat sonder meer begeer en selfs eis wat die wittes het. Botman noem dit “etiese verantwoordelikheid”, terwyl daar myns insiens heelwat in sy standpunt is wat eties onverantwoordelik is. Sy standpunt is ongetwyfeld sosialisties en kan dikwels kwalik van kommunisme onderskei word.

Dan haal Botman kerkleiers aan wat in 1995 in Kitwe besluit het dat dit tyd is om “ons mense se drome van maatskaplike gelykheid, politieke vryheid en ekonomiese geregtigheid” ‘n werklikheid te maak. Botman: “Tensy ons die bande van ons menswees erken, gaan ons ‘n toekoms van toenemende marginalisering en ongelykheid tegemoet.” Pleks van op industrialisasie en indiwidualisme te konsentreer, moet ons glo eerder onthou dat alle mense “ekonomiese geregtigheid verdien.” Verdien?

Hierna pas Botman sy geringskatting van presterende indiwidue en groepe op die universiteitswese toe. “Universiteite moenie net [akademiese] uitnemendheid najaag nie, maar ook [politieke] relevansie. Deur hul kundigheid tot voordeel van die samelewing te gebruik, kan universiteite die wêreld ‘n beter plek help maak.” Dit is daardie relevansie wat onderliggend aan Botman se transformasiemanie is. Dit weeg so swaar dat akademiese gehalte by studentetoelating en by die aanstelling en bevordering van personeel opgeoffer word.

In die ou Suid-Afrika het universiteite twee funksies gehad, naamlik onderrig en navorsing. In die nuwe Suid-Afrika het gemeenskapsdiens as ‘n derde funksie bygekom; dermate dat dit onderrig en navorsing nie net deursuur nie, maar ondergrawe en aan bande lê. In werklikheid is gemeenskapsdiens die verpligting van die staat. Aanvullende hulp word tradisioneel deur vrywilligers verleen, wat hulle dikwels in ondernemings sonder winsbejag organiseer.

‘n Ware akademikus behoort geen beginselbeswaar teen ‘n universiteit te hê wat hom by sy onderrig- en navorsingfunksie bepaal nie. Nie een van die twee hoef sosiaal relevant te wees nie. Dit mag maar suiwer om die kultivering en ontwikkeling van die vermoëns van indiwidue gaan. Dit is sulke begaafde indiwidue wat in sommige gevalle positiewe rigting vir hulle groep of selfs die mensdom in sy geheel aandui, maar nie uit hoofde van ‘n verpligting nie. Die sosialistiese Botman dink anders: “Die samelewing behoort van hoëronderwys-instellings te eis dat hulle tot die openbare welstand bydra.”

Ten slotte lei dit Botman na sy gewildste verwyt teen en verdoeming van wittes en spesifiek Afrikaners en die US van weleer: “My eie instelling, die Universiteit Stellenbosch (US), het hierdie uitdaging [‘n gewilde ANC-woord] in die jaar 2000 aanvaar toe hy sy aandeel aan die ongeregtigheid van ons apartheidsverlede erken het, en hom tot regstelling en ontwikkeling verbind het. Dié verbintenis is sedertdien uitgebou tot die US se HOOP-projek, waardeur ons personeel en studente oplossings vir vername maatskaplike uitdagings [!] in Suid-Afrika én die res van Afrika [!] nastreef.”

In die ou Suid-Afrika is die histories beproefde waarheid lank aanvaar dat nie met geweldenaars onderhandel word nie. Toe van hierdie gesonde beginsel afgesien is, het die beloofde politieke magsdeling in algehele magsoorgawe ontaard en daardie seëvierende geweldskultuur word tot op hede voortgesit. Ek wil ‘n soortgelyke onomstootlike akademiese waarheid in die midde laat: ‘n Mens stel nie ‘n aktivis, van watter ideologiese aard ook al, as rektor van ‘n universiteit aan nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.