Zuma vra immuniteit vir Afrikaleiers

President Jacob Zuma het 'n ooreenkoms voorgestel waar Afrikaleiers immuniteit teen vervolging ontvang in ruil vir hulle aftrede, het die Sunday Times Sondag berig.

"Die wêreld het verander, kom ons doen dinge daarom anders en benadruk nie straf nie."

"As jy sê: 'Goed, beweeg uit, maar more gaan ons teen jou optree', dan veroorsaak jy 'n probleem met iemand wat sê 'Hoekom sal ek gaan as ek nog steeds mag het? Ek moet eerder hier bly sit.'" Zuma het met Paul Kagame, president van Rwanda, 'n gesprek gevoer wat op TV uitgesaai is.

"Die leierskap van Afrika moet hierdie sake baie beslis hanteer. Dit is nie ter wille van ons leiers nie. Dit is ter wille van ons mense, ter wille van ons kontinent," het Zuma gesê.

Hy het nie enige name van leiers genoem wat kandidate vir die voorstel kan wees nie.

Dit word algemeen aanvaar dat Robert Mugabe en sy regime gemotiveer word om aan mag vas te klou omdat hulle vervolging vir misdade teen die mensdom vrees wat kan teruggaan tot die slagting van 20 000 Matabeles tussen 1982 en 1985.

Dit is ook 'n kwessie wat 'n vredesooreenkoms in Oeganda belemmer.

Die leier van die Lord's Resistance Army, Joseph Kony, is traag om 'n ooreenkoms te teken omdat hy vervolging vrees agv seksuele misdrywe teen vroue en dogters asook die opleiding van kindersoldate.

game uk liveФильчаков прокурор