Die twee Thint maatskappye – Thint Holding (South Africa) Pty Ltd en Thint (Pty) Ltd het elk een aanklag van afpersing, twee van korrupsie en een van geldwassery in die gesig gestaar in die saak waarin hulle daarvan aangekla is dat hulle omkoopgeld aan Zuma betaal het in ruil vir beskerming teen beweerde onreëlmatighede in die multi-miljardwapentransaksie.
Die onttrekking van die aanklagte volg op die verwerping van aanklagte teen Zuma deur regter Chris Nicholson van Pietermaritzburg se Hooggeregshof verlede maand omdat Zuma nie geleentheid gegun is om voorstelle aan die NVG te maak toe dit besluit het om vir die tweede keer aanklagte teen hom aanhangig te maak nie. Die NVG het verlede week 'n aansoek om appèl teen Nicholson se beslissing gedoen.
