Zuma ontken bewerings van buitelandse steun

Image

Jacob Zuma

Die adjunkpresident van die ANC, Jacob Zuma, het deur middel van sy regsverteenwoordiger, Mike Hulley, gereageer op bewerings dat hy geldelike steun van Angolese en Libiese leiers ontvang het ten einde vir president Thabo Mbeki uit die stoel te lig. Volgens Zuma is die bewerings deel van ’n poging om hom te diskrediteer en hy hoop dat die gereg die skuldiges sal vind.

Die Sunday Independent het gister verwys na ’n “uiters geheime” verslag in hulle besit, waarin die bewerings vervat word.

Zuma voer tans ’n veldtog om Mbeki as ANC-voorsitter te vervang ter voorbereiding van die party se nasionale konferensie wat in Desember vanjaar plaasvind.

Minister Ronnie Kasrils het reeds ontken dat die verslag deur die Geheime Diens of Nasionale Intelligensie-agentskap opgestel is. Volgens hom is daar “duister elemente“ wat die huidige politieke klimaat in die land tot hulle voordeel probeer gebruik.

Die “uiters geheime“ verslag waarna die pers verwys, is op 7 Mei anoniem na Cosatu gefaks. Die vakbond het die Nasionale Vervolgingsgesag versoek om die oorsprong van die dokument te ondersoek.

City Press het met anonieme intelligensie-beamptes gepraat wat glo die verslag is opgestel deur ’n verregse faksie wat bande het met buitelandse intelligensie-organisasies.

Polisiebeamptes het verlede week gemeen dat vroeëre bewerings van ’n sluipmoordkomplot teen Zuma ongegrond is en dat hulle beplan om persone in Zuma se entourage hieroor te vervolg. Volgens beamptes van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid was dit alles net ’n poging om meer publisiteit vir Zuma te genereer.

тамбов жидкоетопкарго отзыв