"Geen ooreenkoms. Geen uitgang," het een plakkaat gelui. Nog een het verklaar: "Zimbabwe is honger. Ons wil vandag 'n kabinet hê." In Bulawayo het die organiseerders van 'n betoging deur 'n vrouegroep gesê dat die polisie twee van hul leiers in hegtenis geneem het en die ander betogers uiteengejaag het deur hulle met stokke te slaan.
'n Woordvoerder vir die nasionale polisiediens het nie op versoeke om kommentaar op die voorval in Zimbabwe se naasgrootste stad, Bulawayo, gereageer nie.
Die betogers het 'n verklaring van die "Vroue van Zimbabwe staan op"-beweging by hulle gehad waarin politici van leë beloftes sedert die ooreenkoms van 15 September beskuldig word.
"Hoeveel meer Zimbabwiërs moet sterf voor u optree?" het die verklaring gelui. "Dié is 'n nasionale ramp en ons eis kos vir alle Zimbabwiërs nou."
Die VN beraam dat 45 persent van Zimbabwe se bevolking, of 5,1 miljoen mense, voedselhulp teen vroeg in 2009 nodig sal hê.
Die vrouegroep het gesê dat terwyl omtrent 200 van sy lede buite regeringskantore gewag het op amptenare om hulle te woord te kom staan, het die onluspolisie aangekom en die leidsters Jenni Williams en Magodonga Mahlangu in hegtenis geneem en die ander betogers met geweld uitmekaar gejaag.
Die vrouegroep het gesê dat ten minste een betoger agterna mediese sorg nodig gehad het.
Die polisie onderdruk gereeld betogings deur groepe wat krities teenoor die regering staan. Williams en Mahlangu is vir vyf weke tronk toe gestuur vanjaar ná hul arrestasie tydens 'n vreedsame betoging in die hoofstad.
