Zimbabwiese onderhandelaars het Woensdag aangesluit by 'n vergadering wat haastig in Suid-Afrika gereël is in 'n poging om seker te maak dat 'n regering van nasionale eenheid vandeesmaand gevorm word.
Partybeamptes het gesê onderhandelaars is Dinsdag na Suid-Afrika ontbied, nadat die hoofopposisie gekla het dat president Robert Mugabe se party die kanse op magsdeling wat sedert September 'n dooiepunt bereik het, in gevaar stel.
Verlede week het streeksleiers Mugabe se Zanu-PF en die MDC onder druk geplaas om te begin om hulle ooreenkoms in die werklikheid om te skakel deur 'n konstitusionele verandering aan te bring en 'n eersteministerspos te skep. Maar teen Woensdag het dit geblyk dat daar geen stemming gaan wees nie en dat niks voor volgende week sal gebeur nie.
Die MDC-leier, Morgan Tsvangirai, sal die eerste minister wees en Mugabe, wat aan bewind is sedert onafhanklikheid van Brittanje in 1980, sal die president van die regering van nasionale eenheid bly.
Die streeksleiers, wat as die SAOG ontmoet het, het gesê Tsvangirai behoort teen die 11de Februarie ingesweer te word en die res van die kabinet op die 13de Februarie.
Suid-Afrika se presidensiële woordvoerder, Thabo Masebe, het gesê die onderhandelaars is Woensdag na Suid-Afrika ontbied "om seker te maak dat alles in plek is om die tydsbeperkinge wat die SAOG gestel het na te kom."
Suid-Afrika se president, Kgalema Motlanthe, is die huidige voorsitter van die SAOG en voormalige president Thabo Mbeki was die onderhandelaar tussen die Zimbabwe-faksies.
