Marida Fitzpatrick van Beeld ryg al weer derms uit oor “wit bevoorregting” in ‘n artikel met die titel: ‘Ja, ek is bevoorreg omdat ek wit is’. Ek is die hoof van ‘n privaatskool vir swart leerlinge, bevoorregte leerlinge. Ek kom elke oggend skool toe en moet dan tussen die Mercedes, BMWs, Fortuners, Prados, Lexusse, ens deurry om by die skoolhek in te kom. Al die mammas met die Guess, Polo,Prada handsakke en Gucci, Louis V, en Jimmy Choo skoene kyk my bejammerend aan waar ek vanuit my Fordjie vrolik vir hulle waai.
Tot van my matriekleerlinge ry beter karre as ek. Maak dit van my bevoorreg en hulle onbevoorreg? Sekerlik nie. Ek is in hulle oë brandarm, ek het nie ‘n staatsdienskontrak nie, ek het nie ‘n besigheid wat nie belasting betaal nie, ek kan nie elke aand uiteet in Crawdaddy’s of Spur nie.
Ek het gaan onderwys studeer omdat my weduwee ma nie geld gehad het dat ek joernalistiek kon gaan studeer nie. Ek moes my beurs terugwerk. Gelukkig was ek in presies die professie wat vir my bedoel was. Ek het destyds dieselfde werk gedoen as ‘n mansonderwyser, maar ek het minder geld gekry, want ek was ‘n tweedeklas burger.
Die ouers kry my bitter jammer as hulle uitvind dat ek net een kind het, “Shame, you are very poor.” Hoe sê ek vir hulle dat ek nie meer as een kind kon bekostig nie?
Kenmerkend van my ouers, wat kan bekostig om duisende rande per maand skoolgeld te betaal, het hulle gewoonlik twee of drie kinders, nie ses tot twaalf nie.
Hoe sê ons vir ons medelandsburgers as hulle net sal ophou om onbeheerst aan te teel sal daar vir ons almal werk, skole, hospitale, huise, universiteite, klinieke, ens. wees. As die regering eerder ‘dole’ sal instel soos die Engelse sal dit baie beter gaan met ons, dan moedig ons nie mense aan om terwille van die misrabele kinderpensioen aan te hou aanteel nie.
Ek weet nie in watter deel van die land jy beweeg nie, maar ons skool stuur jaarliks 60-80 Graad 12’s na universiteite waar sowat (volgens ons statistiek) 80% klaarmaak met hulle tersiêre studies. Die goed geleerde swart bevolking groei met rasse skrede. Dalk is daar nog ‘n paar goeie/beter joernaliste in die wording.
Ek is behoorlik moeg dat ons alewig moet jammer, jammer, jammer sê. Ek het in 1994 ja gestem en daarmee het ek my deel gedoen vir die onregverdigheid wat in ons land geheers het.
Dan werk ek elke dag daaraan om goed geskoolde Graad 12’s met beurse na goeie universiteite te kan stuur. Miskien moet jy na die ander kant van die munt kyk, dalk is die man by die hek jammer vir jou. Jy het so min in die lewe, jy sit heeldag in die kantoor en werk soos ‘n slaaf om jou huis, Yaris, kinders se skoolgeld te betaal – jy leef nie so lekker onbesorgd soos hy nie. En soos Chris Tus sê, dalk kyk hy na jou en dink: “Ag nee, sy is te maer, sy sal nie ‘n goeie vrou wees nie, sy kan nie eens kook nie.”
- Thea Gerber
